In Run All Night (16DG) speel hy Jimmy Conlon wat vir die Mafia werk en effe oor die muur is. Toe sy baas en beste vriend (Ed Harris van A Beautiful Mind) Jimmy se vervreemde seun (Joel Kinnaman van RoboCop) vir sy kind se dood verkwalik en wraak wil neem, moet Jimmy besluit by wie sy lojaliteit lê.

Die meeste resensente dink die fliek is heel oukei. Dit kry 59 persent by die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken, en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Liam is soos gewoonlik goed, maar Run All Night ly onder ’n deurmekaar intrige en gemiddelde regie van Jaume Collet-Serra.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Chris Hewitt gee dit drie sterre. “Jaume en Liam keer terug vir hul derde fliek ná Unknown (2011) en Non-Stop (2014), maar kykers wat bekommerd is dat Neeson net keer op keer dieselfde fliek maak, kan gerus wees,” skryf hy. “Eerstens dra dié karakter ander klere. Maar ernstig nou – dié dronk, afgeleefde boef is nie net weer Taken se Bryan Mills nie, maar ’n interessanter ou met vele tekortkomings. En vir die eerste uur is die fliek skaflik en bevat dit talle stewige tonele tussen Neeson en Harris.

“Maar dan dwaal die rapper Common as ’n onstuitbare huurmoordenaar in uit ’n heel ander fliek en die rolprent hou nie soseer op hardloop as wat dit kop eerste in ’n muur vashol nie. Neeson se spel is knap en die begin belowend; daarom is dit jammer dat hierdie grinterige misdaaddrama aan die einde voel dit behoort in ’n volstoom aksiefliek te ontaard.”

As jy lus het vir ’n romantiese drama, is daar The Longest Ride (10-12OS), nog ’n verwerking van ’n roman deur die gewilde Amerikaanse skrywer Nicholas Sparks. Luke (Scott Eastwood, Clint se seun) is ’n rodeo-cowboy wat na ’n rit op ’n bul lelik seergekry het maar hoop om weer in die saal te klim. Sophia (Britt Robertson van die TV-reeks Under the Dome) is op universiteit en het pas haar droom van ’n werk in ’n New Yorkse kunsgalery bewaarheid. Dié paartjie se paaie dreig om uiteen te loop tot hulle ’n bejaarde man (Alan Alda van die TV-reeks The Blacklist) uit die wrak van sy motor red ná ’n ongeluk en hy hulle begin vertel oor die liefde van sy lewe en hoe hul romanse in die 1940’s tydens die Tweede Wêreldoorlog gebloei het.

Die meeste resensente dink dié fliek is maar flou. Dit kry 32 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en laasgenoemde gee dit 29 persent. Die konsensus is: “The Longest Ride is minder manipulerend as die deursnee-Nicholas Sparks-prent, maar dis steeds stroperig en hopeloos te gedwonge. Tog sal dit nie die teikengehoor afskrik nie.”

James Berardinelli van reelviews.net gee dit net een en ’n half uit vier sterre. “As ’n romanse, drama of selfs sportfliek bereik The Longest Ride nooit ’n bevredigende bestemming nie,” skryf hy. “Met sy deurmekaar, soms teenstrydige temas en ’n lukrake liefdesverhaal kom die verhaal nooit tot sy volle reg nie. Die oppervlakkige karakters word ook nie aangehelp deur vrot dialoog, stokkerige toneelspel en sinnelose gebeure nie.”

Die “found-footage”-genre wat deur The Blair Witch Project (1999) begin is, gaan seker nog lank met ons wees, want dit verbloem die tekortkominge van ’n knap begroting. Dié soort fliek maak gebruik van kamerategnieke wat die illusie skep dat die beeldmateriaal op ’n amateur videokamera deur een van die karakters geskiet is.

Project Almanac (16T) begin waar die tiener David Raskin (Jonny Weston van Chasing Mavericks) homself soos hy nou lyk op die agtergrond van ’n 10 jaar oue tuisvideo opmerk. Hoe is dit moontlik? Dan kom hy en sy vriende af op sy pa se tydreismasjien en begin rondspring in die tyd. Maar soos menige wetenskapsfiksieprent ons al meegedeel het, is dit nooit ’n goeie idee nie en gou ruk dinge handuit.

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry 35 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind: “Project Almanac is nie sonder skerpsinnighede en oorspronklikheid nie, maar die yl intrige en irriterend rukkerige kamerawerk maak dit eindelik moeilik om aan te beveel.”

Empire se Andrew Osmond gee dit twee sterre. “Die tydreise word interessant deur verwronge beeldmateriaal uitgebeeld, maar die intrige is net ’n herkouery van hoeveel ander flieks en bevat gebrekkige logika, ’n oneweredige pas en dikwels onontsyferbare dialoog.”

Vir kunssinniger kykers is daar die Franse rolprent Saint Laurent (16SND), ’n blik op die lewe van die befaamde Franse modeontwerper Yves Saint Laurent (Gaspard Ulliel van Hannibal Rising) van 1967 tot 1976 tydens sy produktiefste tydperk.

Die meeste resensente voel die fliek is gemiddeld. By Metacritic kry dit 50 uit 100 en Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar gee dit tot dusver 55 persent gegrond op 11 resensies.

The Telegraph se Robbie Collin gee dit net twee sterre. “Al is dié fliek ’n fees vir die oog vertel dit ons niks oor die ontwerper behalwe die gewone hoogdrawende, toegewende heldeverering nie: Hy was ’n moderne meester en sy ontrouheid aan sy lewensmaat Pierre (Jérémie Renier van In Bruges) word geregverdig deur sy kreatiewe uitnemendheid, en so aan. Die fliek is meer as twee en ’n half uur lank; dit raak gou vervelig en flou. Jy voel heeltemal uitgeput wanneer jy by die teater uitstap en wonder wat die vervaardigers nou eintlik wou sê.”

Sandra Visser