Dié week begin Schuks! Pay Back the Money! (10-12TV), wat Leon Schuster sê sy laaste poetsbakfliek is. Soos voorheen is daar ’n flouerige storie as raamwerk vir die dele wat kykers eintlik wil sien, naamlik Leon wat homself vermom en die bloeddruk van Suid-Afrikaners opjaag met sy manewales.

Die storie handel oor Shuster wat die Curriebeker verloor. As boete gee die minister van sport (Desmond Dube) hom opdrag om ’n dokumentêr te maak wat Suid-Afrika in ’n goeie lig stel. Dis dan tydens die “dokumentêre” tonele waar hy onder andere as ’n regeringsamptenaar mense by ’n drankwinkel in Gansbaai takel oor hulle drankgebruik en as karwag mense se motors met spuitverf bydam.

Soos met al sy flieks sal niks wat resensente sê fliekgangers afsit nie, maar op netwerk24.com gee Karla Janse van Vuuren dit drie sterre. “Die gekskeerdery is so goed dat dit herinner aan ’n treffer soos You Must Be Joking! (1986),” skryf sy. “As jy ’n bietjie wil ontvlug en wil lag vir ernstige kwessies soos korrupsie en beurtkrag, sal jy dié fliek geniet.”

Diegene wat op soek is na iets meer diepsinnig kan Mr. Holmes (7-9O) probeer. Die bekroonde akteur Ian McKellen (Gandalf in die Lord of the Rings-trilogie) speel die befaamde speurder Sherlock Holmes op 93. Dis 1947 en Sherlock voer ’n afgesonderde bestaan in Sussex, Engeland. Sy geheue is besig om hom in die steek te laat en ’n onopgeloste saak van 30 jaar gelede spook steeds by hom. Sal Holmes vir oulaas sy reputasie gestand kan doen?

Die meeste kritici dink dis ’n uitstekende fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 87 persent. Die konsensus is: “Mr. Holmes fokus op die man agter die speurverhale, en al kort dit dalk die soort opwinding wat ’n mens van ’n Sherlock Holmes-verhaal verwag, vergoed dit daarvoor met delikate drama en goeie toneelspel.”

Nick de Semlyen van die Britse fliektydskrif Empire gee dit drie sterre. “Alhoewel hierdie stylvolle, roerende en genuanseerde uitbeelding van ’n man spog met nog ’n uitstekende vertolking deur McKellen is dit nie noodwendig ’n bevredigende uitbeelding van hierdie man nie,” skryf hy. “Dis moeilik om hierdie siniele figuur te verbind met Arthur Conan Doyle se voortvarende Victoriaanse held van. Die storie het so ver weggedwaal van die bronteks dat sommige kykers dalk mag voel hulle is om die bos gelei. ’n Rustige vermenging van speurverhaal en innemende karakterstudie.”

Die drama Jenny’s Wedding (10-12O) fokus op die titelkarakter (Katherine Heigl van Grey’s Anatomy), wat openlik gay is behalwe voor haar konserwatiewe familie. Na haar ma (Linda Emond) haar op die hoeveelste afspraak met ’n man probeer stuur besluit Jenny om hulle die waarheid te vertel en met haar lewensmaat, Kitty (Alexis Bledel van die TV-reeks Gilmore Girls), te trou. Maar hoe gaan haar ma, pa (Tom Wilkinson van The Full Monty) en suster (Grace Gummer van die TV-reeks Extant) reageer?

Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie, en Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik, maar sover gee hulle dit 15 persent gebaseer op 13 resensies. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag werk, gee dit 34 uit 100.

Noel Murray van The A.V. Club gee dit ’n C-. “Indien hierdie fliek 20 jaar gelede gemaak is sou dit dalk vandag met nostalgie onthou word. Onthou jy in die 90’s toe omtrent elke hoofstroomfliek met ’n gay tema gehandel het oor die oomblik wat die persoon hul familie moet vertel? En toe enige stergedrewe fliek oor homoseksualiteit die onderwerp op ’n weifelende en senuweeagtige manier hanteer het? Hierdie twee temas word in dié fliek hanteer asof daar in die laaste dekades geen vordering gemaak is nie. Nie dat homoseksualiteit deesdae universeel aanvaar word nie, maar daar was al hoeveel beter films en TV-reekse oor dieselfde onderwerp. Al wat dit kykbaar maak is die betroubare akteurs wat die gekunstelde dialoog ’n bietjie lewe gee.”

