Dié week is die doodernstige Afrikaanse misdaaddrama Treurgrond (16TG) op die silwerdoek.

Die fliek spreek die kwessie van plaasmoorde aan en volg ’n spesiale taakmag gelei deur kapt. Schoeman (Jana Strydom van die TV-reeks Swartwater) en sers. Morene (Richard Lunkuku van die TV-reeks Ashes to Ashes) wat vier sake ondersoek. Die fliek handel ook oor die boer Lukas van Staden (Steve Hofmeyr), ’n vooraanstaande pilaar in sy gemeenskap.

Laetitia Pople van Die Burger gee die fliek net een ster. “Treurgrond is ’n vreemde keuse om (die) slagoffers (van plaasaanvalle) te huldig,” skryf sy. “Die dooies praat nie meer nie, maar dit is te betwyfel dat hulle ’n B graad-Hollywood-prent met bloed teen die mure, hul ledemate afgekap in die bad en slap kinderlyfies vol bloed sou versoek vir hul nagedagtenis. Treurgrond is ’n sensasionale prent met goedkoop truuks wat ’n verwarde boodskap uitstuur na die kyker.”

Gossip Girl-ster Blake Lively is te sien in The Age of Adaline (7-9O), ’n romantiese fantasiedrama oor ’n vrou wat aan die begin van die 20ste eeu gebore word en ná ’n ongeluk vir ewig 29 bly. Adaline se bestaan is eensaam; sy kan nooit iemand in haar lewe toelaat nie omdat sy haar ewige jeug moet geheim hou. Maar ná amper 80 jaar alleen ontmoet sy die charismatiese filantroop Ellis Jones (Michiel Huisman van die TV-reeks Game of Thrones), wat haar lewenslus weer laat opvlam. Die veteraanakteurs Harrison Ford (Star Wars) en Ellen Burstyn (The Exorcist) is ook onder die rolverdeling.

Die meeste kritici dink die fliek is skaflik. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 54 persent. Hulle bevind: “The Age of Adaline peins oor sterflikheid op ’n minder boeiende wyse as ander flieks met dieselfde tema, maar blink uit te danke aan indrukwekkende toneelspeel deur Blake en Harrison.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Anna Smith gee dit drie sterre. “Dis ’n sentimentele dog stylvolle film met ’n sterk rolverdeling,” skryf sy.

Hugh Grant (Notting Hill) speel weer ’n stotterende, effens nuttelose en selfsuftige Engelsman wat eindelik tog sy waarde bewys in The Rewrite (13DT). Hy speel Keith Michaels, ’n draaiboekskrywer wat eens op ’n tyd ’n Oscar gewen het maar net nie weer dieselfde hoogtes kon bereik nie. Uit finansiële nood word hy ’n universiteitsdosent, al glo hy nie jy kan iemand leer skryf nie. Hy kies net die mooiste vroulike studente vir sy klas, sit vas met die rektor (Allison Janney van die TV-reeks The West Wing) en maak vriende met ’n enkelma (Marisa Tomei van Crazy Stupid Love) wat verder studeer.

Resensente dink dis ’n oulike fliek. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit 51 uit 100, maar laasgenoemde gee dit 64 persent. Hulle bevind: “The Rewrite se onmerkwaardige intrige word aansienlik opgekikker deur die innemende rolverdeling.”

Empire se Ian Freer gee dit drie sterre. “Die fliek se intrige is dalk resepmatig, maar is intelligenter en veelvlakkiger as wat die voorskou jou laat glo,” skryf hy. “Waarheen die storie op pad is, sal niemand verras nie, maar Grant is soos gewoonlik sjarmant, die byspelers (Marisa, Allison en JK Simmons van Whiplash) is van hoë gehalte en die draaiboekklasse bevat lekker grappies oor Hollywood-clichés.”

Ná haar groot sukses op ’n jong ouderdom te danke aan haar Oscar-benoeming op 14 vir True Grit (2010) probeer Hailee Steinfeld vir haarself ’n loopbaan uitkerf. In die aksiekomedie Barely Lethal (13TG) speel sy Megan, ’n tiener wat van kleins af opgelei is om ’n spioen te wees. Megan smag egter daarna om ’n gewone kind te wees en ná ’n mislukte sending maak sy asof sy dood is en skep ’n nuwe identiteit. Sy skryf by ’n hoërskool in en doen haar voor as ’n uitruilstudent sodat sy by ’n voorstedelike gesin kan intrek. Die klieks en dramas van hoërskool is egter moeilik om baas te raak en intussen is haar mentor (Samuel L. Jackson van Pulp Fiction) asook ’n sluipmoordenaar (Jessica Alba van Sin City) op haar spoor.

