Diegene wat teleurgesteld was met Kingsman: The Secret Service, wat sjarmante en stylvolle spioenasieavonture belowe het maar toe in siniese en nare geweld en seksisme ontaard het, kan gerus The Man from U.N.C.L.E. (13G) probeer. Dié fliek is gegrond op die gelyknamige reeks uit die 60’s en speel steeds in daardie era af. Dit handel oor twee spioene, die CIA-agent Napoleon Solo (Henry Cavill van Man of Steel) en die Rus Ilja Koerjakin (Armie Hammer van The Lone Ranger), wat koppe stamp nadat albei probeer om die dogter (Alicia Vikander van Anna Karenina) van ’n Nazi-kernwetenskaplike uit Oos-Berlyn te kry. Hulle is nog besig om te redekawel toe die CIA en KGB uitvind dat ’n welgestelde paartjie die wetenskaplike ontvoer het om hul eie bom te bou. Solo en Koerjakin word beveel om saam te werk en sit af Rome toe.

Die meeste kritici dink die fliek is genotvol. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 66 persent. Hulle bevind: “The Man from U.N.C.L.E. probeer jou aandag van ’n onmerkwaardige storie aflei deur middel van charismatiese sterre en opwindende aksie; daarom is die fliek ’n oneweredige aksieriller met net genoeg styl om die gebrek aan substansie te oorkom.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Helen O’Hara gee dit drie sterre. “Die openingstoneel, waarin dié twee helde intellek, fisieke krag, motors en kwinkslae inspan om mekaar die stryd aan te sê, is totaal en al heerlik, en as die res van die rolprent op daardie vlak was, sou dit ’n klassieke fliek gewees het,” skryf sy. “Ongelukkig vorder die storie hierna vreeslik stadig. Daarna is daar maar min aksietonele, wat aanvaarbaar sou gewees het as hulle nie so deurmekaar was wat hul doelwitte en uitvoering betref nie. Die skurke maak ook nie veel van ’n indruk nie. Cavill en Hammer is gemaak vir mekaar, maar die fliek kan nie altyd die skouspel verskaf om hulle te ewenaar nie.”

Soos The Fault in Our Stars (2014) is die tienerdrama Paper Towns (10-12O) nog ’n verwerking van ’n jeugroman deur John Green. Nat Wolff (Behaving Badly) speel die bleeksiel Quentin wat al sy hele lewe lank gefassineer is deur die buurmeisie Margo (die model Cara Delevingne), ’n beeldskoon maar aweregse karakter wat daarop uit is om nie te konformeer met enigiemand se verwagtinge nie. Een nag nooi Margo Quentin op ’n avontuur deur hulle dorp, maar ná die onvergeetlike nag verdwyn sy en laat kriptiese leidrade vir Quentin om haar te vind.

Die meeste resensente dink die fliek is goed. Dit kry 56 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 56 persent en bevind: “Paper Towns is nie so diep of roerend soos dit wil wees nie. Dis egter opreg en peinsend genoeg en bevat genoeg goeie toneelspel om ’n plek in tienerharte verdien.”

Geoffrey Macnab van die Britse koerant The Independent gee dit drie sterre. “Die rolprent bevat gelukkig nie die sentimentaliteit waaronder The Fault in Our Stars gebuk gegaan het nie. Die innemende Delevingne pas in die rol van Margo, wat Wolff soos ’n muse betower.”

Die musiekdrama Boychoir (O) fokus op ’n 12-jarige seun, Stet (Garrett Wareing), met ’n alkolis-ma en ’n negatiewe houding, maar die stem van ’n engel. Toe sy ma sterf, verskyn Stet se ryk pa (Josh Lucas van Poseidon) op die toneel en gaan laai hom af by die voortreflike American Boychoir School waar hy deur die ander seuns geboelie word en vassit met die koorleier (Dustin Hoffman van Rain Man). Sal Stet kan bewys dat hy daar hoort?

Die meeste kritici dink die fliek is gemiddeld. By Rotten Tomatoes kry dit 52 persent en die konsensus is: “Boychoir rus swaar – en nie altyd gemaklik nie – op Dustin Hoffman se skouers, wie se tipies uitstekende spel nie altyd genoeg is om op te maak vir die voorspelbare storie nie.”

Tom Huddleston van Time Out London gee dit twee sterre. “Die rolprent se regie en toneelspel is skaflik en meestal kykbaar, maar dis stroperig en verdien glad nie so ’n indrukwekkende rolverdeling (onder wie Kathy Bates, Debra Winger en Eddie Izzard) nie. Jy sal elke wending ’n myl ver sien kom en met elke emosionele oomblik wat so oordrewe is, sal jy harder gil as die laaities dat die fliek moet eindig.”

Die dokumentêr Glory Game – The Joost van der Westhuizen Story (7-9TO) vertel die verhaal van hierdie eens top-Springbok en hoe sy lewe handomkeer verander het nadat motorneuronsiekte by hom gediagnoseer is. Die regisseur Odette Schwegler en haar span het 18 maande by hom deurgebring om alle aspekte van sy bestaan vas te vang.

Marizanne Kok van Beeld gee dit vier sterre en sê Joost wou met die fliek wys dat mense hom nie moet jammer kry nie. “In sy gedagtes is dit die pad dié waarop die noodlot hom gedwing het omdat hy dit kan gebruik om ’n verskil te maak,” skryf sy. “Die fliek het heelwat oomblikke wat die traankliere laat werk. Maar daar is ’n lag saam met die traan. Deur alles het Joost sy humorsin behou. Dis nie ’n fliek wat jy sal gaan kyk as jy koud teenoor (Joost) staan nie. As jy draaie om swaar onderwerpe stap, sal jy dié een vermy. Maar dit is ’n fliek wat jou geld werd is, al is dit net vir Schwegler en Joost se pogings om persepsies en mense se lewensuitkyk te verander.”

Sandra Visser