Dié week is die belowendste nuwe flieks op ouer, ernstiger gehore gemik. 

Bridge of Spies (10-12O) is nog ’n politieke drama deur Steven Spielberg (Saving Private Ryan, Jurassic Park), een van die min regisseurs wat ’n uitstekende fliek in byna enige genre kan lewer.

Die ewe betroubare Tom Hanks (Forrest Gump) speel die Amerikaanse prokureur James B. Donovan, wat in 1957 gevra word om Rudolf Abel (Mark Rylance van Wolf Hall) te verdedig wat daarvan verdink word dat hy ’n Sowjet-spioen is. Donovan neem sy werk ernstig op en sy poging om ’n sterk verdediging vir Abel te bied veroorsaak dat die Amerikaanse publiek hom en sy gesin as volksverraaiers uitkryt.

Intussen word die Amerikaanse vlieënier Francis Gary Powers (Austin Stowell van Dolphin Tale 2) in Rusland afgeskiet en gevangene geneem. Die Russe is bewus van Donovan se hantering van Abel se saak en stel voor dat die VSA en die USSR onderhandel om Powers vir Abel te verruil, maar op een voorwaarde: Donovan moet namens Amerika optree.

Die meeste resensente dink dié fliek is uitstekend. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 92 persent, en bevind: “Bridge of Spies blaas nuwe lewe in Hollywood se klassieke formule vir ’n Koue Oorlog-spioenasieriller te danke aan betroubaar uitstekende werk deur Steven en Tom.”

John Beifuss van commercialappeal.com gee dit drie en ’n half sterre. “Dié fliek is slim en aangrypend en gemotiveer deur vertroue in Amerika se basiese ordentlikheid. Die rolprent se inherente kritiek van die huidige konserwatiewe politieke klimaat word aangebied uit die oogpunt van ’n patriot, nie ’n sinikus nie.”

Nog ’n fliek gegrond op ware maar aansienlik vroliker gebeure, is A Walk in the Woods (10-12OTS). Robert Redford (Butch Cassidy and the Sundance Kid) speel die skrywer Bill Bryson, wat ná twee dekades in Engeland na Amerika terugkeer en besluit om die uitdagende Appalachiese staproete aan te durf as ’n manier om weer in voeling te kom met sy vaderland. Hy nooi sy ou makker Stephen Katz (Nick Nolte van Cape Fear) saam, maar gaan diée twee onfikse mans in hul 70’s die roete kan baasraak?

Die meeste resensente is nie vreeslik opgemaak met dié rolprent nie. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 51 uit 100. By laasgenoemde kry dit 46 persent en die konsensus is: “Die fliek is innemend maar minder boeiend as wat enige rolprent met Robert en Nick behoort te wees. A Walk in the Woods is eindelik net te ordinêr.”

Die gesiene Britse kritikus Mark Kermode gee die film drie sterre op theguardian.com. “Die fliek vereis nie veel van die kyker nie. Daar is ’n paar lekkerlagoomblikke, maar al wat diepte het, is die natuurskoon.”

Die Christelike drama War Room (O) is vervaardig deur die broers Alex en Stephen Kendrick, wat ook vir Courageous (2011) en Fireproof (2008) verantwoordelik is.

Die paartjie Tony (T.C. Stallings) en Elizabeth Jordan (Priscilla C. Shirer) lyk dalk op die oog af asof hulle die perfekte lewe het, maar hul huwelik wankel weens geldprobleme en Tony se dwalende oog. Toe Elizabeth, ’n eiendomsagent, die huis van ’n bejaarde dame, Miss Clara (Karen Abercrombie), verkoop, raak hulle bevriend en Miss Clara begin Elizabeth die krag van gebed leer.

Die meeste resensente is nie juis beïndruk met die fliek nie. Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om konsensus te bereik nie, maar tot dusver gee hulle die rolprent 37 persent gegrond op 30 resensies.

Joe McGovern van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly gee dit ’n B- en is bly War Room “is nie nog ’n vervelige Sondagskoolpreek nie. Die vervaardigers is slim genoeg om die rolverdeling te diversifiseer en dis verfrissend om vrouebemagtiging as een van die hooftemas te sien.”

As jy gruwelflieks geniet, kan jy dalk Scouts Guide to the Zombie Apocalypse (16TGNGr) beproef. Soos die meeste zombie-flieks handel dit oor ’n groepie oorlewendes – in dié geval drie tienderjarige Boy Scouts – wat die gereg in eie hande neem toe zombies hulle dorp bedreig.

Die meeste kritici dink die fliek is laf. Metacritic gee dit 32 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 36 persent. Hulle bevind: “Scouts Guide to the Zombie Apocalypse doen nie gestand aan die prikkelend eksentrieke titel nie, en bied net nog ’n zombie-komedieriller met flou seksgrappies.”

Tom Huddleston van Time Out London gee dit een ster en beskryf dit as “ ’n aanstootlike en onsnaakse toevoeging tot die komedie-zombie-genre; bly liewer tuis met jou Shaun of the Dead (2004) DVD. Dié fliek bevat lui, gewelddadige vrouehaat wat moeilik is om te verduur. Alvrou wat nie ’n manhatende feeks of ’n dom flerrie is nie, is ’n ontkleedanseres in ’n sjoebroekie. Net ’n uiters onvolwasse 11-jarige seun sal dalk dié fliek se kru humor waardeer.”

Sandra Visser