As jy wil sien of Les Misérables (2012) se Eddie Redmayne sy Oscar verdien het, kan jy The Theory of Everything (7-9O) beproef. Dis die lewensverhaal van die briljante astrofisikus Stephen Hawking (Redmayne) wat verlief raak op sy mede-Cambridge-student Jane Wilde (Felicity Jones van The Invisible Woman). Maar op 21 ontvang hy die skoknuus dat hy motorneuronsiekte het. Met Jane aan sy sy pak Stephen die ambisieuse taak aan om die ding te bestudeer waarvan hy juis so min het: tyd.

Die kritici is vol lof vir die fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 79 persent en beskryf dit as “deels ’n biografiese drama, deels ’n liefdesverhaal. The Theory of Everything skiet die hoogtes in danksy James Marsh se afgeronde regie en die kragtigheid van die twee hoofakteurs se spel.”

Helen O’Hara van die Britse filmtydskrif Empire gee dit vier sterre. “Dis ’n deernisvolle en inspirerende blik op ’n uitsonderlike lewe, geanker deur twee van die beste vertolkings van die jaar,” skryf sy.

Nog ’n Oscar-benoemde fliek wat op ’n ware lewensverhaal gegrond is, is Wild (16DTNS). Reese Witherspoon (Legally Blonde) speel Cheryl Strayed, wat ná ’n mislukte huwelik, haar ma (Laura Dern van Jurassic Park) se dood en jare se onverantwoordelike, selfvernietigende gedrag die oorhaastige besluit neem om alleen en sonder enige ervaring die Pacific Crest-langafstandstaptog oor die Sierra Nevada-berge in die weste van die VSA aan te durf in ’n poging om haarself te vind.

Die resensente is baie beïndruk met die fliek. Dit kry 76 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en 90 persent by laasgenoemde. Hulle beskryf dit as “ ’n uiters aangrypend fliek waarby jy emosioneel aanklank sal vind. Met Wild wys die regisseur Jean-Marc Vallée en die aktrise Reese Witherspoon hoe groot hul talente werklik is.”

Die Britse fliektydskrif Total Film se Simon Kinnear gee dit vier sterre. “Flieks wat gaan oor mense wat hulself probeer vind terwyl hulle ’n fisieke reis onderneem, is niks nuuts nie, maar gelukkig is die regisseur Jean-Marc, wat, soos met Dallas Buyers Club (2013), ’n potensieel stroperige tranetrekker omskep in ’n aangrypende verhaal wat nie skroom om die harde werklikheid te konfronteer nie,” skryf hy. “Daar is die versoeking om dit Eat Pray Love (2010) vir stappers te doop, maar nie Cheryl se pynlike stryd of die skoonheid van die landskap word ooit gemelk om die gehoor se simpatie of verwondering te ontlok nie. Soos Cheryl, sien ons dinge soos hulle is.”

Dis omtrent ’n week vir biografiese dramas! In Kill the Messenger (13TG) speel Jeremy Renner (The Hurt Locker) die Amerikaanse joernalis Gary Webb wat ten spyte van dwelmbase en die CIA se dreigemente aanhou karring het tot hy dié organisasie se rol in die invoer van kokaïen na Kalifornië en die verskaffing van wapens aan rebelle in Nicaragua oopgevlek het.

Rotten Tomatoes gee dit 77 persent en die konsensus is: “Kill the Messenger se kragtige woede oor ware gebeure oorheers die fliek se onakkuraathede en ’n paar misstappe in die vertelling.”

Damien Straker van impulsegamer.com gee dit drie sterre. “Ondanks die fassinerende onderwerp kan die wisselvallige draaiboek nie uitstyg bo die raamwerk van die standaardresep van ’n joernalis wat die waarheid soek nie,” skryf hy. “Al die wendings is oorbekend en laat dit voel soos ’n menigte ander flieks in dié genre. Dis egter steeds insiggewend en Renner se charismatiese spel verleen intensiteit.”

As jy lus is vir ligter vermaak, kan jy die jongspan neem om Shaun the Sheep Movie (alle ouderdomme) te gaan kyk. Dit handel oor Shaun die skaap wat ’n byspeler is in die klei-animasie-ateljee Aardman se Wallace & Gromit-flieks en TV-reekse. Shaun en sy medeskape van Mossy Bottom Farm besluit om die dag af te vat, maar dinge loop skeef en die boer beland ná ’n wilde rit binne-in ’n karavaan in die stad. Hy stamp sy kop en verloor sy geheue, wat Shaun dwing om sy tjommies in te span om hom te red.

Rotten Tomatoes het nog geen konsensus bereik nie, maar in dié stadium gee hulle dit ’n uitmuntende 100 persent gegrond op 24 resensies. Metacritic gee dit 77 uit 100.

