(13G).

Die Franse regisseur Jean-Jacques Annaud het reeds twee uitstekende flieks in hierdie genre agter sy naam: The Bear (1988) en Two Brothers (2004), wat oor twee tierwelpies handel.

Wolf Totem is gegrond op ’n outobiografiese roman deur die Chinese skrywer Lü Jiamin en speel af tydens die Chinese kulturele revolusie in die 1960’s toe die regering ontslae wou raak van tradisionele elemente van Chinese kultuur en kommunistiese ideale wou vestig. ’n Student, Chen Zhen (Feng Shaofeng), word na Mongolië gestuur om die nomades daar op te voed, maar kom agter hulle het meer wysheid om met hom te deel as hy met hulle. Hy leer ook hoe hulle saamleef met ’n plaaslike trop wolwe en toe hy ’n agtergelate welpie vind, neem hy hom aan.

Die meeste resensente dink dis ’n baie goeie fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente toeken aan flieks en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 70 persent. Hulle bevind: “As ’n visuele ervaring spog Wolf Totem met genoeg opwinding om te vergoed vir die beduidende veranderings wat in die verhaal gemaak is om die boek vir die silwerdoek aan te pas.”

Tirdad Derakhshani van die Amerikaanse koerant Philadelphia Inquirer gee die rolprent drie uit vier sterre. “Wolf Totem het van die opwindendste, mees verbysterende natuurtonele wat ek al gesien het. Annaud se film verwater die roman se politieke boodskap en die karakterisering neig om op stereotipes te steun. Tog betower dit die kyker so geheel en al dat ’n mens hierdie swakpunte kan vergewe.”

Die biografiese drama The Program (13TD) is ’n blik op die lewe van die berugte fietsryer Lance Armstrong (Ben Foster van The Mechanic) en hoe ’n Ierse sportverslaggewer, David Walsh (Chris O’Dowd van Bridesmaids), se vermoede dat Armstrong onwettige opkikkers gebruik, daarnatoe lei dat hy begin ondersoek instel en eindelik die kampioen se skokkende geheim ontbloot.

Die kritici is oor die algemeen nie vreeslik beïndruk nie. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 59 persent gegrond op 32 resensies. Die webtuiste Metacritic, wat dieselfde as eersgenoemde werk, gee dit 61uit 100.

Die Britse fliektydskrif Total Film se Andrew Lowry is veel positiewer en gee dit vier sterre. “Dis ’n gewigtige onderwerp vir ’n fliek en ’n vooraanstaande Britse span – die regisseur, Stephen Frears (Philomena, The Queen), en draaiboekskrywer, John Hodge (Shallow Grave, Trainspotting) – kwyt hulle geesdriftig van hulle taak. Foster se vertolking van Armstrong is uitstekend, maar ongelukkig sien ’n mens al die gebeure as buitestaander en kry nooit enige insig in sy psige nie, maar dis ’n nietigheid. Dis ’n dringende, intelligente en aangrypende rolprent dié.”

Nog ’n literêre verwerking wat vandeesweek uitgereik word, is die liefdesdrama Brooklyn (10-12OS), gegrond op die gelyknamige roman deur die Ierse skrywer Colm Tóibín.

Dit handel oor Eilis (Saoirse Ronan van The Lovely Bones), ’n jong vrou wat in die 1950’s van Ierland na Amerika emigreer en verlief raak op die Italiaans-Amerikaner Tony (Emory Cohen). Maar net toe sy voel haar nuwe lewe kom op dreef, word sy teruggeroep Ierland toe nadat haar suster, Rose (Fiona Glascott), ernstig siek geword het. Daar ontmoet sy die hubare Jim (Domhnall Gleeson van About Time) en kom dan voor ’n moeilike keuse te staan.

Die resensente is gaande oor dié fliek. By Metacritic kry dit 87 uit 100, en Rotten Tomatoes gee dit 99 persent! Hulle bevind: “Brooklyn steun op uitstekende vertolkings deur Saoirse en Emory, en is ’n diep historiese drama wat sowel die hartsnare roer as die verstand bevredig.”

Henry Fitzherbert van Brittanje se Daily Express is nie heeltemal so oorstelp nie en gee dit drie sterre. “Ek het die fliek ewe veel geniet as die roman waarop dit gegrond is; dis te sê taamlik. Dis ’n elegante, sensitiewe verhaal wat met sjarme en afronding vir die silwerdoek verwerk is. Die probleem is net, dis te rustig en gedemp en bevat geen verassings of spanning nie; daarom is dit nie juis roerend nie, maar ek is seker liefhebbers van die roman sal tevrede voel.”

