Ná maande se promosies en advertensies is die Minions (O) eindelik hier.

Dié koddige geel gedroggies, wat in die Despicable Me-flieks die aartskurk Gru gedien het, het nou hul eie fliek.

Dis die verhaal van hoe die Minions sedert die oertydperk op soek is na ’n verdienstelike meester om te dien. Ongelukkig loop dinge telkemale skeef en word hul bestaan ál meer sinloos. Maar dan besluit drie van hulle, Kevin, Stuart en Bob (Pierre Coffin doen al die stemme), om ’n reis te onderneem op soek na die regte bose baas en ontmoet hulle die wêreld se eerste vroulike superskurk, Scarlett Overkill (Sandra Bullock).

Hierdie is die soort fliek wat aanhangers sal gaan kyk ongeag wat die resensente sê. Vir die res van ons wat daaroor wonder: die meeste dink dis skaflik. By die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, kry dit 54 persent. Hulle bevind: “Die Minions se vrolike brabbeltaal en malligheid word uitgerek tot ’n vollengte fliek, met oneweredige, maar dikwels skreeusnaakse gevolge.” Die Britse fliektydskrif Empire se Olly Richards gee dit drie sterre.

'Dis vol poep-, windopbreek- en omvalgrappies. Jou kinders sal dit terdeë geniet.'

“Die Minions, wat lyk soos SpongeBob Squarepants se plattelandse neefs, is nie voor die hand liggende kandidate vir hul eie fliek nie – hulle kan nie praat nie en het geen lewensdoelwitte buiten piesangs en poepgrappies versamel nie,” skryf hy.

“Tog is hulle baie snaaks as hoofkarakters, al kan hul fliek nie vir hulle ’n behoorlike intrige vind nie. Die eerste helfte, wanneer hulle per ongeluk kort-kort hul base afmaai, is vol skattige visuele humor. Maar sodra hulle by pratende karakters kom, word dit minder surrealisties en vertel die fliek ’n verwarrende, langdradige storie. Dis vol poep-, windopbreek- en omvalgrappies. Jou kinders sal dit terdeë geniet.”

As jy lus is vir iets ’n bietjie ernstiger maar steeds komies is daar Life of Crime (16TSG), wat gegrond is op die Amerikaanse misdaadskrywer Elmore Leonard se roman The Switch. Jennifer Aniston (Friends) speel die vrou van ’n welgestelde en korrupte eiendomsontwikkelaar (Tim Robbins van The Shawshank Redemption) wat deur twee misdadigers (Yasiin Bey oftewel Mos Def van The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy en John Hawkes van The Sessions) ontvoer word. Hulle soek ’n losprys, maar haar man is nie veel gepla nie. Hoe nou gemaak? Die meeste resensente dink die fliek is heel goed. Dit kry 60 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en 64 persent by laasgenoemde, wat bevind: “Dis dalk nie op dieselfde vlak as die beste Elmore Leonard-verwerkings nie, maar Life of Crime het steeds genoeg sjarme, en ’n skerp genoeg rolverdeling, om te vermaak.”

'Jennifer verwek simpatie by die kyker.'

Die Britse rolprenttydskrif Total Film se Neil Smith gee dit drie sterre. “Jennifer verwek simpatie by die kyker en John verleen verslonste waardigheid aan sy rol as die edelste van die ontvoerders,” skryf hy. “Die kinkels voel soms net te maklik, maar ’n mens mors nooit jou tyd as jy Leonard se wêreld betree nie.”

Soos vele akteurs voor hom het Ryan Gosling (The Notebook) besluit hy wil ook regisseur wees. Sy debuut as regisseur, Lost River (16TGrG), speel af in ’n vervalle buurt van Detroit en handel oor ’n sukkelende enkelma (Christina Hendricks van die TV-reeks Mad Men) wat op die punt is om haar huis te verloor omdat sy nie ’n lening kan terugbetaal nie.

’n Gomtor-bankbestuurder (Ben Mendelsohn van The Dark Knight Rises) stel voor sy kry werk by ’n geheime ontkleedansklub. Intussen word haar oudste seun, Bones (Agents of SHIELD se Iain De Caestecker), en sy meisie, Rat (Saoirse Ronan van Hanna), deur ’n skurk (Dr Who se Matt Smith) geteister. Rat vertel vir Bones dat hul dorp, Lost River, vervloek is omdat ’n nabye dorp jare gelede verwoes is om plek te maak vir ’n dam. Al manier om Lost River te red, is om na die onderwater dorp af te duik en ’n stuk daarvan terug te bring. Die meeste kritici voel Ryan moes maar eerder by toneelspel gehou het. Rotten Tomatoes gee sy fliek 29 persent en die konsensus is: “Lost River wek die indruk dat die skrywer-regisseur Ryan Gosling dalk ’n blink toekoms as ’n fliekmaker het, maar die verskeie elemente vorm nie ’n volledige geheel nie en daarom kan dit nie op eie meriete aanbeveel word nie.”

'Ryan moet dit eerder aan iemand anders oorlaat om ’n storie te vertel.'

Die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly se Chris Nashawaty gee dit ’n C-. “Ryan is ’n uiters talentvolle akteur, maar hy moet dit eerder aan iemand anders oorlaat om ’n storie te vertel,” skryf Chris.

“Met die stylvolle maar ondraaglike Lost River lyk dit asof hy die slegste gewoontes van die regisseurs waarmee hy al gewerk het, aangeleer het – veral Nicolas Winding Refn, wie se kenmerkende leë, neonbeligte nihilisme (Drive, Only God Forgives) hier nagedoen word. Wat die fliek so frustrerend maak is dat, ten spyte van die dwalende narratief en onsubtiele simboliek, dit eintlik pragtig geskiet en saamgestel is.

"Gosling is dalk nie veel van ’n skrywer nie, maar hy het ’n oog vir evokatiewe, kunstige skote. Dalk het hy die verkeerde tweede loopbaan gekies. Pleks van skrywer-regisseur moet hy eerder dit oorweeg om kinematograaf te word.”

Sandra Visser