Empire gee dit vier sterre. “Dis ’n dapper stap om ’n fliek te maak oor Shaun omdat hy en almal in sy wêreld stom is,” skryf hulle. “Die enigste een wat geluide maak wat naastenby soos woorde klink, is die boer, en hy mompel soos iemand wat onlangs by die tandarts was. Maar die gebrek aan dialoog is nie ’n hindernis nie. Dit laat eintlik die fliek uitstaan en die ekspressiwiteit van die klei toon dat hierdie animasiestyl nog lank nie verouderd is nie. Dit gee alles persoonlikheid en selfs die ingewikkeldste wendings in die verhaal word sonder enige dialoog uitstekend oorgedra. ’n Intieme, aweregse fliek propvol sjarme.”

Nog ’n week, nog ’n tweederangse aksiefliek met Nicolas Cage. In Dying of the Light (18TG) speel die Oscar-wenner ’n veteraan-CIA-agent, Evan Lake, wat aangesê is om af te tree. Maar dan ontdek sy protégé (Anton Yelchin van Fright Night) dat Lake se nemesis, die terroris Banir (Alexander Karim), weer aktief is en Lake besluit om die gereg in eie hande te neem om hom te vang.

Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar in dié stadium kry die fliek ’n skamele 10 persent gegrond op 31 resensies.

Geoffrey Macnab van The Independent gee dit twee sterre. “In die winter van sy loopbaan moet die eens gesiene Amerikaanse skrywer-regisseur Paul Schrader (Taxi Driver, American Gigolo) vir lief neem dat sy werk deur sy vervaardigers oorgeneem word, geredigeer word en dan sommer direk op TV verskyn,” skryf hy. “Maar soos al sy flieks het Dying of the Light tog hope oorspronklike en uitdagende oomblikke wat jou ’n aanduiding gee van wat kon gewees het. Die intrige maak egter nie veel sin nie en Cage gee ’n tipies flambojante, oneweredige vertolking.”

Dit lyk asof Johnny Depp ’n ernstige misstap begaan het met Mortdecai (10-12OTGS), ’n komedie gegrond op die karakter geskep deur die Britse skrywer Kyril Bonfiglioli. Johnny speel die eksentrieke kunshandelaar Charlie Mortdecai wat met slegs sy sjarme as wapen ’n gesteelde skildery moet vind wat glo ’n kode bevat wat ’n versteekte kluis vol Nazi-goud sal oopsluit. Gwyneth Paltrow en Ewan McGregor is ook in die fliek te sien.

Metacritic gee dit 27 uit 100. By Rotten Tomatoes kry dit slegs 13 persent en die konsensus is: “Die onbesonne Mortdecai is vreemd, eiewys, glad nie snaaks nie en ’n laagtepunt in Johnny se loopbaan.”

Total Film se James Mottram gee dit een ster. “Johnny se loopbaaninsinking ná Pirates of the Caribbean duur voort met hierdie pynlik onsnaakse avontuur. En dis ontmoedigend om te sien hoe top-akteurs hul talente vermors om byspelers in hierdie mistasting te wees.”

Hear Me Move (13DTG) is Suid-Afrika se eerste dansfliek volgens die Amerikaanse resep, soos te sien in die Step Up-flieks, en handel oor Muzi (Nyaniso Dzedze) wat in sy legendariese pa se skaduwee leef. Een dag loop hy ’n ou vriend van sy pa raak wat hom oorreed om by ’n dansgroep aan te sluit.

Die Burger se Rozanne Els gee dit een ster. “Meer aandag is gegee om die fliek en karakters ’n Step Up-voorkoms te gee as om dit geloofwaardig uit te beeld,” skryf sy. “Die ligpunt is die spel: rou, maar tog oortuigend ongeag die clichématige verloop. As ’n eerste plaaslike dansfliek kan ’n mens baie vergewe, maar terselfdertyd is ’n geleentheid verbrou.”

As jy nog nie genoeg van rampflieks gehad het nie, kan jy The Remaining (16G) probeer. Dis nog ’n verhaal wat die Bybelse wegraping as basis vir ’n gruwelverhaal gebruik. ’n Vriendekring kom bymekaar vir Skylar (Alexa Vega van die Spy Kids-flieks) en Dan (Bryan Dechart) se troue. Maar dan is dit die begin van die eindtye en die godsdienstige Skylar moet haar ongelowige vriende probeer red van die storms wat die gebied tref en gevleuelde demone wat hulle aanval.

Metacritic gee dit 38 uit 100. By Mike McCahill van The Guardian kry dit een ster en hy sê hoewel dit anders as die gewone wegrapingsriller is, word enige oorspronklikheid “geneutraliseer deur die saai regie en saamgeflanste gevoel.”

Sandra Visser