Die meeste kritici dink die fliek is maar flou. Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om konsensus te bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit slegs 10 persent gegrond op 10 resensies. Metacritic gee dit darem 50 uit 100.

Kyle Smith van die New York Post gee dit een en ’n half uit vier sterre. “Die fliek berus eintlik net op een grappie: Megan stem in om die skool se gelukbringer te wees en ’n kostuum te dra, waarin sy dan grapjasse opdons wat sy vir aanvallers aansien,” skryf hy. “Barely Lethal het ’n paar oulike oomblikke, maar dis meerendeels so voorspelbaar soos om verveeld te wees tydens trigonometrie.”

Nog ’n week, nog ’n nuwe weergawe van ’n klassieke gruwelfliek. Poltergeist (13SGr) is gegrond op die opwindende 1982-fliek wat deur Steven Spielberg vervaardig is. Oudergewoonte trek ’n gesin by ’n huis in en word gou-gou bedreig deur bonatuurlike magte. Sam Rockwell (Moon) en Rosemarie DeWitt (Cinderella Man) speel die ouers.

Die meeste kritici stem saam die film is maar bra swak. By Rotten Tomatoes kry dit slegs 32 persent en hulle bevind: “Poltergeist bring op ’n skaflike wyse hulde aan die oorspronklike fliek sonder om enigiets van waarde by te dra. Dis net so vlietend maar nie die helfte so kwellend soos die gees waaroor dit gaan nie.”

Matt Glasby van die Britse tydskrif Total Film is meer geneë en gee dit drie sterre. “Die rolprent is baie mak, maar word van die gruwel-ashoop gered danksy Sam se verbasend hartroerende vertolking en ’n slot wat kortliks die storie na ’n nuwe plek neem,” skryf hy.

Na Silver Linings Playbook (2012) en American Hustle (2013) speel Bradley Cooper en Jennifer Lawrence vir die derde keer teenoor mekaar in Serena (16SG). Bradley speel Pemberton, wat tydens die Groot Depressie in die VSA ’n saagmeule besit en met die beeldskone maar genadelose Serena (Jennifer) trou. Sy’s ’n hedendaagse Lady Macbeth, wat haar man aanmoedig om op enige moontlike manier ontslae te raak van diegene wat die gebied in ’n nasionale park wil omskep en so hul besigheid sal kelder.

Die kritici dink die fliek is uiters swak. Rotten Tomatoes gee dit slegs 18 persent en bevind: “Serena verenig ’n indrukwekkende groep talentvolle mense aan albei kante van die kamera en laat kykers dan toe om te wonder hoe alles so skeefgeloop het.”

Total Film se Neil Smith gee dit twee sterre. “Klink ’n fliek oor saagmeule in die Amerikaanse Depressie-tyd enigsens opwindend? Die regisseur Susanne Bier (In a Better World) se verwerking van Ron Rash se 2008-roman begin vervelig en eindig lagwekkend,” skryf hy. “Veral Jennifer lyk heeltemal verlore en onoortuigend, terwyl Bradley die afgetrokke houding het van iemand wat eerder elders wil wees.”

In die aksieriller Survivor (13TG) speel Milla Jovovich (Resident Evil) die hoof van sekuriteit by die Amerikaanse ambassade in Londen. Sy vlek ’n terreurkomplot oop, maar word dan vir die aanval geblameer en moet vlug. Op haar spoor is die Amerikaanse en Britse regerings asook die sluipmoordenaar The Watchmaker (Pierce Brosnan, vroeër James Bond). Dylan McDermott (The Practice) en Angela Bassett (American Horror Story) is ook in die fliek te sien.

Die rolprent is nog nie deur baie kritici gesien nie, maar in dié stadium kry dit ’n skamele nul by Rotten Tomatoes gegrond op 13 resensies. Stephanie Merry van die Washington Post gee dit een en ’n half uit vier sterre. “Jy het reeds Survivor gesien,” skryf sy, “maar toe het dit ’n minder banale titel gehad, soos North by Northwest (1959), The Bourne Identity (2002) of The Fugitive (1993). Ten minste bevat die film ’n effense kinkel: die mens wat moet vlug, is ’n vrou. Ons almal weet waarheen die storie op pad is, en al is die jaagtogte by tye vermaaklik, is die fliek eindelik vergeetbaar.”

Sandra Visser