In die aksiekomedie Pixels (10TD) speel hy Sam Brenner, wat in die 80’s ’n videospeletjiekampioen was, maar daarna nie veel bereik het nie en nou in ’n rekenaarwinkel werk. In 1982 het wetenskaplikes by Nasa ’n tydkapsule die ruimte ingestuur wat verskeie beelde en inligting oor ons kultuur bevat het in die hoop om kontak met ruimtewesens te maak. Die wesens beskou egter die videospeletjies verkeerdelik as ’n oorlogsverklaring en stuur nou reuseweergawes van Pac-Man, Donkey Kong en Tetris Aarde toe om ons te verslaan. Die enigstes wat die mensdom kan red, is Sam en twee ander videospeletjiegeesdriftiges, die bleeksiel Loedlof Lamonsoff (Josh Gad van The Wedding Ringer) en Sam se aartsvyand, die hardekwas Eddie Plant (Peter Dinklage van Game of Thrones). Vir Sandler-aanhangers sal dit nie veel van ’n verskil maak nie, maar die meeste resensente dink die fliek is maar vrot. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymerkaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 19 persent.

'Pixels herinner baie aan die swakste videospeletjies.'

Hulle bevind: “Pixels herinner baie aan die swakste videospeletjies uit die era waaruit die fliek inspirasie put. Dit hou nie jou aandag nie en is nie veel werd nie.”

Will Leitch van theconcourse.deadspin.com gee dit ’n D+. “Pixels is ’n heeltemal aanvaarbare idee vir ’n fliek wat ongelukkig deur Sandler en sy makkers verfomfaai is,” skryf hy.

“Kyk jy na die voorskou sal jy dalk aanneem dis die goeie tipe Sandler-fliek dié – soos Punch-Drunk Love (2002) en Funny People (2009) waarin hy uit sy gemaksone tree – en dat dit sy manier is om ’n held in ’n somer-aksiefliek te speel; dat dit ’n soort Ghost Busters (1984) gaan wees. Ai, as dit maar net die geval was. Dis geskryf deur Tim Herlihy, wat lankal saam met Sandler werk, en die intrige is heeltemal aangepas om by sy soort fliek te pas. Dis oorbekend en futloos. Die storie slinger rond van een toneel na die volgende met ’n paar grappies oor ander nasionaliteite, hoe mal en kwaai vroue kan wees en ’n paar onbenullige kameeverskynings deur bekendes.”

As jy ’n aanhanger van die TV-reeks Entourage was, sal jy moontlik die fliekweergawe (16TSN) geniet. Die filmster Vincent Chase (Adrian Grenier van The Devil Wears Prada) en vier aanhangsels – sy bestuurder E (Kevin Connolly), sy ouer, minder suksesvolle broer, Drama (Kevin Dillon), en die ou wat hom rondry, Turtle (Jerry Ferrara) – kuier steeds hul dae om in Hollywood. Vince het egter nou besluit hy wil regisseur word, maar sy onvermoë dreig om sy loopbaan sowel as dié van sy eertydse agent, Ari Gold (Jeremy Piven), nou ’n filmateljeebaas, te kelder. Ook hier sal aanhangers nie deur die resensente se menings afgesit word nie, maar laasgenoemde dink die film is maar flou. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit 38 uit 100 en laasgenoemde gee dit 32 persent.

'Entourage behou baie van die elemente van die HBO-reeks.'

Die konsensus is: “Entourage behou baie van die elemente van die HBO-reeks, maar voel minder soos ’n fliek en meer soos ’n uiters oppervlakkige, uitgerekte episode propvol kameeverskynings deur bekendes.”

James Dyer van die Britse fliektydskrif Empire is meer geneë en gee dit drie sterre.

“Een van die redes hoekom die TV-reeks so goed werk, is dat die karakters net so oppervlakkig en immoreel is soos die wêreld wat hulle betree. Maar vir nuwe kykers is hulle ’n kwartet eersteklas gomtorre. Die skrywers probeer van hul meer afstootlike eienskappe versag, maar hulle is steeds ver van simpatiek. Die meeste van die grappies sal ook oor nuwe kykers se koppe gaan. Vir aanhangers sal dit egter ’n groot plesier wees.”

Nog ’n akteur wat sy lyf vir die eerste keer regisseur hou, is William H. Macy (Shameless) met Rudderless (13T).

Dié musiekdrama handel oor die koerslose Sam (Billy Crudup van Almost Famous), wat ná sy seun se dood ’n boks demokassette vind waarop die seun sy eie musiek opgeneem het. Sam probeer deur middel van die liedjies sy seun beter verstaan en toe hy hulle in ’n kroeg begin opvoer, word hy deur ’n jong man, Quentin (Anton Yelchin van Star Trek), genader om ’n orkes te vorm. Quentin voel net so sonder rigting soos Sam en soos hulle saamwerk, vind hulle nuwe betekenis in die lewe. Felicity Huffman (Desperate Housewives) en Laurence Fishburne (The Matrix) is ook in die rolverdeling. Die meeste kritici dink die fliek is goed. By Rotten Tomatoes kry 63 persent en die konsensus is: “Rudderless verwag van sy rolverdeling om baie swaar te dra aan ’n soms emosioneel manipulerende storie. Gelukkig is hierdie talentvolle groep meer as opgewasse vir die taak.”

'Goedhartig en amper vermaaklik.'

Brad Wheeler van die Kanadese koerant Globe and Mail gee dit twee en ’n half uit vier sterre en beskryf dit as “goedhartig en amper vermaaklik. ’n Kinkel in die laaste helfte onderbreek die voorspelbaarheid en verskaf ’n rede om verder te kyk”.

Die misdaaddrama Kidnapping Freddy Heineken (16T) is gegrond op ware gebeure. In 1983 besluit drie ouens (Jim Sturgess van 21, Sam Worthington van Clash of the Titans en Ryan Kwanten van True Blood) om Nederland se rykste man, die biermagnaat Freddy Heineken (Anthony Hopkins van The Silence of the Lambs), te ontvoer en ’n losprys te eis om so geld te maak. Maar soos gewoonlik loop dinge skeef. Resensente is nie juis beïndruk met dié rolprent nie. Metacritic gee dit 33 uit 100 en hoewel Rotten Tomatoes nog nie konsensus bereik het nie, gee hulle dit net 20 persent gegrond op 55 resensies.

'’n saai ware-misdaaddrama.'

Trevor Johnston van Time Out London gee dit twee sterre en beskryf dit as “ ’n saai ware-misdaaddrama. Sturgess is soos gewoonlik heel innemend, maar staan nie juis uit nie, en Worthington is weer stokkerig. Die draaiboek kry dit nie reg om jou aan hul kant te kry nie en daar is baie min spanning. Al ligpunt is die betroubare Hopkins.” Dan is daar ook die dokumentêr Fabergé: A Life of Its Own (ouderdomsbeperking nog nie bekend nie), wat die storie vertel van die Fabergé-familie en hoe hul bekendste skepping, die pragtige, juweelbedekte Fabergé-eiers, wat hulle as geskenk vir Russiese Tsaars gemaak het, die wêreld aanhou betower. Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie. David Parkinson van Empire gee dit twee sterre.

'Daar is min analitiese insig of visuele flair.'

“Die storie is fassinerend van hoe ’n 160 jaar oue maatskappy eers juweelbedekte eiers vir die Russiese adelstand vervaardig het en toe later in die 1970’s naskeermiddel vir mans. Maar daar is min analitiese insig of visuele flair in hierdie vaal dokumentêr,” skryf hy.

Sandra Visser