In Burnt (13T) speel Bradley Cooper (The Hangover) ’n arrogante sjef in die Gordon Ramsay-styl. Hy’t sy belowende loopbaan met dwelms vernietig en noudat hy skoon is, probeer hy sy derde Michelin-ster verower. Maar om dit te doen sal hy sy humeur moet beteuel en die samewerking kry van sy personeel, onder wie die opstandige Helene (Sienna Miller van G.I. Joe: The Rise of Cobra).

Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om konsensus te bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 31 persent gegrond op 16 resensies.
slantmagazine.com gee die fliek ’n skamele een ster

Elise Nakhnikian van slantmagazine.com gee die fliek ’n skamele een ster. “Die fliek onderwerp die kyker aan eindelose skote van goue klonte onherkenbare kos wat op borde gedrup word, groen sous wat oor voorgeregte gesprinkel word en ’n vermoeiende hoeveelheid geykte dialoog wat hard probeer om betekenisvol te wees. Die hele storie volg ’n voorspelbare resep”.

Die jongspan sal dalk Molly Moon and the Incredible Book of Hypnotism (O) geniet. Dis gegrond op ’n kinderboek deur Georgia Byng en handel oor ’n weeskind (Raffey Cassidy van Tomorrowland) wat swaarkry by haar onaangename weeshuis. Dan vind sy ’n boek oor hipnose en gebruik dit om grootmense te oorreed om haar ’n wêreldbekende popster te maak. Maar die slinkse Nockman (Dominic Monaghan van The Lord of the Rings) weet wat haar geheime wapen is en probeer die boek steel.

Dié fliek is ook nog nie wyd geresenseer nie, en Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies om ’n konsensus te bereik nie, maar in dié stadium kry dit 17 persent gegrond op ses resensies.

MaryAnn Johanson van flickphilosopher.com gee dit omtrent ’n giftige resensie en net een ster. “Dié fliek se indrukwekkende rolverdeling, wat Emily Watson, Dominic, Celia Imrie, Anne-Marie Duff, Lesley Manville en Joan Collins insluit, en die voorskou sal dalk die indruk skep dat dit ’n vermaaklike fantasieavontuur in die trant van Harry Potter is,” skryf sy. “Maar moenie geflous word nie; hierdie desperate, afgryslike kinderfantasie is ’n onaangename sameflansing van verouderde grappies en weeskind-in-die-stad-clichés wat rondslinger tussen onwaarskynlik, gevaarlik en onopsetlik ontstellend, met grillerige towerkragte wat veronderstel is om sjarmant te wees maar eerder kommerwekkend is.”

Die Suid-Afrikaanse komedie The Jakes are Missing (O) handel oor die welvarende Jakes, ma Janice (Mampho Brescia van Jacob’s Cross), pa Donald (Pope Jerrod) en hul tienerseun, Simon (Mpho Sebeng van Soul Buddyz), wat gedwing word om die stadslewe vir die platteland te verruil nadat Simon ’n moord aanskou en hulle moet vlug. Janice en Donald se liefde het lankal getaan en hulle leef net vir hul loopbane, maar die gawe gemeenskap van Pampoenvallei laat hulle met nuwe oë na die lewe kyk.

Die webtuiste tvsa.com gee die rolprent twee sterre. “Dis verblydend dat daar deesdae so baie Suid-Afrikaanse rolprente op die kringloop is, maar soos Tell Me Sweet Something, Nothing for Mahala en Between Friends is The Jakes are Missing nog ’n romantiese komedie – al word daar dié keer darem meer op familie gefokus – en als is ’n bietjie te lighartig. Ons sien nog ’n fantasie oor ’n reënboognasie op steroïede wat nie eintlik enigiets met die meeste kykers se ware ervarings te doen het nie. Die akteurs en boodskap is goed, maar die fliek speel te veilig en volg die Amerikaanse resep te getrou na.”

Die drama The Diary of a Teenage Girl (18TSD) handel oor ’n tienermeisie (Bel Powley van A Royal Night Out) wat in 70’s San Francisco grootword en ’n affair begin met haar ma (Kristen Wiig van Bridesmaids) se kêrel (True Blood se Alexander Skarsgård).

Die meeste kritici is baie beïndruk met die fliek. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as Rotten Tomatoes werk, gee dit 87 uit 100. By laasgenoemde kry dit 95 persent en hulle bevind: “The Diary of a Teenage Girl is ’n openhartige grootwordverhaal wat sy temas en protagonis benader sonder om te veroordeel. Dis dapper onkonvensioneel en verfrissend eerlik.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Phil de Semlyen gee dit vier sterre en beskryf dit as “skitterend met veral goeie spel deur Bel”.

Die Paranormal Activity-reeks is nog ’n kanniedood gruwelsage. In die sesde en glo laaste aflewering, Paranormal Activity: The Ghost Dimension (ouderdomsbeperking nog nie bekend nie), word die toenemend verwikkelde mitologie van waarom die demone ’n sekere familie teister glo eindelik opgelos.

Ook hier het min kritici al die fliek onder oë gehad. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver kry dit 10 persent gegrond op 10 resensies.
'Dis net vervelig'

Paul Mount van starburstmagazine.com gee dit vier uit 10. “Die feit dat hierdie goedkoop vervaardigde reeks in die tuisvideostyl amper al $500 miljoen uit kykers gemaak het, is vreesaanjaender as enigiets wat in hierdie eentonige, voorspelbare en onlogiese aflewering voorgesit word,” skryf hy. “Weer trek ’n gesin by ’n huis in en begin een van die kinders vreemd optree omdat ’n demoon hom teiken. Die reeks se idees is nou op, en al gebruik dit elke moontlike truuk om jou te laat skrik, is dit net vervelig.”

  • Sandra Visser