Soos almal wat in flieks belangstel seker teen dié tyd weet, is die nuwe Star Wars fliek, The Force Awakens (13G), vandeesweek bekendgestel. Dis 10 jaar sedert die einde van die voorvolg trilogie wat deur meeste aanhangers as ’n groot teleurstelling beskou word en hierdie nuwe aflewering, met die energieke J.J. Abrams wat as regisseur by George Lucas oorneem, beloof om terug te keer na die kwaliteite van die fantastiese oorspronklike trilogie wat so baie kykers se verbeelding aangegryp het.

Om dit te vermy om die fliek vir lesers te bederf gaan ek nie ’n opsomming van die intrige gee nie; as jy ’n aanhanger is sal jy dit wil gaan kyk ongeag die storielyn. Gelukkig lyk dit asof die fliek ’n wenner is. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan films toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 95 persent. Hulle bevind: “The Force Awakens is propvol aksie en beide bekende en nuwe gesigte en slaag daarin om te herinner aan die reeks se eertydse glorie terwyl dit nuwe energie daarin blaas.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Helen O’Hara gee dit vier sterre. “Dit bied kragtige skop en stel ’n nuwe generasie karakters bekend wat teen die einde skouer aan skouer met Han, Leia en die res kan staan. Star Wars is terug, en dié is net die begin.”

As jy nie belangstel in wetenskapfiksie nie kan jy die Afrikaanse romantiese komedie Trouvoete (7-9OT) beproef. Dit handel oor dr. Louis van Est (Bouwer Bosch) en Ella Gouws (Erica Wessels) wat mekaar aanlyn ontmoet het en ’n verhouding aangeknoop het. Hulle het mekaar egter nog nooit in lewende lywe ontmoet nie en is bang om dit te doen. Dan kondig Ella se suster, Magriet (Lika Berning), aan dat sy en haar verloofde (Paul du Toit) beplan om op Kersdag te trou. Dalk is dit die perfekte geleentheid vir Louis en Ella om mekaar te leer ken?

Rozanne Els van Die Burger gee die fliek drie sterre. “’n Kersfliek is by uitstek ’n waagstuk. Dis óf ’n Kerstyd-rooi in die gesig oor skaamte óf -rooi van groot feesviering. Trouvoete slaag met ’n uiters prettige benadering en wonderlike akteursvernuf. Dis pret, daar is goeie toneelspel, die randkarakters is vermaaklik en dis pragtig verfilm. Al wat pla is die produkplasings wat die vloei van die storie en veral die teks steur.”

Die bekroonde aktrise Maggie Smith (Downton Abbey) speel die titelrol in The Lady in the Van (13TG), ’n komediedrama wat op ware gebeure gegrond is. Die Britse dramaturg Alan Bennett (Alex Jennings van The Queen) raak bevriend met ’n bejaarde vrou, mej. Mary Shepherd (Smith), wat in ’n gehawende kampeerwa oorkant sy oprit woon. Wanneer die polisie dreig om haar te verwyder bied Alan aan dat mej. Shepherd haar kampeerwa vir ’n paar weke in sy tuin parkeer. Sy het nooit weer getrek nie en het op die ou end 15 jaar daar gebly en geleidelik vind Alan uit van haar tragiese verlede.

Kritici is beïndruk met die fliek. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 67 uit 100, maar vreemd genoeg is daar ’n groot verskil tussen die twee webtuistes, want laasgenoemde gee dit 92 persent. Die konsensus is: “The Lady in the Van word gelei deur ’n wonderlike vertolking deur Maggie en die fliek wring aangrypede, dikwels skreeusnaakse insigte uit die bronmateriaal.”

Cath Clarke van Time Out London gee dit vier sterre en beskryf dit as ’n “uiters vermaaklike, snaakse fliek met ’n groot hart”.

