Dié week is die suksesvolste rolprentreeks van alle tye terug met sy 24ste aflewering, Spectre (13G).

Daniel Craig is vir die vierde keer in die tuig as die Britse superspioen James Bond, wat dié keer tydens ’n sending in Rome die bestaan van ’n bose geheime organisasie, Spectre, oopvlek. Terug in Londen bevraagteken die nuwe hoof van nasionale veiligheid (Andrew Scott van Pride) Bond en MI6 se waarde en verhinder 007 om Spectre verder te ondersoek. Met behulp van Moneypenny (Naomie Harris van 28 Days Later) en Q (Ben Whishaw van Cloud Atlas) begin Bond dan sy eie geheime ondersoek om die hoof van Spectre (Christoph Waltz van Inglourious Basterds) te probeer vastrek.

Die meeste resensente dink die fliek is goed. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici toeken aan flieks bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 64 persent. Hulle bevind: “Spectre bring Daniel Craig se herinterpretasie van Bond nader aan die glorieryke, aksiegedrewe skouspel van ouds, al maak dit ietwat te veel staat op die bestaande 007-resep.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Kim Newman is baie meer opgetrek met die fliek en gee dit vier sterre. “Sekere aspekte is te resepmatig: die inleiding is goed, maar die liedjie is ’n flop; Dave Bautista (Guardians of the Galaxy) se skurk herinner te veel aan Oddjob en die vroue is te passief.

Maar al is dié rolprent minder bevredigend as Skyfall (2012) bevat dit tog aksietonele wat onder Bond se beste tel. Dis lekker om weer die bose Spectre in die storie te hê asook ’n nare skurk wat ’n mens gou-gou van Mike Myers se parodie, Dr Evil, laat vergeet. Ralph Fiennes (Voldermort in die Harry Potter-flieks) het ook die moeilike taak om die mees geliefde M (Judi Dench) op te volg, maar hy’s so oortuigend, hy kan sommer sy eie reeks kry.”

As jy lus is vir iets ernstiger is daar Testament of Youth (10-12O).

In hierdie biografiese drama speel die Sweedse aktrise Alicia Vikander (The Man from U.N.C.L.E.), wat goed op pad is om Hollywood se nuutste liefling te word, Vera Brittain, ’n jong Britse vrou wat tydens die Eerste Wêreldoorlog volwassenheid bereik en later ’n verpleegster word.

Deur middel van haar vriendskap met Victor (Colin Morgan van Merlin), haar verhouding met Roland (Kit Harington van Game of Thrones) en haar band met haar broer, Edward (Taron Egerton van Kingsman: The Secret Service), wat al drie na die front gestuur word, ervaar sy die tragiese impak van hierdie oorlog.

Die meeste kritici dink dis ’n baie goeie fliek. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde manier as Rotten Tomatoes werk, gee dit 76 uit 100. By laasgenoemde kry dit 82 persent en die konsensus is: “Testament of Youth bevat goeie toneelspel en is pragtig verfilm, wat dit ’n verrykende, dog nie juis avontuurlike ervaring nie vir aanhangers van Britse historiese dramas maak.”

Simon Kinnear van die Britse fliektydskrif Total Film gee dit vier sterre. “Hierdie is ’n ongewone blik op die Eerste Wêreldoorlog: die loopgrawe word net op ’n abstrakte manier gesien en die fokus is eerder op die vroue wat agtergelaat word. Vikander bring vars emosionele gewigtigheid aan die oorbekende scenario van die Eerste Wêreldoorlog-smart, wat verseker dat hierdie fliek meestal die slaggate van vaal, eerbiedige geskiedkundige drama vermy.”

Die ander drie flieks wat hierdie week op die kringloop verskyn, het nie so goed gevaar by die resensente nie.

Chris Evans (Captain America) probeer bewys daar steek meer in hom met Before We Go (10-12OT), sy eerste fliek as regisseur.

