Die eerste twee aflewerings (in 1984 en 1991) in die Terminator-reeks is klassieke aksieflieks, en hoewel die derde aflewering (wat in 2003 uitgereik is) vermaaklik was, het dit afgesteek.

Met Terminator Salvation (2009) het die storie ’n nuwe rigting ingeslaan: eerder as om weer ’n robot in tyd terug te stuur om een van die Connor-gesin dood te maak (sodat hulle nie in die toekoms die mensdom kan lei in ’n oorlog teen die robotte nie) het die fliekmakers eindelik vir die kyker meer van dié toekomstige oorlog gewys. Dit het volgens my nuwe lewe in die franchise geblaas, maar die regte tot toekomstige aflewerings is aan ’n ander maatskappy verkoop en hulle het besluit om weer van voor af te begin.

In Terminator Genisys (13G) is dit die jaar 2029 en John Connor (Jason Clarke van Dawn of the Planet of the Apes), die leier van die weerstandsbeweging teen die robotte, stuur sy luitenant, Kyle Reese (Jai Courtney van A Good Day to Die Hard), terug in tyd. Hy moet John se ma, Sarah (Emilia Clarke van Game of Thrones), van ’n robot (Arnold Schwarzenegger) beskerm wat ook teruggestuur is om haar dood te maak en te verseker John word nooit gebore nie. Wanneer Kyle egter in 1984 opdaag en Sarah ontmoet, vind hy uit die tydlyn het heeltemal verander – ’n robot (ook Arnold), wat herprogrammeer is om Sarah te beskerm, het teruggereis in tyd na 1973 en haar voorberei op wat op haar wag. Sarah is nou nie meer ’n naïewe, weerlose kelnerin nie (soos in die oorspronklike fliek), maar ’n geharde vegter.
'Terminator Genisys is vasgevang in ’n deurmekaar mitologie.'

As dit alles vir jou baie deurmekaar klink, hoef jy nie alleen te voel nie. Die meeste resensente voel ook so. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken en ’n gemiddeld uitwerk, gee dit 26 persent. Hulle bevind: “Terminator Genisys is vasgevang in ’n deurmekaar mitologie. Dis basies ’n steierende, flou namaaksel en kort die tematiese diepte, vars idees, intelligensie of visuele opwinding wat hierdie eens magtige franchise bo die res laat uitstyg het.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Dan Jolin gee dit net twee sterre. “Hierdie jongste uitbreiding van die Terminator-handelsmerk begin as ’n ingewikkelde, aandoenlike herverwerking,” skryf hy. “Dis ’n skoot-vir-skoot herskepping van regisseur James Cameron se oorspronklike fliek. Dan verander dit in ’n Back to the Future 2-styl franchise-hervermenging wat veranderings aan die oorspronklike storie maak. Tot op hierdie punt is dit heel skaflik, met hope tong-in-die-kies oomblikke vir aanhangers.

“Maar dan moet die helde in tyd reis van 1984 tot 2017 en van hier af raak die fliek net ál swakker. Dalk sou dit beter gevaar het as die grootste kinkel nie in die lokprent weggegee is nie. Regisseur Alan Taylor hanteer die groot aksietonele op dieselfde kundige wyse as in Thor: The Dark World (2013), maar die draaiboek is ’n aanhoudend verswakkende siklus jaagtonele en belaglike monoloë. Selfs die spesiale effekte se gehalte is gemeng. Terminator 5 is deels herskepping, deels hervermenging en deels opvolgprent, maar hierdie bestanddele skep nie ’n waardige opvolg op James Cameron se oorspronklike flieks nie.”

