The Amazing Spider-Man 2 (10-12OG) handel oor die verdere avonture van die New Yorkse tiener Peter Parker (Andrew Garfield van The Social Network), wat die superheld Spider-Man word nadat hy deur ’n radioaktiewe spinnekop gebyt is. Sy meisie, Gwen Stacey (Emma Stone van The Help), wil die skurke help stuit, maar Peter het haar oorlede pa belowe hy sal haar beskerm, en probeer sy bes om haar buite gevaar te hou. Maar toe drie nuwe vyande – Electro (White House Down se Jamie Foxx), die Green Goblin (Dane DeHaan van Chronicle) en Rhino (Paul Giamatti van Sideways) – op die toneel verskyn is, dit makliker gesê as gedaan.

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 76 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hul bevinding is soos volg: “Te danke aan die selfvertroue van (die regisseur) Marc Webb en ’n talentvolle rolverdeling is The Amazing Spider-Man 2 vermaaklik ten spyte van ’n magdom karakters en die soms gedwonge vertelstyl.” Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei drie sterre. Eersgenoemde se Kim Newman skryf: “Behalwe vir ’n paar dom grappies is dit ’n bevredigende tweede aflewering met opwinding, hartseer, skokkende oomblikke en ’n perfekte einde.” Emma Dibdin van Total Film beskryf die fliek as “vrolik, energiek en opreg. Dis moeilik om nie van Webb se minsame opvolgprent te hou nie, ten spyte van die oneweredige stemming en lomp draaiboek, wat gered word deur Garfield, Stone en DeHaan se kragtige toneelspel.”

Twee uiteenlopende Suid-Afrikaanse flieks begin ook vandeesweek draai. Die Windpomp (13) is ’n Afrikaanse fantasie-drama oor ’n eksentrieke jong man, Hendri (Armand Greyling in sy eerste groot rol). Eerder as om hom sy pa se dood te help verwerk, het sy ma hom van kleintyd af vertel sy pa is deur Mars-manne ontvoer; Hendri staan elke aand met ’n verkyker in die hand en soek na hulle. Nadat sy ma ook verdwyn, beland Hendri by sy oupa se huisie in ’n aftreeoord. Een aand sien hy ’n paar figure die donker in loop en besluit om hulle te agtervolg. Hy kom af op ’n dam op die buitewyke van die dorp waar hy ’n pragtige meisie (Leandie du Randt van Semi-soet) ontmoet. Hulle raak verlief, maar soos die romanse blom, raak dit duidelik dat dit ’n baie ongewone dorpie is.

Amanda de Lange van Die Burger gee die fliek drie sterre. “Die storie is vol geheime drade waarvoor jy mooi moet uitkyk,” skryf sy. “(Dit) kon wel gedoen het met ’n bietjie gordel intrek. Soms hang die spanningslyn so slap dat ’n mens byna belangstelling verloor. Maar Greyling kwyt hom knap van sy taak; as jy deur jou rusteloosheid kan beur, is die einde nogal werklik ’n verrassing.” Stephen Aspeling van spling.co.za gee die fliek sewe uit 10. “Die Windpomp is ’n vreemde dog merkwaardig volwasse, inspirerende en grensverskuiwende Suid-Afrikaanse fliek,” skryf hy. “Dit is ’n eklektiese fliek wat jou aandag verdien. Daar is ’n paar oomblikke wat nie heeltemal werk nie, meestal as gevolg van die komplekse samevoeging van genres, maar hier is genoeg emosionele diepte en intelligensie om dit vrolik en vermaaklik te hou.”

Die misdaaddrama iNumber Number (16G) handel oor Chili (Sdumo Mtshali van die TV-reeks Intesexions), ’n ambisieuse geheime polisieman wat deur sy korrupte base van ’n groot beloning ontneem word. Hy besluit om by ’n groep misdadigers aan te sluit om ’n roofaanval te beplan, maar pleks van hulle vastrek, wil hy net een keer van die geld vir homself vat. Maar dan herken een van die boewe hom.

Die Burger se Laetitia Pople gee dit vier sterre. Vir haar is iNumber Number op dieselfde vlak as die Oscar-bekroonde Tsotsi (2005). “iNumber Number bied alles wat ’n behoorlike heist-moewie – roofaanval in Afrikaans – moet bied,” skryf sy. “Dit neem jou soos ’n swaai in die speelpark hoog die lug in. Jy voel jy kan dood van die opwinding en adrenalien, maar dan laat dit jou behoorlik winduit met die afloop. Sodra jy op vaste grond is, wil jy weer!”

