Dié week begin nog een, Somer Son (7-9O). Die filmmakers benadruk dat dit nie nog ’n ligte romkom is nie, eerder ’n drama wat verhoudings bekyk. Sonja (Juanita de Villiers) en Pieter (Reynard Slabbert wat al in Kwêla en 7de Laan te sien was) se huweliksbootjie is besig om skipbreuk te ly. Sonja probeer alles om swanger te raak, maar Pieter het vroeër in sy lewe ’n vasektomie gehad om op sy loopbaan te fokus en steek dit weg vir haar. Hy maak ook nooit tyd vir haar nie en wanneer hulle saam is, baklei hulle net. Dalk sal ’n vakansie in Mosambiek hul verhouding red? Bok van Blerk en sy vrou, Hanna Grobler, is ook in die rolverdeling.

Ongelukkig lyk dit asof hierdie film veel te wense laat. Die Burger se Rozanne Els gee dit net een ster. “Kykers (moet) liefs nie verwag dat Somer Son dieselfde kaliber as plaaslike treffers soos Pad na Jou Hart (2014) of Semi-Soet (2012) is nie,” skryf sy. “Dié fliek kry sy grootste knou met swak spel. ’n Mens kan egter nie net die akteurs vir die ongemaklike en stram spel blameer nie. Die regisseur, Clinton Lubbe, dra ook verantwoordelikheid. Plaaslike gehore verdien beter as dit. Waar juwele soos Die Wonderwerker (2012), Faan Se Trein (2014) en (vanjaar se) Ballade vir ’n Enkeling die bedryf elke keer ’n stappie vorentoe neem, is dit ’n produksie soos Somer Son wat ons weer twee treë terugsit.”

Die riller Child 44 (16G) is gegrond op die uitstekende gelyknamige roman deur Tom Rob Smith. Dit speel af in die 1950’s in Rusland waar die burgers gebuk gaan onder Stalin se diktatorskap en paranoia. Tom Hardy (Inception) speel die patriotiese oorlogsheld Leo Demidof wat vir die geheimdediens werk. Stadigaan begin Leo egter die regering se propaganda betwyfel toe hy ’n reeks kindermoorde oopvlek wat bloot deur die polisie geïgnoreer word en as ongelukke afgemaak word, want in dié perfekte kommunistiese staat bestaan nie iets soos moord nie. Met die hulp van sy vrou, Raisa (Noomi Rapace van die Sweedse weergawe van The Girl with the Dragon Tattoo), waag hy sy loopbaan en selfs sy lewe om die moordenaar te vang.

Volgens die meeste kritici is die fliek ongelukkig swak. Dit kry slegs 23 persent by die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “ ’n Aangrypende storie lê aan die hart van Child 44 en dit bevat ’n skaflike vertolking deur Tom Hardy, maar dis steeds ’n sogenaamde riller met gans te min opwinding.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ali Plumb gee dit ook net twee sterre. “Nie net is hierdie wreedaardige en vervelige fliek veels te lank nie, maar die uitstekende rolverdeling – Hardy, Gary Oldman, Rapace, Vincent Cassel (Black Swan), Paddy Considine (In America) en Joel Kinnaman (RoboCop) – word ook opgesaal met aaklige Borat-agtige aksente wat hulle soos Russiese robotte laat klink,” skryf hy. “ ’n So-so verwerking van ’n veel ryker roman.”

As jy in die bui is vir iets lafs, is daar Paul Blart: Mall Cop 2 (7-9O), die opvolg op die 2009-fliek wat verbasend genoeg ’n treffer was. Kevin James (Hitch) is terug as Paul, ’n winkelsentrumsekuriteitswag wat hom verbeel hy’s ’n regte polisieman en in sy vorige avontuur ’n bende skelms gefnuik het. Dié keer hou Paul en sy dogter, Maya (Raini Rodriguez), vakansie in Las Vegas, maar gou moet Paul weer tot die redding kom toe ’n skurk (Neal McDonough van Captain America: The First Avenger) beplan om die hotel se duur skilderye te steel.

Soos ’n mens seker kan verwag, dink die meeste kritici die fliek is maar bra simpel. By die webtuiste Metacritic, wat nes Rotten Tomatoes werk, kry dit net 13 uit 100. Laasgenoemde gee dit slegs 6 persent en die konsensus is: “Die fliek het eintlik geen doel nie en ryg net flou grappies in oor vet mense wat van Segways afval, en dis net glad nie snaaks nie.”

Rafer Guzmán van Newsday.com is ’n bietjie positiewer en gee twee en ’n half uit vier sterre. “Jy kan sê wat jy wil oor die eerste fliek, en baie resensente het baie te sê gehad, maar die fliek het $183 miljoen (R1,3 biljoen) gemaak te danke aan James se innemende, hardwerkende held, sy liefdevolle verhouding met sy dogter en die redelik heilsame stemming,” skryf hy. “Die fliek het jou nie laat skaterlag nie en die opvolg sal ook nie, maar wat dit kykbaar maak, is James se groothartige Blart en ’n algehele gees van welwillendheid. Dit beïndruk juis deur die grappies wat nie vertel word nie: geen toilethumor, geen rassisme of homofobie nie en Blart se oorgewig dogter word nooit gekoggel nie. Die fliek is dalk vergeetbaar, maar dis moeilik om dit werklik te verwerp.”

