Die fantasieavontuur Pan (7-9OG) vertel die verhaal van hoe dramaturg J.M. Barrie se geliefde karakter Peter Pan hom in Neverland bevind het. Die storie begin waar 12-jarige Peter (Levi Miller) ’n miserabele bestaan in ’n weeshuis voer. Dan word hy deur seerowers onder leiding van die bose Blackbeard (Hugh Jackman van The Wolverine) ontvoer en na die eiland Neverland geneem waar kinders soos slawe moet werk. Peter ontmoet James Hook (Garret Hedlund van Tron: Legacy) en die prinses Tiger Lily (Rooney Mara van The Girl with the Dragon Tattoo) en saam probeer hulle Blackbeard so bose heerskappy beëindig. Die meeste kritici is nie juis beïndruk nie. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit net 33 persent. Hulle bevind: “Hierdie voorvolg oor klassieke karakters bevat ’n paar betowerende oomblikke, maar dis nie genoeg om te vergoed vir die afgejaagde intrige en skril aksietonele nie.”

"Vroeg reeds in die fliek voel dinge nie heeltemal reg nie."

John Lasser van ign.com gee dit 4,5 uit 10. “Verhale wat die wêreld van Peter Pan verbreed is nie juis nuut nie en dit sal niemand verbaas dat sommige slaag en ander nie,” skryf hy. “(Regisseur) Joe Wright (Atonement, Pride & Prejudice) se oorsprongstorie val beslis in laasgenoemde kategorie. Vroeg reeds in die fliek voel dinge nie heeltemal reg nie. Daar is ’n paar interessante ontwikkelinge, maar te min tyd word daaraan bestee om elkeen behoorlik te ondersoek. Die klimaks pas ook nie juis by die res van die storie nie en is daarop uit op opwinding te skep eerder as om ’n geskikte einde vir die voorafgaande verhaal te wees. Waar die fliek slaag is in die towerwêreld wat geskep word en die genotvolle musiek, maar die toneelspel is wisselvallig. Jackman het pret, maar Hedlund is heeltemal te tong in die kies.”

As jy lus is vir ernstiger vermaak is daar Sicario (16T), ’n misdaadriller met Emily Blunt (Edge of Tomorrow) in die hoofrol as Kate Macer, ’n idealistiese en geesdriftige FBI-agent wat daarin spesialiseer om ontvoeringsituasies te ontlont. Die VSA is besig om die dwelmoorlog teen die Mexikaanse kartels te verloor en Macer moet saam met twee verdagte agente (Josh Brolin van No Country for Old Men en Benicio Del Toro van The Usual Suspects) werk om die dwelmhandelaars se netwerk oop te vlek. Soos Macer ál dieper betrokke raak, begin sy twyfel aan wie nou eintlik reg en verkeerd is.

Die resensente dink dis ’n uitstekende fliek. Die webtuiste Metacritic, was soos Rotten Tomatoes werk, gee dit 81 uit 100, en by laasgenoemde kry dit 93 persent. Hulle bevind: “Sicario (Spaans vir sluipmoordenaar) is ’n spanningsvolle riller wat oor baie meer gaan as net aksietonele. Blunt en Del Toro is uitstekend.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Dan Jolin gee dit vyf sterre. “As daar enige geregtigheid is sal Sicario ’n hele paar Oscars verower,” skryf hy. “Del Toro en Blunt is uitstaande, maar so ook regisseur Denis Villeneuve (Prisoners) en kinematograaf Roger Deakins. ’n Kragtige riller met asemrowende beelde. Een van die jaar se beste flieks.”

The Walk (10-12O) is ’n biografiese prent oor Philippe Petit (Joseph Gordon-Levitt van Inception) wat in 1974 ’n span saamgestel het om hom sy droom te help bewaarheid: om tussen die twee torings van die World Trade Center op ’n spandraad te loop.

Die kritici dink dis ’n prysenswaardige rolprent. Rotten Tomatoes gee dit 87 persent en die konsensus is: “The Walk probeer ’n moeilike balans skep tussen opwindende beelde en feitgegronde drama, en soos Petit, handhaaf die fliek hierdie balans met indrukwekkende styl.”
Die Britse fliektydskrif Total Film gee dit drie sterre.

Die Britse fliektydskrif Total Film se Josh Winning gee dit drie sterre. “Omdat hierdie fliek op die hakke volg van die Oscar-bekroonde dokumentêr oor dieselfde onderwerp, Man on Wire (2008), het jy ’n knaende gevoel van déjà vu terwyl jy dit kyk,” skryf hy. “(Regisseur) Robert Zemeckis (Back to the Future, Flight) dwing beslis sy stempel af op Petit se storie deur sy gebruik van spesiale effekte en 3D: hy plaas jou bewend saam met Petit op die draad in die fliek se superieure tweede helfte. Ongelukkig wil Zemeckis te veel oor Petit se agtergrond in die eerste helfte insluit en dis net te soetsappig. Die storie is net opwindend wanneer Gordon-Levitt op die spandraad tree. Tog, ten spyte van die windmakerige 3D, is die rolprent ’n roerende huldeblyk aan die World Trade Center.”

