Maze Runner: The Scorch Trials (13GGr) is die opvolg op verlede jaar se The Maze Runner, waarin ’n groep tieners met geheueverlies in ’n doolhof geplaas is en moes probeer oorleef. Die fliek het geëindig waar ’n paar van hulle ontsnap het, en in die tweede aflewering bevind hulle hulself in ’n woesteny bekend as die Scorch en moet hulle steeds vlug vir die maatskappy WCKD wat geheimsinnige planne met hulle het.

Die meeste kritici dink die fliek is skaflik. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 51 persent. Hulle bevind: “Die fliek is propvol aksie, maar ten koste van die storie, dringendheid en geheimsinnigheid wat die eerste fliek gebied het.” Die Britse fliektydskrif Empire se Helen O’Hara gee dit drie sterre. “Die eerste fliek het dadelik te midde van die aksie weggespring en kykers sonder ’n bevredigende slot gelaat,” skryf sy. “Hierdie verwerking, wat nie getrou aan die oorspronklike roman is nie, het ook nie ’n begin of ’n einde nie, en ons jaag net saam met Thomas (Dylan O’Brien van die TV-reeks Teen Wolf) en sy vriende terwyl hulle van WCKD, die werklik vreesaanjaende, zombieagtige Kranks en woestynbendes probeer vlug.

Al is die fliek ’n uiters onvolledige middelhoofstuk is dit ten minste nooit vervelig nie

“Daar is ’n paar kleurryke karakters en dieper oomblikke tussen al die chaos, so al is die fliek ’n uiters onvolledige middelhoofstuk is dit ten minste nooit vervelig nie. Die rolprent word slegs aanbeveel vir diegene wat die eerste fliek gesien het en beplan om die derde te kyk. In vergelyking met ander middelflieks is dit vermaaklik en juis beter omdat dit nie so getrou aan die bronteks is nie.”

Robert De Niro (Taxi Driver) en Anne Hathaway (The Devil Wears Prada) is die sterre van The Intern (7-9TVGD). In dié komedie speel Anne Jules, ’n jong sakevrou wat sukkel om haar aanlyn modebesigheid met ma-wees te balanseer. Robert speel Ben, ’n afgetrede wewenaar wat besluit die afgetrede lewe is nie vir hom nie en aansoek doen vir ’n pos as assistent vir Jules. Sal dié twee mekaar iets kan leer?

Die meeste kritici dink die fliek is oukei. By Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit 51 uit 100. Laasgenoemde gee dit 49 persent en die konsensus is: “The Intern doen nie genoeg met sy tydige intrige nie, maar trek tog voordeel uit die onverwags oortuigende en sjarmante verhouding tussen twee talentvolle akteurs.”

Rafer Guzman van newsday.com gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Die uitgangspunt van The Intern kon in een van twee rigtings gegaan het,” skryf hy. “In fliek nommer een leer die baasspelerige Jules daar is waarde in haar fatsoenlike, 70-jarige assistent se uitkyk op die lewe. Ben leer weer by haar hoe om deel te neem aan die moderne, tegnologies gevorderde wêreld. In fliek nommer twee raak hulle verlief.

“Gelukkig is The Intern fliek nommer een. Dis ’n generasiegapingrolprent waarin ouderdom eintlik onbelangrik is en waarin amper niks gebeur nie, maar dis ’n aangename deurmekaarspul wat slegs slaag danksy Anne en Robert se innemendheid en die blywende vaardighede van die skrywer-regisseur Nancy Meyers (Something’s Gotta Give, The Holiday). Haar ligte komediestyl en sprankelende dialoog maak dit genotvol.”

Die wetenskapsfiksierolprent Self/Less (13G) handel oor Damian (Ben Kingsley van Gandhi), ’n eiendomsmagnaat wat sterwend is aan kanker. Uit desperaatheid wend Damian hom tot ’n misterieuse dokter (Matthew Goode van Watchmen) wat sy verstand na die liggaam van ’n jong man (Ryan Reynolds van Green Lantern) oorplaas. Damian dink dis ’n tweede kans op die lewe, maar gou-gou vind hy uit daar is vangplekke.

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Rotten Tomatoes gee dit slegs 20 persent en bevind: “Self/Less se intrige het hope potensiaal, maar doen frustrerend min daarmee. Die filmmakers is tevrede daarmee om op vervelige aksie te fokus ten koste van interessante idees.”
Die meeste resensente dink die fliek is swak.

Linda Cook van qctimes.com gee dit een en ’n half ster. “Wat aanvanklik na ’n interessante wetenskapsfiksieverhaal lyk, verander in ’n Bourne-tipe riller met ’n einde wat die gehoor verkul,” skryf sy. “Kingsley sowel as Reynolds lewer goeie vertolkings, maar jy is nooit oortuig dat hulle dieselfde mens is nie.”

Die plaaslike fliek Necktie Youth (16TSVD) is ’n swart-en-wit drama met ’n dokumentêre gevoel wat poog om die Suid-Afrikaanse jeugkultuur vas te vang, skryf Stephen “Spling” Aspeling op sy webtuiste, spling.co.za. Hy gee dit sewe uit 10 en beskryf dit as ’n stylvolle, uitdagende drama wat jou sal laat nadink.

  • Sandra Visser