Dit klink asof die vervaardigers van die riller Impunity (16TGSN) probeer het om die Suid-Afrikaanse weergawe van die skokkende Natural Born Killers (1994) te maak. ’n Kelnerin (Alex McGregor van die Spud-flieks) word deur haar baas verkrag, maar word gered deur ’n klant (Bjorn Steinbach) vir wie sy vroeër die aand ogies gemaak het. Hulle vermoor die baas en “hiervandaan jaag hulle na ’n strand waar hulle die bloed van hul hande afwas, ’n groot vuur maak, soos wolwe vir die maan huil en seks het,” skryf Die Burger se Rozanne Els. “Daarna is hulle by vriende waar seksuele innuendo en ’n klompie swak uiteengesette tonele aan die orde van die dag is. Dis nie lank nie of die vriende lê ook in poele bloed. Só gaan dit voort – tot die dood van ’n minister se dogter die polisie op hul spoor plaas. Dan begin dinge nog meer ontrafel – die fliek ook.”

Els gee dit net een ster. “Impunity is ’n verwarrende kronkelgang. Die tonele drup van clichématige metafore en oordadige simboliek deurspek met tydspronge tussen die hede en die verlede. (Die) storie is besaai met boodskappe oor die toestand van die land, alles met ’n seksuele ondertoon en eksplisiete tonele wat nooit regtig geregverdig is nie. Die dialoog is stomp en ongemaklik, die toneelspel laat jou ineenkrimp.”

James Franco (127 Hours) speel die hoofrol in die drama Every Thing Will Be Fine (10-12OD), wat handel oor ’n sukkelende skrywer wat per ongeluk ’n kind doodry en hoe sy skuldgevoel hieroor sy hele lewe laat ontrafel. Rachel McAdams (The Vow) en Charlotte Gainsbourg (Nymphomaniac) is ook onder die rolverdeling.

Die fliek is ook nog nie wyd geresenseer nie en sover het Rotten Tomatoes nog geen resensies bymekaargemaak nie. Metacritic gee dit 34 uit 100.

Patrick Gamble van cine-vue.com gee dit twee sterre. “Daar is ’n ambivalente gevoel teenoor die karakters, en Franco is kil en onsimpatiek,” skryf hy. “Die aanhoudende somber atmosfeer, ongesofistikeerde redigeringstegnieke en tydspronge maak dit moeilik om te verstaan waar jy jou in die verhaal bevind. Dis duidelik dat die regisseur Wim Wenders wil aandui dat tyd nie alles genees nie, maar sy boodskap is van die begin af so kinderlik voor die handliggend dat dit ’n beproewing is om deur die rolprent te sit.”

Die Deense drama A Second Chance (16TGD) spog met Game of Thrones-akteur Nikolaj Coster-Waldau (Jaime Lannister) in die hoofrol. Hy speel Andreas, ’n polisieman wat sy lewe geniet saam met sy mooi vrou en pasgebore babaseun. Maar dan sterf hulle kind. Een dag word Andreas uitgeroep na die tuiste van ’n dwelmverslaafde paartjie. Daar vind hy hul mishandelde baba en vat die kind om die leemte in sy lewe te probeer vul.

Rotten Tomatoes het nog nie ’n konsensus bereik nie, maar soveer gee hulle dit 45 persent gebaseer op 20 resensies. Simon Kinnear van die Britse fliektydskrif Total Film gee dit twee sterre. “Hierdie melodrama probeer om jou diep te raak, maar loop ’n ernstige bloutjie. Slegs Coster-Waldau kry dit reg om enige waardigheid aan die sensasiesoekende draaiboek te verleen. Die drama berus op onsubtiele wendings en is daarop uit om jou teneurgedruk te maak.”

Sandra Visser