Twee weke gelede het die bedrywige regisseur Darrell James Roodt die tema van plaasmoorde aangespreek met Treurgrond; nou bekyk hy die grensoorlog in Seun (16).

Die verhaal fokus op Paul (Deanre Reiners), ’n Karoo-boerseun wat in 1981 vir diensplig moet aanmeld. Maande later is hy terug van die oorlog en verlam. Sy verloofde sê hom af en sy verpletterde ouers (Elzette Maarschalk van Die Vierde Kabinet en Chris de Clerq van Egoli) moet hom versorg.
'In wese is Seun ’n rolprent oor die behandeling en hantering van ’n gestremde.'

Die Burger se Laetitia Pople gee Seun drie sterre. Sy voel die tonele waar Paul verlam is “simpatiek en uitstekend weergegee en vertolk (is) deur al die akteurs”, maar wonder hoekom die tema van die grensoorlog gekies is aangesien Darrell so “skramsweg (daarmee) omgaan. In wese is Seun ’n rolprent oor die behandeling en hantering van ’n gestremde.

Paul kon net sowel in ’n motorongeluk verlam geraak het”. Tog voel sy dit “raak ’n mens op ’n emosionele vlak” en dat “jy ’n klip moet wees as dit jou nie raak nie”.

Twee en twintig jaar ná die voortreflike lokettreffer Jurassic Park die wêreld verstom het met foto-realistiese dinosourusse, kom die vierde fliek in die reeks.

In Jurassic World (10-12OG) het die biljoenêr John Hammond (sir Richard Attenborough) se droom van ’n wildtuin met lewendige dinosourusse eindelik ’n werklikheid geword.

Ná 10 suksesvolle jare is die besoekertalle egter besig om af te neem en besluit die wetenskaplikes, soos gewoonlik, om ’n baie dom ding te doen: hulle skep ’n nuwe spesie dinosourus. Die wildkenner Owen Grady (Chris Pratt van Guardians of the Galaxy) voorspel groot moeilikheid, maar die park se bestuurder, Claire Dearing (Bryce Dallas Howard van The Help), sien net dollartekens. Verbasend genoeg lyk dit asof dit nie nog ’n flou opvolg dié is nie. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 72 persent. Hulle bevind: “Jurassic World kan nie by die oorspronklike kers vashou wat vindingrykheid en impak betref nie, maar dit werk in eie reg as ’n vermaaklike – en visueel indrukwekkende – springmielieriller.”

'Jurassic World is vars en opwindend.'

Die Britse fliektydskrif Empire se Chris Hewitt gee dit vier sterre. “Die regisseur Colin Trevorrow se selfversekerde avontuur is maklik die beste aflewering sedert Steven Spielberg se onberispelike oorspronklike fliek. Jurassic World is vars en opwindend, en al bring dit hulde aan die eerste fliek, is dit nie ’n slaafse nabootsing nie. Meer as genoeg nuwe kinkels word bygevoeg om ’n hele reeks opvolgprente te maak.”

As jy lus is vir ’n drama, is daar The Riot Club (16DTSG), wat handel oor twee ryk eerstejaarstudente by die Universiteit van Oxford – die plat op die aarde Miles (Max Irons van The Host), wat doodgelukkig is met sy werkersklasmeisie, Lauren (Holliday Grainger van Cinderella), en die snobistiese Alistair (Sam Claflin van The Hunger Games: Catching Fire), wat droom om soos sy oom ’n Tory-parlementslid te word. Hulle kry albei toelating to die Riot Club, ’n geheime organisasie van welgestelde jong mans wat gesteld is op hedonisme en glo geld kan enigiets koop.

Tydens hul jaarlikse ete, wat by ’n pub gehou moet word omdat die meer eksklusiewe eetplekke in Oxford hulle verban het, ruk dinge egter handuit toe hulle die ander klante ontstel.

Die meeste resensente dink die fliek is skaflik. Dit kry 54 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 66 persent en bevind: “The Riot Club is dalk nie subtiel nie, maar die fliek se standpunte word kragtig oorgedra deur die gebruik van galgehumor en ’n talentvolle rolverdeling. Dit bied ’n snydende blik op mense wat nie verdien om bevoorreg te wees nie.”