Die veteraanaktrise Lily Tomlin (I Heart Huckabees), veral bekend vir haar komiese werk, speel die titelkarakter in Grandma (16T), ’n komediedrama oor ’n hardekwas, oor-die-muur-digteres wat instem om haar swanger tiener-kleinkind (Julia Garner) te help om geld bymekaar te maak vir ’n aborsie.

Die kritici dink dis ’n voortreflike fliek. Rotten Tomatoes gee dit 92 persent en die konsensus is: “Grandma spog met ’n uitmuntende vertolking deur Lily en kragtige en empatieke werk deur die skrywer-regisseur, Paul Weitz (About a Boy).”

Simon Houpt van Kanada se The Globe and Mail gee dit drie uit vier sterre. “Tomlin se vertolking verdien ’n Oscar,” skryf hy. “En Paul skep ’n gulhartige, delikate werk waarin almal skitter.”

Die romantiese komedie How To Make Love Like an Englishman (13STN) handel oor ’n professor in die digkuns (die vorige James Bond, Pierce Brosnan) van Cambridge wat ’n welgestelde Amerikaanse student (Jessica Alba van Sin City) swanger maak, teësinnig met haar trou en na Malibu verhuis. Hy word ’n toegewyde pa, maar raak heimlik verlief op sy skoonsuster (Salma Hayek van Frida).

Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit ’n skamele vier persent gegrond op 24 resensies.

Die Britse fliektydskrif Empire se Angie Errigo gee dit twee sterre. “Ons almal hou van Brosnan en ’n mens wil regtig nie teen ouer mense diskrimineer nie, maar vir hierdie fliek om enigsins romanties, snaaks of selfs net draaglik te wees, moes die manlike hoofrol – en al die ander rolle ook – eintlik deur iemand baie jonger vertolk gewees het. Om alles te kroon word daar van ons verwag om te glo dat Malcolm McDowell (A Clockwork Orange) Brosnan se pa is, al is hy net 10 jaar ouer. Dis eintlik net hartseer.”

Die jongspan behoort Blinky Bill (O) te geniet, ’n rekenaaranimasie-weergawe van die koala-karaktertjie wat die Australiese skrywer Dorothy Wall in 1933 geskep het. Blinky (Ryan Kwanten se stem) gaan op ’n avontuur in die Australiese boendoes om sy pa te vind.

Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 80 persent gegrond op vyf resensies. Luke Buckmaster van Brittanje se The Guardian gee dit drie sterre. “Die fliek se pogings om vreeslik Australies te wees – dit bevat hope Australiese uitdrukkings en verwysings na die land se diere, bekendste liedjies en geboue soos die Sydney-operahuis – sal dalk jong kinders van ander lande laat kopkrap, maar daar is genoeg pret en oulike diertjies dat hulle dit tog sal geniet.”

Die erotiese riller The Loft (16TSGD) wentel om vyf ryk, getroude mans, gespeel deur Karl Urban (Dredd), Wentworth Miller (Prison Break), James Marsden (X-Men), Eric Stonestreet (Modern Family) en Matthias Schoenaerts (The Drop), wat elkeen ’n sleutel het tot ’n luuksewoonstel waarheen hulle hul minnares kan neem. Maar dinge ontaard in ’n nagmerrie toe ’n onbekende vrou se lyk in die woonstel gevind word en hulle mekaar begin verdink.

Hoekom dié vyf goeie en bekende akteurs besluit het dat hierdie gegewens vir hulle belowend klink, sal net hul agente weet. Metacritic gee dit 24 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 11 persent. Hulle bevind: “Net kykers wat die minste van hul vermaak vereis, sal dit geniet. Die karakters is almal onaangenaam en die storie smerig.”

Katie Rife van avclub.com gee dit ’n C-. “Hierdie fliek kan nie besluit wat dit wil wees nie. Dis ’n manlike fantasie, maar ook ’n verhaal wat as waarskuwing dien. Dis ’n smerige konsep, maar die uitbeelding daarvan is beskroomd. Dit straf die mans vir hul oortredings, maar laat hulle daarmee wegkom. En, die ergste van alles, dit dring daarop aan dat hierdie ouens eintlik diep in hul binneste ordentlik is, ten spyte daarvan dat hulle gedrag dit telkens weerspreek.”

– Sandra Visser