.

n Man soos My Pa (13TG) handel oor ’n pa (Albert Maritz van Torings) wat weens sy alkoholisme sy seun, Juan (Greg Kriek van Mooirivier), van hom vervreem het.

Juan het so gou hy kon die huis verlaat en woon nou in Londen, maar gaan terug toe hy uitvind sy ma, Nakkie (Sandra Prinsloo), is sterwend aan kanker. Nakkie se laaste wens is dat Juan en sy pa die ou Volvo saam regmaak wat al jare in die garage staan. So begin pa en seun weer mekaar vind en is daar terugflitse na Juan se kinderdae met Neels van Jaarsveld (Binnelanders) as sy pa en Antoinette Louw (Die Laaste Tango) as sy ma.

Laetitia Pople van Die Burger gee dit drie sterre. Sy is baie beïndruk met die akteurs se vermoë om die tydspronge geloofwaardig te maak: “Die toneelspel oor generasies is naatloos asof die akteurs mekaar aflosstokkies aangee. ’n Man soos My Pa bring ’n boodskap van hoop en vergifnis sonder om als rooskleurig en blinkgepoets te maak.”

Die vierde en laaste hoofstuk in The Hunger Games sage is hier. In The Hunger Games: Mockingjay – Part 2 (13G) maak die rebelle gereed om die diktator van Panem, pres. Snow (Donald Sutherland van MASH), se regering omver te werp.

Katniss (Jennifer Lawrence van Silver Linings Playbook), wat die simbool van die rebellie geword het, word beveel om buite gevaar te bly. Maar sy soek wraak omdat Snow haar vriend Peeta (Josh Hutcherson van Bridge to Terabithia) gemartel en gebreinspoel het en besluit om op haar eie geheime missie te gaan om Snow tereg te stel.

Die meeste resensente dink die fliek is goed. By die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente toeken aan flieks bymekaartel en ’n gemiddeld uitwerk, gee dit 73 persent. Die konsensus is: “Met die onwrikbaar stroewe Mockingjay – Part 2 kom The Hunger Games tot ’n opwindende, aangrypende en oor die algemeen bevredigende slot.”

Helen O’Hara van die Britse fliektydskrif Empire gee dit vier sterre. “As ’n mens moet fout vind met iets is dit dat die fliek te getrou aan die boek is en partykeer vasval in details terwyl Katniss voortsukkel. Maar die epiese omvang, indrukwekkende ontwerp en onverskrokke toneelspel maak dié ’n boeiende finale.”

Die dokumentêr He Named Me Malala (OG) fokus op die Pakistanse tiener Malala Yousafzai, wat in 2012 deur die Taliban in die kop geskiet is omdat sy ’n kampvegter is vir vroue se reg tot opvoeding.

Malala het oorleef, die Verenigde Nasies toegespreek en die Nobel-prys vir vrede ontvang.

Die meeste kritici dink die fliek is goed. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde manier as Rotten Tomatoes werk, gee dit 61 uit 100 en by laasgenoemde kry dit 71 persent. Hulle bevind: “He Named Me Malala plaas die kollig op ’n verdienstelike mens, maar kort die soort fokus wat haar verhaal verdien.”

Mark Kermode van die Britse koerant The Observer is egter baie beïndruk en gee dit vier sterre. Hy beskryf dit as besielend, inspirerend en aangrypend.

Met die gruwelprent Maggie (13GrG) probeer die aksie-ikoon Arnold Schwarzenegger (The Terminator) bewys daar is meer aan hom as net spiere en kwinkslae.

Hier blaas Arnie nie zombies met ’n reusegeweer weg nie; hy moet worstel met die feit dat sy dogter, Maggie (Abigail Breslin van Little Miss Sunshine), net ’n maand oor het voor sy as gevolg van ’n zombiebyt in ’n monster verander. Pa moet hulpeloos toekyk terwyl hy sy kind verloor.

Die meeste resensente dink die fliek is oukei. Rotten Tomatoes gee dit 54 persent en die konsensus is: “Maggie slinger soms lomp rond, maar word deels gered deur sterk toneelspel en ’n onverwagte diepsinnige stemming.”

Paul Bradshaw van die Britse filmtydskrif Total Film gee dit drie sterre. “Dis nie maklik om Arnold Schwarzenegger te wees nie. Hou by aksie en jy word vertel jy’s te oud daarvoor. Probeer iets meer volwasse en almal wag die hele fliek vir jou om ’n kwinkslag te laat val. Dis die probleem met Maggie, ’n dapper maar uiters stadig bewegende zombiedrama.

“Dis die gewigtigste en mees beheerste rol wat Arnie nog aangepak het, en hy verrig ’n uitstekende werk. Ongelukkig is dit moeilik om hom as ’n gewone ou te sien. Breslin doen ook van haar beste werk, maar sy word letterlik en figuurlik deur Arnie oorskadu. Dis ’n hartseer, neerdrukkende drama wat as gruwel vermom is en bewys Schwarzenegger kan toneelspeel as hy wil, al lyk dit asof hy eerder goed wil gaan opblaas.”

As jy lus vir ’n fliek wat nie veeleisend is nie, kan jy No Escape (16G) probeer.

Owen Wilson (Midnight in Paris) speel ’n Amerikaner, Jack, wat sy gesin na ’n Suidoos-Asiatiese land verskuif vir ’n werksgeleentheid. Maar hulle het skaars hulle tasse in hul hotelkamer uitgepak of onluste breek uit. Jack moet probeer om sy vrou (Lake Bell van No Strings Attached) en twee dogtertjies uit die oorlogsone te kry met behulp van ’n tawwe Britse toeris (die vorige James Bond, Pierce Brosnan).

Die oorgrote meerderheid kritici dink die fliek is teleurstellend. By Metacritic kry dit 38 uit 100 en Rotten Tomatoes gee dit 46 persent. Hulle bevind: “No Escape se talentvolle rolverdeling, spanningsvolle oomblikke en opwinding maak ongelukkig nie op vir die eendimensionele karakters en ongemaklik oningeligte wêreldbeskouing nie.”

Henry Fitzherbert van die express.co.uk is egter meer vergewensgesind en gee dit drie sterre. “Die fliek voldoen aan die deursnee-Amerikaner se vrese en vooroordele oor ander lande as agterlike, onstabiele, anti-Westerse hel op aarde. Die spanning word egter goed oorgedra en jou belangstelling word geprikkel deur die akteurs. Grapjas Wilson is goed in ’n seldsame ernstige rol.

“Maar hoe erger die geweld raak, hoe onsmaakliker voel dit om derdewêreldprobleme vir opwinding uit te buit. Kykers wat egter ’n fliek soek wat herinner aan die volop aksierillers van die 1980’s en 1990’s behoort No Escape vermaaklik te vind.”

- Sandra Visser