Empire se Ian Freer gee dit drie sterre. “Dis ’n gehalteproduksie en ’n vermaaklike kykie na die donker kant van bevoorregte mense, maar dit kort die diepte en insig om enigiets meer te wees,” skryf hy.

In die romantiese komedie 5 to 7 (10-12OS) begin Brian (Anton Yelchin van Star Trek), ’n jong aspirantskrywer in New York, ’n verhouding met die gesofistikeerde Franse vrou Arielle (Bérénice Marlohe van Skyfall). Hy’s geskok toe hy uitvind sy’s getroud, maar sy verduidelik vir hom dat sy en haar man, die diplomaat Valery (Lambert Wilson van Catwoman), aanvaar dat hul maat ’n minnaar of minnares het solank hulle diskreet is en die mens net saans tussen vyf en sewe sien. Maar kan Brian net tevrede wees met ’n affair? Kritici dink die fliek is goed. Rotten Tomatoes gee dit 67 persent en die konsensus is: “5 to 7 is te dikwels tevrede om romantiesekomedieclichés op te dis, maar die sjarmante akteurs, sensitiewe regie en slim draaiboek maak op daarvoor.”

'Soveel silwerdoekromanses is eintlik ’n vroulike fantasie.'

Moira Macdonald van The Seattle Times gee dit twee en ’n half uit vier sterre.

“Soveel silwerdoekromanses is eintlik ’n vroulike fantasie, so dis seker reg dat 5 to 7 voel soos ’n jong man se wensdenkery oor homself,” skryf sy.

“Ons vind nooit uit hoe Brian sy Manhattan-woonstel kan bekostig nie, maar, nou ja, ons het ook nooit geweet hoe Carrie Bradshaw (van Sex and the City) hare kon onderhou nie. Alles loop klopdisselboom vir die jong skrywer: hy begin gou-gou ’n affair met ’n beeldskone, ouer vrou, maak vriende met haar kil man en familie, wen ’n letterkundeprys en dan wil ’n innemende redakteur (Olivia Thirlby van Judge Dredd) ook sommer sy roman publiseer. Ek het aanhou wag vir ’n onthulling dat dit als ’n droom is of ’n roman is wat Brian skryf. Maar nee, dis als doodernstig en opreg. Daar’s wel ’n paar oulike oomblikke en New York lyk pragtig, maar die romanse voel nooit werklik nie.”

Die gewelddadige Everly (18G) speel af in ’n enkele lokaal: ’n vuil hotelkamer waar die titelkarakter (Salma Hayek van Frida), ’n Mexikaanse prostituut, wakker word en haarself dan moet verdedig teen ’n magdom sluipmoordenaars wat deur ’n mafiabaas gestuur is om haar af te maai.

Die meeste resensente dink dis swak. Metacritic gee dit 35 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 33 persent. Hulle bevind: “Everly trek voordeel uit Joe Lynch se stylvolle regie en Salma Hayek as ster, maar dit kan nie aanbeveel word nie weens die dun storie en grusame geweld.”

Die Britse fliektydskrif Total Film se Matt Glasby gee dit twee sterre.

“Daar is al wetenskapsfiksie-, gruwel- en rillerflieks gemaak wat net in een kamer afspeel, so hoekom nie ook ’n aksiefliek nie?” skryf hy.

“Die fliek begin belowend, maar soos die geweld van koeëls na bazookas toeneem en vlaag ná vlaag uiters onbeholpe aanvallers, polisielede en folteraars Everly verhoed om te onstnap, raak dinge vinnig ’n eentonige, dom en vrouehatende deurmekaarspul. Die ander akteurs is aaklig en selfs Hayek se toneelspel is op die vlak van ’n sepie. Die spesiale effekte is uitstekend, maar die fliek bevat ’n afstootlike seksuele sadisme wat keer dat dit enigsens vermaaklik is.”

Sandra Visser