As jy ontevrede is dat die eerste Magic Mike (2012) te veel gewroeg en op die donker kant van die ontkleedansbedryf gefokus het, sal jy waarskynlik die opvolg, Magic Mike XXL (16T), geniet. Die intelligente regisseur Steven Soderbergh (Traffic!, Erin Brockovich) sê hy’s nou eers klaar met regie en daarom het die assistentregisseur Gregory Jacobs oorgeneem. Drie jaar nadat Mike (Channing Tatum van 22 Jump Street) ophou werk het as ontkleedanser en sy droom bewaarheid het om sy eie meubels te maak, kry hy ’n oproep van sy ou vriend, Tarzan (die stoeier Kevin Nash), wat hom nooi om saam te gaan na Amerika se grootste ontkleedanserbyeenkoms. Mike stem in en hy en sy pelle Tito (Adam Rodriguez van die TV-reeks CSI: Miami), Big Dick Richie (Joe Manganiello van die TV-reeks True Blood), Ken (Matt Bomer van die TV-reeks White Collar) en Tobias (Gabriel Iglesias) onderneem die reis per motor. Twee van die eerste fliek se hoofakteurs is egter afwesig: Matthew McConaughey wat die eksentrieke eienaar van die klub gespeel het en Alex Pettyfer, vir wie Mike in die eerste fliek onder sy vlerk geneem het, maar wat toe die pad byster geraak het.

'Magic Mike XXL het genoeg storie en sjarme om die kyker te vermaak.'

Die meeste kritici dink die fliek is heel goed. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit 60 uit 100. Laasgenoemde gee dit 61 persent en die konsensus is: “Magic Mike XXL het genoeg storie en sjarme om die kyker te vermaak, al is hierdie opvolg nie heeltemal so ’n plesier soos die eerste een nie.”

Die Britse tydskrif Total Film se James Mottram gee dit drie sterre.

“Hierdie opvolgprent lewer wat jy wil hê in ’n fliek oor manlike ontkleedansers: meer vlees, meer maagspiere en meer danse,” skryf hy.

“Soos die beste ontkleedans is daar ’n lang aanloop voor die eerste klere waai. In die eerste uur kuier ons by die pelle. Alles goed en wel, behalwe dat daar – anders as die eerste fliek – nie veel onder die oppervlak van die seunsagtige geselsies is nie. McConaughey en Soderbergh se afwesigheid laat ook ’n groot leemte. Maar Jacobs besef dat met so ’n fliek moet jy die gehoor gee wat hulle wil hê. Elke ou kry sy beurt om te dans en dit behoort aanhangers behoorlik opgewonde te maak.”

As jy lus is vir ’n diep drama ver verwyder van Hollywood, kan jy Two Days, One Night (7-9OT) probeer.

Dit speel in België af en die regie is deur die Dardenne-broers, die lieflings van kunsfliekresensente wat geloof word vir hul kragtige, natuurlike dramas wat oor alledaagse gebeure en gewone mense handel. Marion Cotillard (The Dark Knight Rises) is die bekendste aktrise met wie hulle al gewerk het – gewoonlik verkies hulle mense wat nog nie veel toneelspelervaring het nie.

Marion, wat vir ’n Oscar benoem is vir dié fliek, speel Sandra, ’n jong Belgiese ma wat aan depressie ly en pas afgedank is. Al hoe sy haar werk kan terugkry, is om haar 16 kollegas by die hospitaal te oortuig om hul jaarlikse bonus prys te gee om vir haar sodoende ’n salaris te skep. Sandra het ’n naweek om hulle te oortuig en moet elkeen afsonderlik besoek om hulle te vra om asseblief ja te stem sodat sy haar werk kan behou.

Die meeste resensente dink die rolprent is uitstekend. By Rotten Tomatoes kry dit 97 persent en hulle beskryf dit as “nog ’n fliek deur die Dardenne-broers wat jou diep sal roer. Two Days, One Night lewer ’n tydige boodskap met eerlikheid en meegevoel”.

Lisa Kennedy van The Denver Post gee dit drie en ’n half sterre en beskryf dit as ’n “gestroopte, rustige maar aangrypende drama oor wanhoop en waardigheid”.

Sandra Visser