Dié week is daar drie baie uiteenlopende nuwe films op die kringloop.

Die historiese drama Suffragette (13G) handel oor die beweging in die vroeë 20ste eeu waarin aktiviste betoog het vir vrouestemreg. Die fliek speel af in 1912 in Londen en fokus op die fiktiewe Maud Watts (Carey Mulligan van An Education), ’n werkersklasvrou wat magteloos is by die werk sowel as by die huis. By die wassery waar sy werk, moet sy die toenadering van haar baas (Geoff Bell) probeer afweer terwyl haar uiters konserwatiewe man (Ben Whishaw, Q in die onlangse James Bond-flieks) die huishouding met ’n ysterhand regeer. Maar toe Maud sien hoe ’n kollega aan ’n suffrajette betoging deelneem, word sy opgesweep in die beweging, in hegtenis geneem en deur haar man en gemeenskap verwerp.

Die meeste resensente dink die fliek is goed. Op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken en ’n gemiddelde gee, kry dit 73 persent. Hulle bevind: “Suffragette dramatiseer ’n belangrike – en steeds pynlik relevante – feitegebaseerde verhaal met meer as genoeg sorgsaamheid en opregtheid om die film se tekortkominge te oorkom.”

Chris Nashawaty van Entertainment Weekly gee dit ’n B. “Meer as ’n eeu nadat hulle posbusse opgeblaas en vensters met bakstene stukkend gegooi het, kry die Britse vroue wat verwoed vir stemreg baklei het, eindelik hul eie rolprent. Dis ’n belangrike en opruiende hoofstuk in die geskiedenis, wat dit juis so ’n jammerte maak dat, ten spyte van ’n paar uitstekende vertolkings, hierdie dringende fliek met goeie bedoelings so konvensioneel en apaties voel.

“Die fliek plaas eintlik te veel druk op sy heldin se skouers,” skryf Chris. “Maud ervaar elke moontlike beproewing, asof die regisseur, Sarah Gavron (Brick Lane), en draaiboekskrywer, Abi Morgan (The Iron Lady), nie hul verhaal genoeg vertrou het nie en alles moontlik doen om Maud se feministiese ontwaking te regverdig terwyl geen regverdiging nodig is nie. Dis genoeg dat vroue in ’n beskaafde land as tweedeklas-burgers behandel is. Gelukkig is Mulligan se vertolking baie meer subtiel as haar milieu.”

The Big Short (13T), wat vir vyf Golden Globes benoem is, is ook op ware gebeure gegrond, maar het ’n humoristiese aanslag. Dit bekyk die finansiële krisis van 2008 en fokus op die paar spekulasiefondsbestuurders wat in 2005 agtergekom het als is nie pluis nie en munt daaruit geslaan het voor die meeste finansiële instellings dit besef het. Die rolverdeling sluit Christian Bale (The Dark Knight), Ryan Gosling (Crazy, Stupid, Love), Brad Pitt (Fight Club) en Steve Carell (The Office) in.

Die kritici dink dis ’n uitstekende fliek. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as Rotten Tomatoes werk, gee dit 81 uit 100. Laasgenoemde gee dit 88 persent en die konsensus is: “The Big Short benader ’n ernstige, ingewikkelde onderwerp met ’n indrukwekkende oog vir detail – en slaag boonop daarin om op ’n snydend snaakse manier vinger te wys na die ware skurke in die verhaal.”

Robbie Collin van The Telegraph gee dit vier sterre. “Die film gebruik humor om die gehoor in te lig, uit te lok en te verbyster, en laat ’n mens besef dat in ’n situasie waarin so eties en wiskundig verknoei is, selfs die oplossings deel van die probleem is. Vir ’n komedie bied dit omtrent ontnugtering.”

As jy nie lus het om kop te krap of te wroeg nie, is daar die komedie Ride Along 2 (13G), die opvolg op die lokettreffer van 2014. Die komediant Kevin Hart (The Wedding Ringer) is terug as die praatsiek Ben wat steeds probeer om sy meisie, Angela (Tika Sumpter), se broer, die tawwe Atlanta polisieman James (Ice Cube van 22 Jump Street), te beïndruk. Nou staan Ben en Angela op trou en Ben het sy werk as veiligheidswag vaarwel toegeroep om ook ’n polisieman te word. Net voor die groot dag stuur Ben en James se baas hulle na Miami om ’n dwelmhandelaar vas te trek en moet die twee probeer saamwerk ten spyte van James se misnoeë in sy toekomstige swaer.

Die meeste resensente dink die rolprent is maar flou. Rotten Tomatoes gee dit net 16 persent en bevind: “Hoewel Ride Along 2 se twee sterre goed saamwerk, kan hierdie opvolg nie die wet van afnemende opbrengs (the law of diminishing returns) ontduik of ’n draaiboek oorkom wat skaamteloos by die oorspronklik steel nie.”

Joshua Rothkopf van Time Out New York gee dit twee sterre en beskryf dit as “slordig, uitgeput en pynlik onsnaaks”.

  • Sandra Visser