Strikdas (O) handel oor die goedige bleeksiel Vossie (Kaz McFadden van Sewende Laan) wat op die dag dat hy na die Universiteit Stellenbosch gaan, sy familie se erfstuk, ’n strikdas, by sy hippie-ouers (Albert Maritz en Susanne Beyers) kry wat hy te alle tye moet dra. Op die kampus ontmoet hy die bedorwe brokkie Willemien (Leandie du Randt van Die Windpomp) wie se kêrel haar pas afgesê het. Sy benut die kans om Vossie as haar kêrel huis toe te neem om haar welgestelde, snobistiese ouers (Gys de Villiers en Elsabé Daneel) in die harnas te jaag, maar stadigaan begin sy verby Vossie se kruisbande en eksentrieke maniertjies kyk.

Die Burger se Laetitia Pople gee dit twee sterre maar haar resensie laat dit meer na ’n driester-fliek klink. “Die voorspelbaarheid van die draaiboek tersyde: Die komedie slaag meestal en lê in die verskille tussen Vossie en Willemien,” skryf sy. “Die eerlike uitbeelding van klasseverskille en aangedikte aannames oor herkoms in die Boland is vars op die silwerdoek. Die spel van die ouerpare asook die afspeel van die ouers teen mekaar is kostelik.

“McFadden is die ster van die prent. Hy is ’n knap komediant wat die erns van sy karakter met flair anker. Du Randt stel nooit teleur nie. Haar Willemien is broos en deurmekaar, maar wanneer sy haar droom vind, oorrompel sy. Die prent behoort byval te vind by tieners en studente wat hulself buite die ouerhuis probeer vind.”

Theresa Smith van die Cape Argus gee dit drie sterre en beskryf die fliek as “baie oulik”. Sy voel Vossie se groei en ontwikkeling sal fliekgangers se aandag boei. “As jy Semi-Soet (2012) of Pad na Jou Hart (2014) geniet het, sal jy hiervan hou,” skryf sy.

Fast & Furious 7 (13TG) begin ook draai. As ’n mens kyk waar die reeks begin het (net nog ’n genotvolle maar goedkoop aksiefliek), is dit moeilik om te glo dat dit so suksesvol geword het dat ons nou al by die sewende aflewering trek. Die vervaardigers was slim omdat hulle nie by die formaat van die eerste flieks gehou het nie. Die hoofkarakters is omskep van ’n groep onwettige straatrenjaers in ’n span superagente wat die wêreld deurkruis op soek na skelms wat hulle kan vastrek.

Nadat dié span, gelei deur Dominic Toretto (Vin Diesel), in die sesde fliek die misdadiger Owen Shaw (Luke Evans van Dracula Untold) verslaan het, is hulle toegelaat om na Amerika terug te keer en aan te gaan met hul lewe. Maar nadat Owen weens sy beserings sterf, sweer sy ouer broer, Deckard (Jason Statham van The Transporter), wraak teen Dom-hulle.

Ná die dood van een van die reeks se hoofakteurs, Paul Walker, is daar besluit om die storie te verander sodat sy karakter uit die verhaal sal tree pleks van sterf.

Die meeste resensente is mal oor die fliek. Dit kry 86 persent by die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken, en ’n gemiddelde uitwerk, en 71 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag werk. Rotten Tomatoes bevind: “Furious 7 hou die reeks aan die gang op meer as een manier deur ’n vars aflewering oordadige opwinding asook verbasend roerende drama te bied.”

Die Britse fliektydskrif Empire se James Dyer gee dit vier sterre. “Die Fast & Furious-reeks het heeltemal in ’n strokiesprent verander. Dis nou die wêreld se duurste Road Runner-parodie; die aksie is so oorstuur soos strokiesprentgeweld. Die regisseur, James Wan, meer bekend vir sy gruwelflieks soos Saw (2004) en The Conjuring (2013), het die sage se onvoorwaardelike lawwigheid totaal aangegryp. Dis asof hy die bottel geskud, die prop laat uitskiet en alles laat uitbars het soos ’n bruisende, speelse fontein bestaande uit spierpaleise en blinkgevryfde chroom. Dis ’n vrolike, uitbundige avontuur.”