Hy speel Nick, ’n straatmusikant wat een aand sien hoe ’n jong vrou, Brooke (Alice Eve van Star Trek into Darkness), die laaste trein in New York se Grand Central-stasie mis. Sy lyk bewoë en Nick knoop ’n geselsie met haar aan om te hoor of hy kan help. So begin ’n aand van romanse waartydens hulle mekaar en ook hulself beter leer ken.

Dit lyk nie asof die kritici juis ooghare vir Chris se poging het nie. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar sover gee hulle dit net 25 persent gegrond op 24 resensies.

David Ehrlich van Time Out New York gee die fliek twee sterre.

“Kyk, daar is flieks wat van jou verwag om jou ongeloof in die gebeure opsy te skuif en dan is daar dié soort soetsappige romantiese drama wat so ver verwyder is van die werklikheid dat dit van jou verwag om te glo dat Captain America ’n straatmusikant met ’n gebroke hart is wat op ’n treinstasie speel. Evans en Eve is altyd innemend, maar Brooke het regte probleme wat nie oorkom gaan word deur ’n storie vol vals note en oppervlakkige drama nie.”

In die riller Return to Sender (16TGS) speel Rosamund Pike (Gone Girl) ’n eensame verpleegster, Miranda, wat op ’n toe-oë-afspraak gaan.

Sy dink die man (Shiloh Fernandez van Red Riding Hood) wat by haar huis opdaag is haar afspraak en nooi hom binne, waar hy haar wreed aanrand. Die man word tronk toe gestuur, maar dan begin Miranda vir hom kuier en wanneer hy vrygelaat word, nooi sy hom om by haar te kom woon. Wat probeer sy bereik?

Ook dié fliek het onder die resensente deurgeloop. Metacritic gee dit 23 uit 100 en hoewel Rotten Tomatoes nog nie konsensus bereik nie, gee hulle dit sover 13 persent gegrond op 30 resensies.

Mike McCahill van The Telegraph gee dit twee sterre. “Hierdie wraakverhaal is soos ’n siniese, platvloerse weergawe van Gone Girl (2014). Return to Sender is voor Rosamund se groot treffer gemaak en wat vreemd is, is dat dit soos ’n growwe oefenlopie vir daardie fliek voel. Pike verdien ’n rol wat ons nie net aanmoedig om haar te verdink of te verpes nie. Om dit te kry, sal sy dalk moet wegkom van Amerikaanse popkultuur en die ingewortelde vrouehaat wat dit bevat. Dié is net een groot gemors.”

As jy van die eiesoortige Bill Murray (Groundhog Day) hou, sal jy dalk Rock the Kasbah (13T) geniet.

Bill speel Richie Lanz, ’n oor-die-muur musiekpromotor wat sy laaste oorblywende kliënt, Ronnie (Zooey Deschanel van New Girl), oortuig om in Afganistan te gaan optree. Maar die stres van in ’n oorloggeteisterde streek te wees, is te veel vir Ronnie en sy los Richie gestrand sonder geld op die lughawe in Kaboel.

Twee Amerikaanse wapenhandelaars (Danny McBride en Scott Caan) kom tot sy redding in ruil vir ’n transaksie wat hy vir hulle moet beklink, en wanneer Richie een aand by die huis van ’n plaaslike hoofman oorslaap, nader dié se talentvolle dogter (Leem Lubany) hom met die hoop dat hy haar ’n ster kan maak. Sal Richie dit kan regkry ten spyte van haar afkeurende pa se toorn?

Die kritici dink die fliek is swak. Rotten Tomatoes gee dit slegs agt present en bevind: “Kykers wat ’n fliek verwag wat dit regkry om doeltreffend gebruik te maak van Bill Murray se slag met innemende sukkelaars, gaan teleurgesteld wees.”

Sandy Schaefer van screenrant.com gee dit net een en ’n halwe ster en beskryf dit as “ ’n lui komedie en oudmodiese politieke klugspel wat Bill se komiese talente vermors”.

- Sandra Visser