Drie nuwe Afrikaanse flieks begin dié week draai!

Die ware lewensdrama Dis Ek, Anna (18TG & Seksuele Geweld) is gegrond op die gelyknamige roman deur Anchien Troskie wat onder die skuilnaam Elbie Lötter geskryf het. Dit handel oor ’n vrou (Charlene Brouwer) wat probeer verwerk dat haar stiefpa (Morné Visser) haar gereeld tydens haar tienerjare verkrag het.

Die fliek gaan moontlik omstrede wees omdat dit onverskrokke die donker wêreld van seksuele mishandeling bekyk en het reeds die Suid-Afrikaanse Film-en-rolprentraad se toorn gewek; die raad voel dit “grens aan pornografie” en het dit die hoogste ouderdomsbeperking moontlik gegee.
Die fliek gaan moontlik omstrede wees omdat dit onverskrokke die donker wêreld van seksuele mishandeling bekyk.

Charl Blignaut van City Press gee dit agt uit 10 en voel dit “gaan die Afrikaanse gemeenskap ruk”. Hy dink die akteurs is almal puik, veral Visser “wat uitstekende spel lewer in wat sekerlik die moeilikste rol van sy loopbaan is”. “Dis ’n teenvoeter vir die huppelende romantiesekomedie-lokettreffers wat die Afrikaanse bedryf so omarm en het meer gemeen met Oliver Hermanus se geniale prent Skoonheid,” skryf hy.

Die Pro (O) is ’n grootworddrama en handel oor die matriekleerder Tiaan Nothnagel (Edwin van der Walt van Hollywood in My Huis) wat sukkel om sy beste vriend, Dirkie, se dood te verwerk. Sy groot passie is branderplankry, maar ná Dirkie se dood sien Tiaan nie meer daarvoor kans nie. Dan daag Dirkie se tweelingsuster op en vra Tiaan se hulp om haar branderplankry-vaardighede op te knap sodat sy kan gekies word om deel te neem aan ’n internasionale kompetisie. Sal hy oor sy wrok teen die see kan kom en haar help?

Op sy webtuiste, spling.co.za, gee Stephen Aspeling die fliek “ ’n bevredigende ses (uit 10)”. “Dis resepmatig en herinner aan (die Amerikaanse branderplankry-fliek) Chasing Mavericks (2012), maar Die Pro is ’n bekwame branderplankry-fliek wat steun op ’n wonderlike wisselwerking tussen die innemende hoofakteurs en ’n roerende storie,” skryf hy.

Die geliefde Maya die By (alle ouderdomme), wat haar oorsprong in ’n Duitse kinderboek het, kry nou haar eie film. In Suid-Afrika is dié karakter se gewildheid te danke aan die Japannese animasiereeks wat in die 1980’s in Afrikaans vertaal en hier uitgesaai is. Die goeie nuus is dat die nuwe Duits-Australiese fliek ook in Afrikaans vertaal is. Nou kan ’n nuwe geslag kleingoed dié moedige bytjie en haar maatjies leer ken.
Nou kan ’n nuwe geslag kleingoed dié moedige bytjie en haar maatjies leer ken.

Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie, maar tot dusver kry die rolprent 50 persent gegrond op 12 resensies.

Maar Jennie Kermode van eyeforfilm.co.uk gee dit vier sterre. “Dié fliek is gemik op vier- tot agtjariges en die storie se pas is versigtig beplan om hulle aandag te behou,” skryf sy. “Daar is gereelde dosisse opwinding en skouspel om ’n opgeruimde gevoel te behou en al is daar ’n paar hartseer- en bangmaaktonele, hou hulle nie lank genoeg aan om die kleintjies te ontstel nie. Die jongspan sal dit keer op keer wil kyk.”

Nog ’n fliek wat die hele gesin kan geniet, is Max (OG). Die titelkarakter is ’n hond wat deur die Amerikaanse weermag opgelei is om bomme uit te snuffel in Afganistan, maar nadat sy hanteerder, Kyle Wincott (Robbie Amell van The Duff), in ’n Taliban-lokval sterf, word die getraumatiseerde Max huis toe gestuur om by Kyle se familie te gaan woon. Kyle se rebelse tienerbroer, Justin (Josh Wiggins), probeer alles wees wat die ordentlike Kyle nie was nie, maar dalk sal Max hom rigting kan help kry.

Die meeste kritici dink die fliek is maar flou. Op die webtuiste Metacritic, wat nes Rotten Tomatoes werk, kry dit 47 uit 100. Laasgenoemde gee dit 35 persent en die konsensus is: “Max het goeie bedoelings en probeer hart om te herinner aan klassieke gesinsvriendelike flieks, maar die onsamehangende, manipulerende intrige oorweldig die talentvolle sterre – mens sowel as dier – se beste pogings.”

Tom Huddleston van Time Out London gee dit twee sterre en beskryf dit as ’n “lomp, soetsappige melodrama”.