Met die aanloop na Hollywood se toekenningseisoen word die liefdesdrama Carol (13SN) vir omtrent elke denkbare toekenning benoem. Dis gegrond op die roman The Price of Salt deur Patricia Highsmith en vertel die verhaal van die verbode liefde wat in die 50’s in Manhatten ontwikkel tussen ’n huisvrou (Cate Blanchett van The Lord of the Rings) en ’n winkelassistent (Rooney Mara van The Girl with the Dragon Tattoo).

Resensente is in vervoering oor die fliek. Rotten Tomatoes gee dit 92 persent en bevind: “Carol doen gestand aan die grensverskuiwende bronteks te danke aan Todd Haynes (I’m Not There) se knap regie en ’n sterk rolverdeling gelei deur Cate en Mara”.

Die Britse filmtydskrif Total Film se Kevin Harley gee dit vyf sterre. “Onder leiding van Haynes lewer Blanchett en Mara ’n liefdesverhaal wat jou sal laat smelt. Elke vlugtige blik tussen die karakters beteken iets en daar is geen sweempie van inspanning nie. Dié is fliekvervaardiging wat so natuurlik soos asemhaal voel.”

Victor Frankenstein (13GGr) is ’n poging om Mary Shelley se klassieke 1818 gruwelverhaal uit ’n vars oogpunt te vertel, naamlik dié van Igor (Daniel Radcliffe van die Harry Potter-flieks), ’n sirkusnar met ’n boggelrug wat deur die wetenskaplike Victor (James McAvoy van Wanted) van sy nare lot verlos word en sy assistent word in eksperimente om kunsmatig ’n lewende wese te skep.

Ongelukkig vir aanhangers van Daniel en James dink meeste kritici dis maar ’n powere poging. Metacritic gee dit 36 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 27 persent. Die konsensus is: “Hierdie herskepping het geen verbeelding nie. Die rolprent probeer ’n vars perspektief op ’n oorbekende verhaal bied, maar daar is min om kykers te interesseer wat reeds baie beter Frankenstein-flieks gesien het.”

Mark Kermode van The Observer gee dit twee sterre. “Die film probeer te hard om Guy Ritchie se Sherlock Holmes-flieks na te aap maar kort hul skerpsinnigheid en die toneelspel is te oordrewe. Die draaiboek doen nooit gestand aan die belowend slim premis nie en al bevat dit ’n paar avonture wat jou aandag sal behou kort die fliek ’n siel.”

Nog ’n groot ster wie se gruwelfliek poging in ’n ramp ontaard het is Vin Diesel met The Last Witch Hunter (13GGr). Die Fast & Furious-ster speel Kaulder, ’n kryger wat eeue gelede deur die Hekskoningin vervloek is met ewige lewe toe hy probeer het om haar en haar volgelinge uit te roei. Sy vrou en kind het in die swartdood gesterf en nou kan Kaulder nooit met hulle in die hiernamaals herenig word nie. Oor die jare het hy en ’n rits priesters probeer om die bose hekse vir eens en vir altyd te verslaan, maar nou is die Hekskoningin terug en moet Kaulder, die 37ste priester (Elijah Wood van The Lord of the Rings) en ’n goeie heks (Rose Leslie van Game of Thrones) probeer om haar te stop.

Die fliek kry net 16 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “The Last Witch Hunter is stroef, sukkelrig en pas nie by Vin se spesifieke talente nie. Dit sal almal behalwe kykers wat die minste verwag verveel en verwar.”

Ben Kendrick van screenrant.com gee dit twee sterre. “Die filmmakers skep ’n verbeeldingryke wêreld propvol treffende beelde en interessante mitologie. Ongelukkig word hierdie fondasie ondermyn deur melodrama, onoortuigende toneelspel en onindrukwekkende draaiboekwendings. Die film bied genoeg aksie en beelde vir aanhangers van Vin en bonatuurlike gruwel om dit in die teater te sien, maar ander kykers sal sukkel om iets te vind wat die fliek die moeite werd maak.”

Sandra Visser