In die vyfde aflewering in die reeks, Mission: Impossible – Rogue Nation (13G), kom die superspioen Ethan Hunt (Cruise) en sy span by die Impossible Missions Force (IMF) te staan teen The Syndicate, hul bose teenpool wat die wêreld in ’n chaos wil dompel en die IMF wil vernietig. Dis min dat die vyfde fliek in ’n reeks enigsins van waarde is, maar die kritici is vreeslik beïndruk. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan films toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 93 persent. Hulle bevind: “Mission: Impossible – Rogue Nation bou voort op die franchise se opwindende herlewing en bewys Tom Cruise bly steeds ’n aksieheld sonder gelyke.”

'Dis maklik die beste in die franchise.'

Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Nathan gee dit vier sterre. “Dis maklik die beste in die franchise,” skryf hy.

“Rogue Nation raak ontslae van die dooie gewig van realisme of relevansie ten gunste van opwinding wat terselfdertyd klassiek en aan die voorpunt van moderne fliekkuns is. Die reeks het eindelik sy stem gevind.”

Viola Davis (How to Get Away with Murder) en Jennifer Lopez (Maid in Manhattan) speel die naamrolle in Lila & Eve (13TG), ’n riller wat handel oor twee ma’s wat mekaar ontmoet by ’n ondersteuningsgroep vir ouers wat hul kinders verloor het. Hul kinders is albei tydens ’n verbyryskietaanval dood en Eve (Lopez) moedig Lila (Davis) aan om wraak te neem nadat die polisie nie die moordenaars kan vastrek nie. Ongelukkig vir Davis, ’n uitstekende aktrise, dink die meeste kritici die fliek is nie te waffers nie. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit 45 uit 100 en laasgenoemde het nog nie konsensus bereik nie, maar gee dit tot dusver 40 persent gegrond op 30 stemme.

'Flieks waarin ouers die gereg in eie hande neem, is niks nuuts nie.'

Die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly se Leah Greenblatt gee dit ’n C.

“Flieks waarin ouers die gereg in eie hande neem, is niks nuuts nie – Liam Neeson het dit vervolmaak,” skryf sy.

“Ma’s kry egter min kans om hul kinders se dood op die grootskerm te wreek. Ongelukkig kan ’n belowende intrige en ’n goeie aktrise soos Davis nie ’n toenemend belaglike storie red nie. Geregtigheid mag dalk seëvier, maar nie draaiboeklogika nie.”

Vir kunssinnige kykers is daar Mommy (16TVDSG), die vyfde fliek deur die bekroonde jong Frans-Kanadese regisseur Xavier Dolan. Hierdie drama handel oor die 15-jarige Steve (Antoine-Olivier Pilon) se onstuimige verhouding met sy enkelma, Die (Anne Dorval), en hul welmenende buurvrou Kyla (Suzanne Clément), Steve se tutor en vertroueling. Sy ma sukkel om Steve te hanteer aangesien sy gedrag ál gewelddadiger, onbeskofter en seksueel onvanpaster raak.

'Mommy is ’n uitdagende maar lonende ervaring.'

Kritici dink dis ’n uitstekende fliek. By Rotten Tomatoes kry dit 90 persent en hulle bevind: “Mommy is ’n uitdagende maar lonende ervaring en is nog ’n indrukwekkende tree vorentoe vir die skrywer-regisseur Xavier Dolan.”

Matt Glasby van die Britse filmtydskrif Total Film gee dit vier sterre. “Mommy is op plekke verbysterend en op ander irriterend, maar dis nie een van daardie flieks wat jy óf gaan haat óf mal oor gaan wees nie. Selfs bewonderaars sal oomblikke ervaar waarin hulle dit nie sal kan verdra om te kyk nie,” skryf hy. “Dis verfrissend sowel as uitputtend.”

Sandra Visser