Die aksiekomedie American Ultra (16TGD) gaan oor ’n daggarokende supermarkklerk (Jesse Eisenberg van The Social Network) wat uitvind hy’s eintlik ’n geheime agent wat nou deur die Amerikaanse regering geëlimineer moet word. Saam met hom in die avontuur is sy meisie (Kristen Stewart van Twilight), wat ook ’n paar geheime wegsteek.

Die resensente dink die fliek is oukei. Metacritic gee dit 50 uit 100. By Rotten Tomatoes kry dit 45 persent en hulle bevind: “American Ultra het ’n paar interessante idees, maar soos die hoog-in-die-takke held, is die rolprent te aandagafleibaar om sy volle potensiaal te bereik.”

Die gesiene Britse kritikus Mark Kermode van The Guardian gee dit twee sterre. “Hierdie mengsel van The Bourne Identity (2002) en Pineapple Express (2008) beloof om iets opwindends te bied en skram nie weg van geweld nie, maar die humor ontbreek. American Ultra voel soos 17 verskillende flieks wat saam in ’n sak gegooi is en dinge moet uitbaklei. Topher Grace (That ’70s Show) en Connie Britton (Nashwille) is vermaaklik as strydende CIA-agente, maar Project X-regisseur Nima Nourizadeh word verlei deur die aksietonele en gee te min aandag aan die karakters.”

Robert Pattinson het dalk naam gemaak as die hartedief-vampier Edward in Twilight, maar deesdae bewys hy daar steek baie meer in hom. In die ware lewensdrama Life (10-12OTSD) speel hy die ambisieuse fotograaf Dennis Stock wat in 1955 probeer om ’n fotosessie te reël met ’n belowende nuwe akteur, James Dean (Dane DeHaan van The Amazing Spider-Man 2).

Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om konsensus te bereik nie, maar tot dusver gee hulle Life 65 persent gegrond op 31 resensies.

Empire se Nev Pierce gee dit drie sterre. “Die fliek probeer hard om iets betekenisvol te sê, maar is nie so aangrypend soos dit graag wil wees nie. Tog bied dit ’n vermaaklike blik op die begin van die kultuur om bekendes te verafgood, en bevat goeie toneelspel deur DeHaan en Pattinson.”

Die drama Dope (16TD) handel oor die bleeksiel tiener Malcolm (Shameik Moore) wat daarvan droom om Harvard toe te gaan, maar intussen moet probeer oorleef in sy arm buurt in Los Angeles.

Die kritici dink dis ’n voortreflike fliek. Metacritic gee dit 72 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 87 persent. Hulle bevind: “Dope is slim, insiggewende vermaak met ’n verfrissend oorspronklike uitgangspunt. Moore se vertolking kan hom ’n ster maak.”

Kevin Harley van Total Film gee dit vier sterre. “Hierdie tienerfliek vermeng hope energie met politieke krag. Moore het sjarme en is oortuigend.”

The Prophet (O) is ’n animasieprent wat die gedigte van die Libanese skrywer Kahlil Gibran illustreer. Mustafa (Liam Neeson se stem) is ’n digter wat deur sy regering onder huisarres geplaas word omdat hulle voel sy werk stook ’n revolusie. Sy skoonmaker, Kamila (Salma Hayek), se parmantige dogtertjie, Almitra (Quvenzhané Wallis), besoek hom en sy vertellings aan haar vorm die grondslag vir kort tekenprente in verskillende style wat Gibran se werk uitbeeld.

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Rotten Tomatoes gee 69 persent en die konsensus is: “The Prophet is ’n pragtige, opwindende verwerking van ’n klassieke boek, al kan dit nie heeltemal die betowering van die bronteks vasvang nie.”
"Wat die fliek die moeite werd maak, is die animasie."

Molly Eichel van die Amerikaanse koerant Philadelphia Enquirer gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Die intrige is daar om die verhale saam te bind, maar op die ou end is dit eintlik oorbodig. Wat die fliek die moeite werd maak, is die animasie. The Lion King-regisseur Roger Allers het top-illustreerders bymekaargekry om elke verhaal te illustreer. Dis pragtig om na te kyk en animasie-aanhangers (en dié met The Prophet op hul boekrakke) sal dit geniet. Maar diegene wat nie mal is oor die idee van asemrowende animasie nie, kan dié een vermy.”

Die ware lewensdrama Pawn Sacrifice (10-12O) fokus op Bobby Fischer (Tobey Maguire van Spider-Man), die Amerikaanse skaakgenie wat in 1972 teen die Rus Boris Spassky (Liev Schreiber van Ray Donovan) te staan gekom het. Hul kragmeting is as simbolies van die Koue Oorlog tussen Amerika en Rusland gesien.

Die resensente is heel beïndruk. Metacritic gee dit 65 uit 100 en Rotten Tomatoes gee dit 72 persent. Hulle bevind: “Pawn Sacrifice is nog ’n aangrypende fliek om by die lys te voeg van werke wat deur Bobby Fischer geïnspireer is en word geanker deur Maguire se sensitiewe vertolking.”

Brad Wheeler van die Kanadese koerant The Globe and Mail gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Die fliek lyk goed, maar dit speel veilig. Maguire vang goed Fischer se broosheid en paranoia vas en Schreiber is ook oortuigend. Maar aan die einde het jy steeds geen insig in Fischer se karakter nie.”

  • Sandra Visser