Vir kykers wat van oorlewingsdramas hou, is daar Everest (7-9O), gegrond op ware gebeure. In 1996 lei die ervare gids Rob Hall (Jason Clarke van Terminator: Genisys) ’n groep klimmers op ’n ekspedisie uit teen die hoogste piek ter wêreld. Maar die teenwoordigheid van te veel mededingende amateur-ekspedisies en gure weer lei tot ’n ramp. Die sterbelaaide rolverdeling sluit in Jake Gyllenhaal (Source Code), Sam Worthington (Clash of the Titans), Josh Brolin (No Country For Old Men), Emily Watson (War Horse) en Keira Knightley (Pride & Prejudice).
Die meerderheid kritici dink die fliek is baie goed.

Die meerderheid kritici dink die fliek is baie goed. By Rotten Tomatoes kry dit 75 persent en die konsensus is: “’n Mens verwag verbysterende kinematrogafie van ’n fliek oor bergklimmers, en dis wat Everest in oormaat lewer. Die verhaallyn is egter minder uitdagend.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Kim Newman is minder beïndruk en gee dit drie sterre. “Die fliek is skouspelagtig en bevat goeie toneelspel, maar sukkel met dieselfde probleem as die situasie wat dit uitbeeld – te veel karakters en te veel intriges, wat elkeen se slaankrag afwater,” skryf hy.

Vir kunssinnige kykers is daar die Chinese romantiese drama Coming Home (7-9), die regisseur Zhang Yimou (Hero, House Of Flying Daggers, The Flowers Of War), en sy voormalige muse, die aktrise Gong Li (Miami Vice), se eerste gesamentlike projek sedert 1995. Sy speel die vrou van ’n professor (Chen Daoming) wat tydens China se Kulturele Revolusie toegesluit word weens beweerde ondermynende aktiwiteite teen die staat. Maar toe hy jare later vrygelaat word, kan sy vrou hom nie onthou nie.

Die kritici is in vervoering oor dié prent. Metacritic gee dit 81 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 92 persent. Hulle bevind: “Coming Home is een van die min tranetrekker-melodramas met ’n sosiaal-politieke subteks. Dit roer die hartsnare en is kragtige stof to nadenke.”

Mike D’Angelo van The A.V. Club gee dit ’n B. “Die idee dat Li se karakter nie haar man kan onthou nie, is effens vergesog, maar die fliek is ’n doeltreffende tranetrekker met hope emosie en visuele trefkrag.”

Die riller The Perfect Guy (16SG) handel oor die mooi en suksesvolle Leah (Sanaa Lathan van Something New) wat pas haar kêrel (Morris Chestnut van The Call) afgesê het omdat hy nie kans sien om te trou nie. Sy ontmoet die aantreklike en sjarmante Carter (Michael Ealy van die TV-reeks Almost Human), wat aanvanklik na die perfekte ou lyk, maar wie se gedrag ál meer besitlik en ontstellend raak.

Die resensente dink die film is flou. Rotten Tomatoes gee dit ’n skamele 20 persent en bevind: “The Perfect Guy dreig om vermaaklike, gewaagde nonsens te word, maar eindelik hou dit net by bedeesde clichés.”
Die resensente dink die film is flou. Rotten Tomatoes gee dit ’n skamele 20 persent.

Christy Lemire van rogerebert.com gee dit twee sterre. “Die fliek is eintlik te smaakvol en te mak; daarom staan die enkele mal oomblikke waarin Carter uithaak uit as onopsetlik snaaks omdat hulle nie by die res pas nie,” skryf sy. “Die oorgekwalifiseerde, innemende akteurs doen hul bes met die flou gegewe, maar daar is geen spanning nie omdat Carter net te skielik verander. Soos hy, lyk die fliek mooi, maar gaan daar nie veel onder die oppervlak aan nie.”

Zac Efron (High School Musical) probeer steeds bewys hy is meer as net ’n mooi gesiggie, dié keer in We Are Your Friends (16TD), ’n musiekdrama oor ’n jong platejoggie, Cole (Efron), wat van ’n roemryke loopbaan droom. Maar toe ’n superster-platejoggie, James (Wes Bentley van American Beauty), hom onder sy vlerk neem, word Cole se aandag deur James se nimlike assistent en meisie (Emily Ratajkowski van Gone Girl) afgelei.

Die resensente is nie vreeslik beïndruk nie. By Metacritic kry dit 46 uit 100 en Rotten Tomatoes gee dit 42 persent. Hulle bevind: “We Are Your Friends bevat innemende sterre en insiggewende oomblikke, maar dit gaan verlore in ’n grootworddrama vol clichés.”

David Hughes van Empire gee dit drie sterre. “Die fliek is op sy beste wanneer dit op Efron, Ratajkowski en Bentley en gesprekke oor musiek konsentreer, maar die intrige is resepmatig en lomp.”

Sandra Visser