As jy nostalgies voel of wonder hoe om die jongspan dié vakansie te vermaak, kan jy gerus Snoopy & Charlie Brown: The Peanuts Movie (O) gaan kyk.

Aanhangers van Charles M. Schulz se geliefde strokiesprentkarakters hoef nie bekommerd te wees dat hierdie ’n glansende, moderne herskepping is wat probeer byval vind by vandag se aandagafleibare kinders nie.

Al is die animasie nou met rekenaars gedoen, bly dit getrou aan Schulz se tekenstyl en lyk Charlie Brown, Snoopy en die res net soos ons hulle ken.

Die storie is deur Schulz se seun en kleinseun geskryf en volg ook die strokie se bekendste storielyne: Charlie (Noah Schnapp se stem) se pogings om met die rooikopmeisietjie (Francesca Angelucci Capaldi) te praat en Snoopy (Bill Melendez) se verbeeldingsvlugte waar hy die Rooi Baron die stryd aansê deur middel van sy vlieënde hondehok.

Die kritici is mal oor die fliek. By die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente toeken aan flieks bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, kry dit 86 persent. Hulle bevind: “The Peanuts Movie bied kleurvolle toegang tot hierdie klassieke karakters se wêreld en is innemend nostalgies dog nie juis ambisieuse bederf vir die volwassenes wat met hulle grootgeword het nie.”

Sandy Schaefer van screenrant.com gee dit vier sterre. “Die fliek slaag daarin om Peanuts ’n blinknuwe laag verf te gee terwyl dit die hart en medemenslike gees daarvan behou.”

’n Mens sou nie dink daar is nog lewe in die Rocky-reeks nie, maar die sewende aflewering, Creed (10G), is nou ook op die kringloop.

Adonis “Donny” Johnson (Michael B. Jordan van Fantastic Four) is die vervreemde seun van wyle Apollo Creed (Carl Weathers van Predator), een van die bokser Rocky Balboa (Sylvester Stallone) se indrukwekkendste teenstanders en vriend. Donny raak moeg vir sy kantoorwerk in Los Angeles en besluit om Philadelphia toe te gaan om Rocky op te soek en hom te oorreed om hom af te rig.

Dit klink dalk vreeslik flou, maar volgens die meeste resensente is dit allesbehalwe. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as Rotten Tomatoes werk, gee dit 82 uit 100 en by laasgenoemde kry dit ’n uitstekende 93 persent. Die konsensus is: “Creed laat die Rocky-franchise van die mat af opstaan vir ’n verbasend doeltreffende sewende ronde wat die bokser se sage in interessante nuwe rigtings stuur terwyl dit getrou bly aan die klassieke voorgangers.”

Scott Weinberg van nerdist.com gee dit vier en ’n half sterre. “Die goeie nuus is dat Creed dalk die beste Rocky-fliek sedert no. 1 is. Dis beslis die opregste. Dit het ’n goeie draaiboek, uitstekende toneelspel en is mooi verfilm. Dié is nie die gewone lui Hollywood-poging om munt te slaan uit ’n bekende naam nie.”

As jy stof tot nadenke soek kan jy Good Kill (13TGSD en Seksuele Geweld) probeer.

Ethan Hawke (Before Sunrise) speel ’n Amerikaanse weermagvlieënier wat nou hommeltuigaanvalle op die Taliban uitvoer van die veiligheid van ’n kantoor in die Nevada-woestyn. Maar wanneer hy moreel bedenklike opdragte van die CIA begin kry, raas sy gewete ál harder.

Die resensente dink dis ’n baie goeie fliek. Rotten Tomatoes gee dit 76 persent en beskryf dit as ’n “tydige, moderne oorlogfliek met ’n onrustige gewete wat jou sal laat nadink. Ethan se sterk vertolking anker die storie.”

Die Britse fliektydskrif Empire gee dit vier sterre en beskryf dit as “vreesaanjaend en tydig. Die skrywer en regisseur Andrew Niccol se tweede poging saam met sy Gattaca-ster (Ethan) bekyk die morele en sielkundige troebelheid van hommeltuig-oorlogvoering met ’n koel kop en stywe greep.”

Die romantiese komedie Elsa & Fred (7-9O) handel oor die iesegrimmige wewenaar Fred (Christopher Plummer van The Sound of Music) wat deur sy dogter (Marcia Gay Harden van Mystic River) gedwing word om in ’n woonstel in New Orleans in te trek.

Sy buurvrou is die vrolike Elsa (Shirley MacLaine van Terms of Endearment), wat nog altyd daarvan gedroom het om die bekende toneel in La Dolce Vita, waar Anita Ekberg in Rome se Trevifontein baljaar, te herskep. Ten spyte van hul teenstrydige persoonlikhede raak hulle verlief en gee mekaar weer lus vir die lewe.

Die meeste kritici is nie veel beïndruk met die rolprent nie. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit net 30 persent gegrond op 23 resensies. Metacritic is ’n bietjie toegeefliker en gee dit 49 uit 100.

Benjamin Lee van The Guardian gee dit twee sterre. “Gegewe die berugte ouderdomsdiskriminasie in die romantiese komedie-genre is dit verfrissend om ’n nuwe groep romkoms met ouer hoofkarakters te sien. Maar ná verlede jaar se And So It Goes, ’n mislukte poging met Michael Douglas en Diane Keaton, is dit ontmoedigend om nog ’n uiters vervelige aanbieding met goeie akteurs te sien. Shirley en Christopher raak onoortuigend maklik verlief te midde van prostaatgrappies wat jou sal laat kreun van skaamkry. Die fliek is so liggewig dit kan netsowel nie bestaan nie.”

Die misdaadriller Bus 657 (16TG) handel oor ’n desperate Black Jack-kaartdeler (Jeffrey Dean Morgan van Watchmen) wie se siek dogter gaan sterf tensy hy $300 000 in die hande kan kry om vir haar behandeling te betaal. Hy besluit al uitweg is om sy korrupte casino-baas (Robert De Niro van Goodfellas) te beroof.

Die resensente is glad nie opgetrek oor dié fliek nie. Metacritic gee dit 37 uit 100 en Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 24 persent gegrond op 25 resensies.

Chris Nashawaty van Entertainment Weekly gee dit ’n C en beskryf dit as “onmiddellik vergeetbaar en so generies soos die titel (die fliek se oorspronklike titel is Heist)”.

- Sandra Visser