Dis ook die eerste fliek in die reeks waarin Mel Gibson nie die hoofrol vertolk nie. Omdat daar soveel tyd tussen Mad Max beyond Thunderdome (1985) en Fury Road verloop het, het George besluit om nie ’n opvolgprent te maak nie, maar nuut te begin.

In die verre toekoms het ’n kernramp die aarde verwoes. Nadat sy gesin vermoor is, swerf die oudpolisieman Max Rockatansky (Tom Hardy van The Dark Knight Rises) alleen deur die woesteny. Hy ontmoet die kryger Furiosa (Charlize Theron) wat vlug vir ’n wreedaardige tiran, Immortan Joe (Hugh Keays-Byrne), nadat sy vyf van Joe se “bruide” uit sy kloue gered het. Max stem teensinnig in om hulle te help.

Ek weet nie wanneer laas daar ’n fliek was wat so ’n oorweldigend positiewe reaksie onder kritici ontlok het nie en dis boonop ’n wetenskapsfiksie-aksie-avontuur, nie ’n hogere drama nie. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit ’n verbysterende 99 persent. Hulle bevind: “Met opwindende aksie en ’n verbasend diep storie herrys George Miller se post-apokaliptiese franchise brullend en vol woema uit die dood.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Nathan gee dit vyf sterre. “Voor jy George Miller se uiters genotvolle herskepping van sy eie distopiese Australië onder oë kry, is dit die moeite werd om weer die vorige aflewerings te kyk,” skryf hy. “Nie noodwendig omdat die hoëspoedjaagtogte regisseurs van James Cameron (Terminator) tot Edgar Wright (Shaun of the Dead) geïnspireer het nie, maar om jou te herinner dat hierdie reeks heeltemal die kluts kwyt is. Die titel verwys nie net na die gefolterde held nie; dis ook die regisseur se doelstelling. En met meer as $150 miljoen (R1,8 biljoen) tot sy beskikking het Miller maksimum malligheid bereik. Dis ’n triomf van onbeperkte verbeelding, skouspelagtige aksie en maltrap humor.”

As jy iets makker soek, is daar nog ’n opvolg op ’n gewilde fliek wat dié week uitgereik word. In Pitch Perfect 2 (10-12OT) is die a cappella-groep die Barden Bellas op die kruin van hul sukses tot ’n ernstige bloutjie tydens ’n optrede vir die Amerikaanse president hulle beeld ’n kwaai knou toedien. Om hulle status terug te kry besluit die Bellas om aan die a cappella-wêreldkampioenskapsbyeenkoms deel te neem, ’n opdraande stryd, aangesien geen Amerikaanse span al geseëvier het nie. Anna Kendrick, Rebel Wilson en Brittany Snow keer onder andere terug as lede van die Bellas en die aktrise Elizabeth Banks, wat in die eerste fliek ’n bitsige beoordelaar gespeel het, neem oor as die regisseur.

Die meeste resensente dink dis ’n oulike fliek. By Rotten Tomatoes kry dit 70 persent en die konsensus is: “Pitch Perfect 2 skep ’n innemende komiese harmonie, al haal die fliek nie die hoë note van sy voorganger nie.”

Die Britse filmtydskrif Total Film se Matt Maytum gee dit drie sterre. “As jy Pitch Perfect (2012) geniet het, is daar hope om van te hou aangesien dié so te sê presies dieselfde film is. Tog is daar genoeg kwinkslae en warmte om hierdie opvolg die moeite werd te maak.”

Nog ’n akteur wat sy lyf regisseur hou, is Alan Rickman (Snape in die Harry Potter-flieks) met sy tweede poging aan die stuur van sake: A Little Chaos (13S). Dié romantiese drama speel af in die 17de eeu teen die agtergrond van koning Lodewyk XIV (Rickman) se hof by Versailles. Dit fokus op die fiktiewe Sabine de Barra (Kate Winslet van Titanic), ’n toonaangewende tuinier wat die adelstand skok toe sy aansoek doen om Crowd), die regte landskapargitek wat Versailles se tuin ontwerp het. Die passievolle Sabine maak iets in André wakker, maar sy giftige geitjie van ’n vrou (Helen McCrory wat Draco se ma in Harry Potter gespeel het) beplan om ’n stokkie daarvoor te steek.

Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 59 persent gegrond op 27 resensies. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk, kry dit 50 uit 100.

Cath Clarke van Time Out London gee dit drie sterre. “Kate Winslet is die beste ding in die hele fliek,” skryf sy. “Haar vertolking is oortuigend, maar ongelukkig word sy in die steek gelaat deur die gewoonlik uitstekende Schoenaerts, wie se toneelspel net met ’n dooie vis vergelyk kan word. Die gewetenlose presidentsvrou van die TV-reeks House of Cards kan leer by McCrory se konkelaar, maar Rickman is so droog soos ’n woestyn tydens ’n droogte.”

Hilary Swank, wat al twee keer met ’n Oscar bekroon is, het dalk gedink sy kan Julianne Moore (Still Alice) se voetspoor volg en ’n derde beeldjie wen vir You’re Not You (10-12ODTS), nog ’n drama waarin die hoofkarakter met ’n ongeneesbare siekte worstel. Hilary speel Kate, ’n klassieke pianis by wie motorneuronsiekte gediagnoseer word. Haar man, Evan (Josh Duhamel van Transformers), probeer iemand kry om haar te versorg. Toe die parmantige student Bec (Emmy Rossum van die TV-reeks Shameless) aansoek doen ten spyte daarvan dat sy geen ervaring het nie, sien Kate iets besonders in haar en gee haar die werk.

Anders as Still Alice lyk dit nie of hierdie fliek veel aftrek gaan kry nie. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 40 persent gegrond op 15 stemme. By Metacritic kry dit 56 uit 100.

Marc Snetiker van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly gee dit ’n C. “Ten spyte daarvan dat dit ’n tydige blik is op die werklikhede van hierdie siekte, word die temas lomp en oppervlakkig hanteer,” skryf hy. “Die vervaardigers verruil kreatiwiteit vir emosionele manipulasie.”

– Sandra Visser