In French Toast (O) speel Lika Berning (Liefling) ’n plaasmeisie wat op die ingewing van die oomblik besluit om na die Franse hoofstad te reis om ’n familiegeheim uit te pluis. In Parys ontmoet sy ’n Franse sjef (Thierry Ballarin) wat instem om haar te help, en kort voor lank begin hulle diep in mekaar se oë kyk.

Riëtte Grobler van Die Burger gee dit drie sterre. “Die produksiewaarde is uitstekend, maar ongelukkig wonder ’n mens so halfpad deur steeds hoe sommige van die storielyn se legkaartstukke inmekaar pas,” skryf sy. “Die draaiboek wil-wil maar net nie lekker vlam vat nie. Dis egter veral die romanse wat tekortskiet aan genoeg vonk om dit geloofwaardig te maak. Berning is sjarmant en nommerpas (in die rol, maar) Ballarin is ongelukkig nie haar eweknie wat akteursvernuf betref nie.”

Aanhangers van superheld-flieks sien al lank uit na Avengers: Age of Ultron (10-12OG) en dis eindelik hier. Dis die opvolg van die uiters suksesvolle The Avengers (2012) en fokus weer op Marvel Comics se span superhelde bestaande uit Tony Stark/Iron Man (Robert Downey, Jnr.), Captain America (Chris Evans), Thor (Chris Hemsworth), die Hulk (Mark Ruffalo), Black Widow (Scarlett Johansson) en Hawkeye (Jeremy Renner). Dié keer begin die moeilikheid toe Tony besluit die beste manier om die mensdom te beskerm is die skep van ’n uiters intelligente robot, Ultron (James Spader van die TV-reeks The Blacklist). Maar Ultron kom tot die gevolgtrekking dat dit beter sal wees om die hele mensdom uit te wis, en die Avengers moet gou spring voor hy die wêreld verwoes.

Die meeste resensente dink die fliek is baie goed. Dit kry 81 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle beskryf die fliek as “uitbundig en ’n fees vir die oog. Avengers: Age of Ultron is ’n gepaste, bevredigende opvolgprent”.

Die Britse tydskrif Empire se Helen O’Hara gee dit vier sterre. “Dis groter en, ja, donkerder as die eerste aflewering, en dit maak die fliek minder vrolik maar eintlik egaliger,” skryf sy. “Te danke aan die regisseur, Joss Whedon, en die mees charismatiese, aangrypendste rolverdeling ooit herdefinieer Age of Ultron hoeveel skouspel ons van superheld-flieks kan verwag maar maak steeds plek vir menslike emosies tussen al die epiese aksie.”

The Book of Life (7-9OG) is ’n tekenprent met ’n sterk Meksikaanse geur en fokus op ’n liefdesdriehoek tussen die skaam Manolo (Diego Luna van Elysium se stem), die pierewaaier Joaquin (Channing Tatum van 21 Jump Street) en Maria (Zoe Saldana van Star Trek), hul vriendin sedert hul kinderdae. Maar voor sy tussen hulle kan kies meng twee wedywerende geeste, La Muerte (Kate del Castillo) en Xibalba (Ron Perlman van Hellboy), in en beland Manolo in die onderwêreld. Hoe gaan hy ontsnap en by Maria uitkom?

Die meeste kritici dink dis ’n baie oulike fliek. Dit kry 82 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “The Book of Life se pragtige animasie is ’n fees. Dis net jammer die storie is nie op dieselfde vlak wat vernuf en detail betref as die meevoerende beelde nie.” By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit egter 67 uit 100.

Die Britse fliektydskrif Total Film se Andrew Lowry gee dit vier sterre. “ ’n Mens kan sien dat Meksikaanse regisseur Guillermo del Toro (Pan’s Labyrinth, Pacific Rim) die vervaardiger was: die fliek is tegelyk sjarmant en skerpsinnig, die karakters en milieu is vindingryk ontwerp en ’n mens vind baie uit oor interessante maar minder bekende elemente van Meksikaanse sprokies,” skryf hy.

Dear White People (16DTNBSG) is ’n satiriese komediedrama wat rasseverhoudings in Amerika bekyk. Dit fokus op Sam White (Tessa Thompson van Selma), ’n rolprentstudiestudent van gemengde afkoms wat ’n universiteit bywoon waar die meeste studente wit is. Sy veroorsaak ’n opskudding met haar radioprogram, Dear White People, en boek waarin sy wit mense kritiseer en rassistiese voorvalle op kampus veroordeel. Die fliek bekyk ook drie ander swart studente se ervarings aan die universiteit – die bleeksiel Lionel (Tyler James Williams van die TV-reeks Everybody Hates Chris) wat gay is, rammetjie-uitnek Troy (Brandon P. Bell) en die vloerlap Coco (Teyonah Parris van die TV-reeks Mad Men).

Resensente dink die fliek is uitstekend. Metacritic gee dit 79 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 92 persent. Die konsensus is: “Dear White People voeg ’n welkome stem tot die rolprentbedryf se dikwels afgeskeepte bespreking van ras. Dit bekyk tydige temas met intelligensie, eerlikheid en skerpsinnigheid.”

Tom Huddleston van Time Out New York gee dit vier sterre. “Met so ’n titel het ’n fliek durf en substansie nodig om dit te steun. Gelukkig is dié film, wat geïnspireer is deur ’n reeks voorvalle van swartgesig partytjies op wit kampusse, vol strydlustige intelligensie en woede,” skryf hy. “Die fliek is egter ietwat van ’n deurmekaarspul. Die intrige slinger rond, die karakters word eers laat in die fliek skerp gedefinieer en die draaiboek het teleurstellende tonnelvisie wat geen ruimte laat om ook klas- en geslagskwessies te bekyk nie. Maar wat dit laat slaag, is dat dit groot idees bevat asook ’n diep bitterheid en woede wat dui op ervaring.”

Sandra Visser