Vandeesweek begin verskeie nuwe flieks draai.

Ná 30 jaar keer die gesiene Suid-Afrikaanse regisseur Jans Rautenbach (Die Kandidaat, Broer Matie) terug na die silwerdoek met Abraham (10-12O), ’n drama oor ’n onbekende Karoo-beeldhouer, Abraham Soetland (DJ Mouton), wat Rautenbach self geken het. Abraham maak sementbeelde van diere en probeer dit langs die pad aan motoriste verkoop, maar niemand sien hom eintlik raak nie. “Die kyker leer hom, sy vrou, Katie (Chantel Phillipus), en hul dogtertjie ken, asook die plaasmense van Oulap waar Abraham kom werk,” skryf Laetitia Pople van Die Burger. “Jy sien hoe naby die Bloutrein loop en jy sien hoe lyk moedverloor as niemand ’n dromer se werk werklik raaksien nie.”

Laetitia gee die film vier sterre. “Dit is ’n fliek wat met sy kyker werk, wat die siel streel, maar ook onthuts,” skryf sy. “Dit is deur ’n meester geskep wat met die binneste oog raaksien. Rolprente soos Abraham is ’n kosbare vonds omdat dit so skaars is.”

Hoewel sy voorkoms weer baie verander is vir die rol, laat Johnny Depp ’n slag maltrapkarakters soos Jack Sparrow en die Mad Hatter agter om ernstige toneel te speel. In die misdaaddrama Black Mass (16TGS) is hy die berugte misdadiger James “Whitey” Bulger, wat in die 70’s baas was van Boston se misdaad-onderwêreld terwyl die FBI ander pad gekyk het in ruil vir inligting oor ander skelms. Joel Edgerton (Exodus: Gods and Kings) speel teenoor Johnny as die FBI-agent John Connolly, wat saam met Bulger grootgeword het en hom nou as informant gebruik. Die rolverdeling sluit ook in Benedict Cumberbatch (The Imitation Game), Dakota Johnson (Fifty Shades of Grey), Kevin Bacon (Footloose) en Peter Sarsgaard (Green Lantern).

Die meeste resensente dink die fliek is goed. By die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan rolprente toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, kry dit 76 persent. Hulle bevind: “Black Mass vertel ’n aangrypende verhaal gegrond op feite – en laat gehore met een van Johnny se boeiendste rolle in jare.”
Die meeste resensente dink die fliek is goed.

Matt Neal van die Australiese koerant The Standard is egter nie heeltemal so beïndruk nie en gee dit drie sterre. “Dit is die Johnny Depp-vertolking dié waarvoor baie mense gewag het – geen kleurryke uitrustings, lawwe hoede, belaglike aksente en oordrewe spel nie,” skryf hy. “Pleks daarvan kry ons ’n verbasend onderbeklemtoonde vertolking. Ja, hy praat met ’n Bostonse aksent en hy het ’n kaalkop, maar dis steeds ver verwyder van Jack Sparrow, Mortdecai en wat ook al (die regisseur) Tim Burton (Edward Scissorhands, Alice in Wonderland) hom mee besig hou.

“Maar, gegewe Depp se vertolking en die gehalte van die res van die rolverdeling, is dit teleurstellend dat Black Mass nie beter is nie. Dis ’n interessante onderwerp en die film wil graag die volgende Goodfellas (1990) of The Departed (2006) wees, maar dit is nie. Die draaiboek is flou, te ongefokus en kort woema – vir ’n fliek met so baie moorde en afskuwelike dade is dit vreemd genoeg besadig en onopwindend. Dit is ’n verspeelde kans dié en daarom is dit ietwat van ’n teleurstelling.”

Die tienerdrama Me and Earl and the Dying Girl (13TD) handel oor twee vriende, Greg (Thomas Mann van Project X) en Earl (RJ Cyler), wat dit geniet om in hul eie wêreldjie te leef deur kortfilms te maak. Dan dwing Greg se ma (Connie Britton van Nashville) hulle om vriende te maak met Rachel (Olivia Cooke van Bates Motel), wat aan leukemie ly.

Die meeste resensente dink die fliek is baie goed. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 74 uit 100. Laasgenoemde gee dit 81 persent en die konsensus is: “Danksy ’n pragtige draaiboek en perfekte rolverdeling, is Me and Earl and the Dying Girl ’n grootwordverhaal met ongewone sjarme en insig.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Freer gee dit vier sterre. “Die rolprent kry die amper onmoontlike reg: dit balanseer skerpsinnigheid, hoërskoolsatire, ’n oulike uitbeelding van tienervriendskap, ’n liefde vir die rolprentkuns en reuse emosionele trefkrag. Nie een van hierdie elemente verwater die ander nie.”

Die drama Mississippi Grind (13TD) handel oor twee dobbelaars, Gerry (Ben Mendelsohn van Killing Them Softly) en Curtis (Ryan Reynolds van The Proposal), wat soos menige dobbelaars elke keer hoop hulle gaan dié keer die boerpot tref. Die twee verslaafdes ontmoet mekaar in ’n casino (waar anders?) en besluit om af te sit New Orleans toe vir ’n hoërisiko-pokerspel.

Kritici dink dis ’n uitstekende fliek. Rotten Tomatoes gee dit 89 persent en bevind: “Danksy goeie toneelspel en ’n outentieke atmosfeer wat die Amerikaanse Suide oproep, is Mississippi Grind ’n reisverhaal en verslawingsdrama wat genreclichés oortref.”

Ann Hornaday van The Washington Post gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Mississippi Grind is ’n verbasend bevredigende karakterstudie. Dis nie ’n sedeles of dekadente reisverhaal nie, maar handel oor die onwaarskynlike vriendskap tussen twee Peter Pans wat as hulle moet kies tussen werklikheid en fantasie, nie kan help om ’n verbeeldingsvlug te kies nie, al beteken hulle kom hard aarde toe.”

Vir die jongspan is daar die tekenprent Ooops! Noah Is Gone . . . (O). Dis die einde van die wêreld en die vloed is op pad, maar gelukkig het Noag ’n ark gebou. Dave (Dermot Magennis se stem) en sy seun, Finny (Callum Maloney), is gediertes genaamd Nystrians wat hulle na die ark haas, maar dan agterkom dat hulle nie kan inkom nie. Met behulp van nog twee gediertes genaamd Grymps, Hazel (Tara Flynn) en haar dogter, Leah (Ava Connolly), kry hulle dit reg om aan boord te sluip. Hulle dink hulle is veilig, tot die twee bloedjies per ongeluk in die water val. Hoe nou gemaak?

Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie, en Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om konsensus te bereik nie, maar sover kry die film 25 persent gegrond op 12 resensies.

Cath Clarke van Time Out London gee dit drie sterre en beskryf dit as “ ’n aangename maar flou kinderfliek. Vir grootmense is daar die punt dat die diere wat dit nie tot op die ark maak nie hulself aan die verkeerde kant van evolusie bevind, en dis tot ’n mate interessant. Daar is geen teken van Noag of die Skepper nie en die storie is vervelig, maar daar is darem ’n paar lekkerlagoomblikke.”

Vir liefhebbers van dansflieks is daar Breaking Through (7-9TO), wat gaan oor ’n hip-hopdanser (Sophia Aguiar) wat deur ’n bestuurder raakgesien word wat haar roem en rykdom aanbied.

Die film is ook nie wyd gesien deur kritici nie. David Noh van filmjournal.com beskryf dit as “sieldodend, resepmatig en beslis een van die saaiste musiekblyspele ooit”.

  • Sandra Visser