Met die eerste Taken (2008) het hy die jonger manne ore aangesit en nou skop hy weer alie in Taken 3 (13TG). Hy speel weer die gewese spioen Bryan Mills wat dié keer van die moord op sy eksvrou (Famke Janssen van X-Men) beskuldig word. Bryan besef iemand het leidrade geplant om dit te laat lyk asof hy die skuldige is en probeer die regte moordenaar vind terwyl die polisie, gelei deur inspekteur Franck Dotzler (Forest Whitaker van The Butler), op sy spoor is en hy ook sy dogter, Kim (Maggie Grace van die TV-reeks Lost), probeer beskerm.

Ongelukkig vaar Liam se fliek nie dié keer so goed onder die kritici nie. Dit kry slegs 11 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Die fliek se lae ouderdomsbeperking kniehalter die aksietonele en die intrige is uiters afgesaag. Taken 3 is ’n duidelike teken dat hierdie franchise lank reeds moes aftree.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ali Plumb gee dit twee sterre. “Dis ’n netjiese einde aan die avonture van Bryan Mills, maar met die ‘derde en laaste aflewering’ van die onverwagte Taken-trilogie is dit nou amptelik: Jy sowel as Liam Neeson is te oud vir hierdie nonsens,” skryf hy.

Unbroken (13 G) is die Amerikaanse aktrise Angelina Jolie (Maleficent) se tweede poging as regisseur (ná 2011 se In the Land of Blood and Honey). Dis gegrond op die inspirerende ware verhaal van Louis Zamperini (Jack O’Connell van 300: Rise of an Empire), ’n Olimpiese atleet wat ná ’n vliegtuigongeluk tydens die Tweede Wêreldoorlog 47 dae in ’n reddingsboot op die oop see oorleef het saam met twee ander bemanningslede. Asof dit nie erg genoeg is nie, word hulle dan opgepik deur die Japannese vloot en na ’n wreedaardige kamp vir krygsgevangenes gestuur. Die hoogs aangeskrewe filmmakers Joel en Ethan Coen (Fargo, True Grit) het die draaiboek geskryf.

Meeste resensente is nie vir die fliek te vinde nie. Dit kry 59 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 50 persent en die konsensus is: “Die filmmakers het ongetwyfeld goeie bedoelings, maar die fliek bevat te veel van die verwagte prestigefliek oomblikke om sterk uit te troon bo ander soortgelyke films.”

Kate Stables van die Britse fliektydskrif Total Film is egter beïndruk en gee dit vier sterre. “Jolie se knap huldeblyk aan Zamperini se dapperheid maak ’n ster van O’Connell,” skryf sy. “Die uiters inspirerende tema en gebrek aan bloed behoort ouer gehore en volwassenes wat ’n held soek aan te gryp.”

Pride (10-12ODTV) is nog ’n inspirerende ware verhaal wat vandeesweek begin speel. In 1984 in Brittanje is die Ystervrou, Margaret Thatcher, aan die bewind en die mynwerkers staak. ’n Groep gays en lesbiërs in Londen voel simpatiek teenoor die mynwerkers – albei groepe word sleggemaak deur die regering, die polisie en die poniekoerante – en besluit om hulle te ondersteun. Die mynwerkers wil eers niks te doen hê met hulle nie, maar die aktiviste besluit om na ’n Walliese dorpie te reis (waar omtrent net mynwerkers en hul gesinne woon) en persoonlik ’n bydrae te lewer. Die twee groepe is aanvanklik skrikkerig vir mekaar, maar vind gou aanklank. Die rolverdeling sluit in die Britse veteraan-akteurs Bill Nighy (Love Actually), Imelda Staunton (Dolores Umbridge in die Harry Potter-flieks), Dominic West (van die TV-reeks The Affair) en Paddy Considine (The Bourne Ultimatum).

Die kritici is mal oor die fliek. Dit kry 93 persent op Rotten Tomatoes. Hulle beskryf dit as “opreg sonder om prekerig te wees en besielend sonder om op sentimentaliteit te steun. Pride is ’n geslaagde, opgewekte plesier.”

Brian Viner van die Britse koerant The Daily Mail gee dit vier sterre. “Stephen Beresford se draaiboek sowel as Matthew Warchus se regie is te skerp om in die slaggat van stroperigheid te val en deurgaans word humor en meegevoel skitterend verweef. Die era word perfek uitgebeeld en die fliek se medemenslikheid kom sterk deur.”

Sandra Visser