Die afgelope paar jaar was daar ’n hele paar slim aweregse oorvertellings van feeverhale, soos Snow White and the Huntsman (2012) en Maleficent (2014), wat die verhaal uit ’n ander hoek of met ’n feministiese aanslag oorvertel het. Cinderella (O) is egter Disney se poging om hul klassieke tekenprentweergawe van 1950 met regte akteurs oor te doen en hier is geen herskryf van die tradisionele verhaal te bespeur nie. Lily James van die TV-reeks Downton Abbey vertolk die naamrol van die beeldskone, goedhartige Ella wat aan haar stiefma (Cate Blanchett van The Lord of the Rings) en nare stiefsusters (Sophie McShera van Downton Abbey en Holliday Granger van Great Expectations) se genade oorgelaat word ná haar pa se dood. Die res van die fliek volg die bekende verhaal van die prins (Richard Madden van die TV-reeks Game of Thrones), die glas skoen en die bal.

Ten spyte daarvan dat die fliek niks nuuts te sê het oor die oeroue verhaal nie, is die resensente mateloos beïndruk. Dit kry 85 persent by Rotten Tomatoes wat dit beskryf as “verfrissend tradisioneel in dié era waarin sulke verhale dikwels herskryf word. Regisseur Kenneth Branagh (Thor, Hamlet) se Cinderella bewys Disney het niks van sy outydse towerkrag verloor nie.”

Empire se Olly Richards is ’n bietjie minder opgemaak met die fliek en gee dit drie sterre. “Hierdie weergawe van Cinderella, wat getrou is aan die Disney-tekenprent, is gemik op diegene wat Frozen (2013) (wat fokus op twee susters se band pleks van ’n romanse ) ’n bietjie radikaal gevind het. Dis vir dié wat feeverhale geniet waarin mans manlik is (hulle ry perd, gebruik swaarde en dra stywe broeke) en elke vrou ’n aspirant-prinses is. Dis beslis nie progressief nie, maar as ’n tradisionele storie word dit knap vertel en pragtig aangebied.

“Dis die Disney prinses van ouds met ’n titseltjie nuwe tegnologie, maar dis die resep waarop ’n ateljee gebou is. As die geslagspolitiek jou nie op jou tande laat kners nie, behoort die ligte humor en sprankelende beeld jou gelukkig te hou – dalk nie vir ewig en altyd nie, maar ten minste 90 minute lank.”

As jy lus het vir iets meer gewaagd is daar Inherent Vice (18TGSND). Dis die sewende fliek van die gesiene regisseur Paul Thomas Anderson (There Will Be Blood, Magnolia) en die eerste fliekverwerking van ’n roman deur die postmodernistiese skrywer Thomas Pynchon. Dit speel af in die 1970’s in Los Angeles en handel oor die privaat speurder Larry “Doc” Sportello (Joaquin Phoenix van Gladiator), ’n oorblyfsel van die hippie-era wat baie toegewyd is aan dagga rook. Sy eksmeisie Shasta (Katherine Waterston) klop by hom aan en vra sy hulp om te keer dat haar welgestelde minnaar (Eric Roberts van The Dark Knight) deur sy gierige vrou en dié se katelknaap na ’n inrigting gestuur word sodat hulle hul naels in sy rykdom kan slaan. Doc stem in om te help, maar toe verdwyn Shasta en raak hy deurmekaar met ’n verskeidenheid eienaardig karakters.

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 81 uit 100 by Metacritic en 72 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “Kykers wat absolute koherensie in ’n storie verwag, kan dalk gefrustreerd wees, maar die fliek laat die gerekende bronteks tot sy reg kom en behoort Anderson-aanhangers tevrede te stel.”

Die Britse fliektydskrif Total Film se James Mottram gee dit vier sterre. “Anderson se sewende fliek voel soos ligte vermaak ná sy sesde, die swaargewig melodrama The Master (2012),” skryf hy. “Die vertelling slinger soms rond, maar wanneer dit Doc se ontmoetings met Benicio Del Toro, Reese Witherspoon en Owen Wilson insluit, sal dit iesegrimmig wees om te kla.

“Diegene wat lekker lag-oomblikke verwag, sal teleurgesteld wees, maar as ’n aangrypende liefdesbrief aan ’n stad en ’n era is dit in die kol. Dis dalk nie op dieselfde vlak as Anderson se beste werk nie, maar dis steeds ’n mengsel humor, geweld en weemoed wat jou sal dronkslaan.”

Sandra Visser