Die Fantastic Four (10TG) het hul oorsprong in Marvel-strokiesprente, maar die rolprentateljee Fox het die fliekregte. Ná twee louwarm pogings in 2005 en 2007 het Fox besluit om weer te begin en ’n donkerder, grinteriger weergawe te skep. Dit het tog vir Batman gewerk met die Dark Knight-trilogie.

Vyf jong wetenskaplikes, Reed Richards (Miles Teller van Whiplash), Sue (Kate Mara van House of Cards) en Johnny Storm (Michael B. Jordan van That Awkward Moment), Ben Grimm (Jamie Bell van Billy Elliot) en Victor von Doom (Toby Kebbell van Dawn of the Planet of the Apes), poog om ’n deurgang na ’n ander dimensie te vind. Maar dinge loop skeef en hulle kry elkeen vreemde vermoëns. Reed kan sy liggaam soos gomlastiek rek, Sue kan onsigbaar word en ’n ondeurdringbare grens om haarself projekteer, Johnny slaan aan die brand, kan vlieg en vuurballe skiet en Ben kry ’n rotsagtige vel en word supersterk. Victor word egter in die ander dimensie agtergelaat en toe die ander hom probeer red, vind hulle uit die ervaring het hom van sy kop af gemaak en dat die vermoëns wat hy gekry het hom byna onstuitbaar maak.

Ongelukkig vir aanhangers van dié gesin superhelde lyk dit nie asof Fox se pogings vrugte afgewerp het nie. Die ateljee het moontlik gedink dis ’n goeie idee om die jong maar innoverende regisseur Josh Trank aan te stel omdat hy soveel verbeelding getoon het met sy eerste fliek, Chronicle (2012), maar daar was intussen gerugte van onmin tussen hom en die akteurs en Fox. Hierdie onenigheid het blykbaar ook die fliek gekelder en die resensente dink die eindproduk is maar vrot.

Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit ’n skamele 8 persent. Hulle beskryf die rolprent as “vervelig en neerdrukkend. Hierdie Fantastic Four is ’n droewige, onbesonne poging om ’n klassieke strokiesprentreeks in ’n film te omskep sonder die humor, vreugde of kleurryke opwinding wat dit in die eerste plek suksesvol gemaak het nie.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ali Plumb gee dit twee sterre. “Die eerste twee Fantastic Four-flieks was ’n vergeetlike woesteny spanbroeke, kindervriendelike grappies en borrelgom-avonture. Agt jaar later is Josh Trank se weergawe presies die teenoorgestelde. Dit herinner aan Chronicle se grinterigheid en probeer ’n nors, donker en behoorlik diepsinnige weergawe van Stan Lee se oorspronklike superheldspan skep.

“Die fliek se dapper besluit om weg te beweeg van ’n Happy Meal-vriendelike stemming bring sy beste sowel as sy slegste eienskappe na vore. Die meeste van die fliek se tydsduur word ingeneem deur die bou van die interdimensionele masjien en die talentvolle rolverdeling sukkel om swys, tik en bloudrukke bestudeer interessant te maak. Waar jy gevegte teen skelms en spanwerk verwag, is daar eerder donker gange en ’n gebrabbel in onverstaanbare vaktaal. Die laaste derde probeer opwinding skep, maar pas glad nie by die eerste twee derdes nie. Alles voel leeg en tweedehands.”

As jy lus is vir lekker lag, kan jy Trainwreck (16TSD) probeer. Die Amerikaanse komediant Amy Schumer se naam is deesdae in haar geboorteland op almal se lippe en vir hierdie fliek het sy kragte saamgespan met die huidige Hollywood-koning van komedie, die regisseur en skrywer Judd Apatow (Knocked Up, This Is 40).

Amy speel ’n wilder weergawe van haarself, Amy Townsend, ’n joernalis by ’n manstydskrif wat wegskram van ernstige verhoudings en net wil kuier. Dan word sy deur haar feeks van ’n baas (’n byna onherkenbare Tilda Swinton, wat gewoonlik in kunsflieks soos We Need to Talk about Kevin te sien is) aangesê om ’n profiel te doen oor die sportdokter Aaron Connors (Bill Hader van The Skeleton Twins). Amy is geskok toe Aaron in haar begin belangstel en meer as net ’n enkele nag van passie wil hê, maar besluit om hom ’n kans te gee. Hopelik sal al haar persoonlike kwessies nie in die pad kom nie.

Die meeste kritici dink die fliek is baie goed. Dit kry 75 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 85 persent en die konsensus is: “Slegs dié wat romantiese komedies verpes, sal nie van Trainwreck hou nie. Dit bevat skerp humor, karakters waarmee jy jou kan vereenselwig en skreeusnaakse spel deur Amy Schumer.”