Steyn du Toit van die Cape Times gee dit ook vier sterre. “iNumber Number is ’n vaardige, moetsien-fliek wat dit regkry om op ’n optimistiese noot te eindig,” skryf hy. Hy is veral beïndruk met Sdumo. “Mtshali is een van die land se opwindendste jong akteurs. Hy’s ’n broeiende hoofakteur met ’n sterk teenwoordigheid. Kom ons hoop hierdie vertolking sal die hupstoot wees wat hy nodig het om internasionale rolle los te slaan.”

Fruitvale Station (16TVG) is gegrond op regte gebeure en spruit uit die voorval op Nuwejaarsdag 2008 in Oakland, Kalifornië, toe ’n wit polisieman ’n 22-jarige swart man, Oscar Grant III (Michael B. Jordan van Chronicle), by die Fruitvale-treinstasie doodskiet. Die voorval is op ’n selfoonkamera vasgevang en het gelei tot betogings en optogte. Die fliek beeld die laaste 24 uur van Grant se lewe uit. Met die nuwe jaar om die draai besluit hy om ’n beter seun, kêrel en pa te wees, maar soos die dag verloop, raak dinge ál moeiliker vir hom.

Die meeste kritici prys dié fliek. Dit kry 85 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en laasgenoemde gee dit 94 persent. Hulle beskryf dit as “treffend met sterk toneelspel. Fruitvale Station dien as ’n viering van die lewe, ’n veroordeling van die dood, en ’n triomf vir die ster Michael B. Jordan”. Simon Miraudo van quickfix.com gee dit vier en ’n half sterre en skryf: “Te danke aan Ryan Coogler (in sy debuut as filmmaker) se delikate regie, asook aangrypende en komplekse toneelspel van die opkomende ster Jordan, is Fruitvale Station ’n prysenswaardige huldeblyk aan ’n jong man wat te vroeg gesterf het.” Chris Sawin van examiner.com is bietjie minder entoesiasties en gee dit drie sterre. “Die fliek draai om ’n tragiese gebeurtenis met ’n kragtige boodskap, maar kort net die momentum om werklik indrukwekkend te wees,” skryf hy.

Nog ’n Amerikaanse drama wat op ware gebeure gebaseer is, is Parkland (10-12OG). Dit handel oor die chaotiese gebeure in 1963 by die Parkland-hospitaal in Dallas, Texas, waarheen die Amerikaanse president John F. Kennedy geneem is nadat hy in ’n sluipmoordaanval geskiet is. Dit fokus op die mense agter die skerms, soos die dokters en verpleegsters en die FBI-agente wat die skieter soek. Zac Efron (High School Musical), Billy Bob Thornton (Armageddon) en Marcia Gay Harden (The Mist) is onder die rolverdeling.

Die oorgrote meerderheid resensente dink die fliek is middelmatig. Dit kry 49 persent op Rotten Tomatoes, met die mening “al is dit verfrissend om die sluipmoordaanval op John F. Kennedy uit ’n ongewone perspektief te bekyk, kry Parkland dit nooit reg om ’n samehangende narratief uit al die los storiedrade te skep nie”. Empire gee die fliek drie sterre en prys die akteurs se toneelspel. “Dramaties is dit ’n bietjie stuk-stuk en te veel te vinnig. Maar die stormagtige gebeure bly boeiend,” skryf hul resensent. Charlotte O’Sullivan van die London Evening Standard is tog nie beïndruk nie en gee dit twee sterre. “Al is die toneelspel goed, voel hierdie poging om sin te maak uit JFK se dood uiters onbeduidend,” skryf sy.

Die romantiese drama Endless Love (10-12OT) is gegrond op die boek met dieselfde titel deur Scott Spencer, wat ook in 1981 in ’n fliek met Brooke Shields omskep is. Vir die rykmansdogter Jade (Gabriella Wilde van The Three Musketeers) en die charismatiese David (Magic Mike se Alex Pettyfer) is dit liefde met die eerste oogopslag, maar hoe dieper hul liefde raak, hoe meer bekommerd raak haar ouers (Bruce Greenwood van Star Trek en Joely Richardson van die TV-reeks Nip/Tuck) en probeer hulle uitmekaar hou. Dit dryf David om in sy pogings om Jade te sien ál roekeloser op te tree.

Die meeste kritici is glad nie beïndruk met die fliek nie. Dit kry slegs 15 persent op Rotten Tomatoes. Die konsensus is: “Dis flouer as die oorspronklike fliek en nog minder getrou aan die bronteks. Hierdie nuwe weergawe is vol clichés en onopsetlik verspot.” Steven Rea van die Philadelphia Inquirer gee dit ’n halwe ster uit vier en beskryf dit as “ ’n verbysterend simpel sameflansing van tienerromanse-clichés”. Maar Empire se Anna Smith is toegeefliker en gee dit drie sterre. “Dis so reg in tieners se kraal en bevat heelwat clichés, maar dit behoort steeds die nuwe generasie jong meisies te laat swymel,” skryf sy.

Sandra Visser