Unfinished Business (16DTN) is ook ’n komedie en handel oor Dan (Vince Vaughn van Wedding Crashers) wat sy werk by ’n mineraalmaatskappy verlaat en sy eie onderneming begin met die hulp van twee voormalige kollegas (Tom Wilkinson van Batman Begins en Dave Franco van Now You See Me). ’n Jaar later is hulle in die moeilikheid en besluit Dan hulle moet Berlyn toe om hopelik ’n groot saketransaksie te sluit. Maar toe kom hulle te staan teen Dan se gewetenlose voormalige baas (Sienna Miller van G.I. Joe: The Rise of Cobra).

Die kritici dink die fliek is flou. Dit kry slegs 11 persent by Rotten Tomatoes, wat dit beskryf as “ongefokus en glad nie saaks nie. Die titel is gepas, want die draaiboek is slordig en die toneelspel swak geregisseer. Dit sou beter gewees het as die fliek nooit die lig gesien het nie.”

Empire se Chris Hewitt gee dit twee sterre. “Soms is die fliek so swak, jy sou sweer dis werklik onvoltooid gelaat,” skryf hy. “Die sjarme van Vaughn, Franco en Nick Frost (Shaun of the Dead) kan ongelukkig nie opmaak vir ’n skokkende gebrek aan grappe nie.”

Do You Believe? (7-9OG) is ’n Christelike drama en fokus op ’n predikant (Ted McGinley van die TV-reeks Married with Children) van Chicago wat ná ’n ontmoeting met ’n pastoor (Delroy Lindo van Gone in Sixty Seconds) wat op straathoeke preek, besluit om iets daadwerkliks te doen. Hy probeer sy gemeente weer geesdriftig oor hul geloof maak en spoor hulle aan om iets vir ander te doen. Die fliek bekyk ook die lewens van sy gemeentelede en hoe hul geloof dit beïnvloed – van ’n dokter (Sean Astin van The Lord of the Rings) wat kwaad is dat God krediet kry vir sy vaardighede tot ’n ouer paartjie (Lee Majors van die TV-reeks The Six Million Dollar Man en Cybill Shepherd van die TV-reeks Moonlighting) wat treur oor hul oorlede dogter.

Die film behoort byval te vind by die teikengehoor, maar die meeste kritici dink dis swak. Dit kry 22 uit 100 by Metacritic en hoewel Rotten Tomatoes nog nie genoeg resensies bymekaargemaak het om konsenus te bereik nie, gee hulle dit sover 19 persent gegrond op 16 stemme.

Greg Hanke van mountainx.com gee dit een ster. “Die fliek is effens minder histeries oor sy agenda as die filmmakers se vorige poging, God’s Not Dead (2014), en probeer een van daardie fliek se grootste probleme oplos deur voorbeelde van praktiese Christenskap uit te beeld,” skryf hy. “Maar ondanks ’n groter begroting, wat toelaat vir ’n indrukwekkende groep akteurs, is dit basies dieselfde prekerige storie en die klimaks is so belaglik dat dit moeilik is om nie uit te bars van die lag nie. Dis moontlik om ’n diepsinnige fliek oor geloof te maak, soos verlede jaar se Calvary, maar dié selfvoldane, middelmatige fliek is beslis nie.”

In die drama Lullaby (16T) vind Jonathan (Garrett Hedlund van Tron: Legacy) uit sy vervreemde pa (Richard Jenkins van Jack Reacher) gaan homself oor 48 uur van sy lewensondersteuningstelsel afhaal. Jonathan haas hom hospitaal toe, waar hy weer in kontak kom met sy ma (Anne Archer van Patriot Games), suster (Jessica Brown Findlay van die TV-reeks Downton Abbey) en eksmeisie (Amy Adams van Man of Steel).

Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie, maar sover kry dit 32 persent by Rotten Tomatoes en 35 uit 100 op Metacritic. Leah Greenblatt van Entertainment Weekly gee dit ’n C- en beskryf dit as ’n “bitter familiedrama wat ’n konstante geskreeu met spanning verwar en vele geykte wyshede oor die lewe bevat. Adams en Jenkins probeer hul bes, maar hulle kan nie ’n fliek regmaak wat op soek is na ’n intrige of ’n hart nie.”

Vir die jongspan is daar die Franse tekenprent Yellowbird (O). Die hoofkarakter (stem van Seth Green van die TV-reeks Buffy the Vampire Slayer) is ’n skaam kreatuurtjie wat uit sy ma se nes val. Hy maak maatjies met ’n liewenheersbesie (Yvette Nicole Brown van die TV-reeks Community) wat hom aanmoedig om die wêreld te sien. Dan ontmoet hy Darius (Danny Glover van Lethal Weapon), leier van ’n trop ganse op pad na Afrika, en toe Darius sterf, moet Yellowbird by hom oorneem en die trop suid neem vir die winter.

Min resensente het al die fliek onder oë gehad, maar Tom Long van The Detroit News gee dit ’n C. “Daar is hope oulike karakters wat Yellowbird op sy wedervaringe ontmoet en die stemakteurs is uit die boonste rakke,” skryf hy. “Maar die storie is ook baie dun en eenvoudig. Kinders behoort dit te geniet, maar dis nie vir grootmense nie.”

Sandra Visser