Die Britse filmtydskrif Total Film se Matt Maytum is nie heeltemal so in sy skik met die rolprent nie en gee dit drie sterre. “Die fliek is op sy snaaksste in die eerste helfte waarin Schumer net laat waai. Daar is vuil grappies en gewaagde humor, maar Schumer toon ook dat sy iets ernstigers kan baasraak. Tilda Swinton en die basketbalspeler LeBron James dreig egter om met die fliek weg te loop.

“Soos in Schumer se skerpskerts-verhoogstukke is daar uitstekende grappies, maar sommige val ’n bietjie plat. Die tweede helfte is minder bevredigend. Amy en Aaron se ontluikende verhouding ly skipbreuk volgens die standaard romantiese komedie formule, en die stemming raak ongemaklik veroordelend oor Amy se leefstyl. Soos met al Apatow se flieks, is dit ook 20 minute te lank. Tog sal die hoogtepunt jou hart warm laat klop.”

Die biografiese drama Love & Mercy (13TD) handel oor die lewe van Brian Wilson (Paul Dano van Little Miss Sunshine) wat in die 60’s saam met sy groep, The Beach Boys, roem verwerf het. Brian is egter ’n uiters sensitiewe siel en ná ’n paniekaanval keer hy sy rug op die groep en begin werk aan wat hy glo die beste album van alle tye sal wees. Deurvleg met hierdie storielyn sien die kyker ook vir Brian (John Cusack van 2012) in die 80’s, ’n gebroke man wie se lewe totaal deur sy sielkundige, Eugene Landy (Paul Giamatti van Sideways), beheer word. Toe die motorverkoopsvrou Melinda Ledbetter (Elizabeth Banks van Pitch Perfect) Brian ontmoet, is sy vasbeslote om hom van Landy te red.

Die resensente is mal oor die fliek. Rotten Tomatoes gee dit 90 persent en bevind: “Love & Mercy is so onkonvensioneel soos die mens wat dit vereer. Aanhangers van Brian Wilson sowel as dié wat nou eers met hom kennis maak, behoort dit aangrypend te vind.”

Die gesiene Britse kritikus Mark Kermode gee dit vier sterre. “Hierdie dubbelvertelling van Brian Wilson se lewe meng feite en fiksie om ’n vreemd dog pragtige geheel te skep en dra die liedjieskrywer se magiese vermoëns oor op ’n geloofwaardige wyse.”

Nog ’n kunsfilm wat dié week begin draai, is White Bird in a Blizzard (16TSN), ’n drama wat fokus op ’n voorstedelike tienermeisie, Kat (Shailene Woodley van die Divergent-reeks), wie se ma, Eve (Eva Green van Penny Dreadful), in 1988 skielik verdwyn. Eve het vasgevang gevoel in dié voorstedelike bestaan en daar is allerhande gerugte dat sy die pad gevat het saam met ’n minnaar, of dat Kat se pa, Brock (Christopher Meloni van Law & Order: SVU), haar vermoor het toe hy haar saam met ’n minnaar betrap het. Maar Kat ondersoek haar eie seksualiteit en is min gepla.

Die rolprent het gemengde reaksie onder die resensente ontlok. Metacritic gee dit 51 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 55 persent. Hulle beskryf dit as “deels ’n voorstedelike riller, en deels ’n drama oor seksuele ontwaking. Ongelukkig oortuig die fliek nie heeltemal as een van die twee nie en maak te veel staat op Shailene Woodley se tipies uitstekende spel.”

Jason Best van blogs.whatsontv.co.uk/movietalk gee dit drie sterre. “Enigeen wat met Shailene Woodley bekend is danksy haar heilsame rolle in flieks soos Divergent (2014) en The Fault in Our Stars (2014), gaan geskok wees wanneer hulle haar onbeteuelde en naak (in meer as een opsig) vertolking in White Bird in a Blizzard aanskou. In hierdie bisarre melodrama word sy egter oordonder deur Eva Green se oordadige vertolking van ’n vrou wat tot die uiterste gedryf word deur verveling en seksuele frustrasie.

“Die fliek is maar ’n deurmekaarspul, maar wat dit die moeite werd maak, is Woodley en Green se toneelspel asook ’n paar treffende beelde, waaronder Kat se droom waarin sy haar ma in ’n sneeustorm soek (vandaar die titel).”

Hier gaan ons al weer. Deesdae se gruwelflieks bestaan óf uit jong mense wat hulself met selfone en videokameras in donker gange afneem terwyl iets hulle bekruip óf pogings deur die Rooms-Katolieke Kerk om duiwels uit te dryf wat hulle kwansuis probeer geheim hou. In The Vatican Tapes (13GGr) word die “tuisvideo”-formaat ingespan om uit te beeld hoe priesters (Djimon Hounsou van Blood Diamond en Peter Andersson) ’n demoon uit ’n jong vrou (Olivia Taylor Dudley) probeer dryf.

Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar sover kry die rolprent slegs 14 persent gegrond op 21 resensies. Noel Murray van avclub.com gee dit ’n D+ en beskryf dit as “teneerdrukkend ordinêr en oorbekend.”

Sandra Visser