Hierdie week se Afrikaanse rolprent, Hollywood in My Huis (7-9OT), klink belowend.

Dis nog ’n romantiese komedie en handel oor Jana van Tonder (Christia Visser van Ballade vir ’n Enkeling), ’n matriekmeisie uit ’n arm huis wat geïnspireer word deur Charlize Theron se Oscar-toespraak om haar matriekafskeid in haar eie Hollywood-aand te omskep. Sy droom daarvan om die skool se blonde tennisheld (Viljé Maritz van die TV-reeks Swartwater) as haar metgesel te hê en sien nie raak hoe haar beste vriend, Frikkie (Ballade vir ’n Enkeling se Edwin van der Walt), verlangend na haar loer nie. Laetitia Pople van Die Burger gee dit sommer vyf sterre. “Ouer kykers kan dalk nostalgies terugkyk na hul eie of hul kinders se matriekafskeid en jonger kykers gaan sterk aanklank vind danksy die regisseur (Corné van Rooyen, wat Mooirivier se draaiboek geskryf het) se sensitiewe aanvoeling vir sy onderwerp,” skryf sy.

'Die humor gaan jou oorrompel.'

“Die humor gaan jou oorrompel en die spel is in elke geval nommerpas. Dié lieflike fliek (gee) ’n mens weer opnuut hoop vir ’n Afrikaanse rolprentkuns sonder schmaltz, kleinhuisiehumor en die blinde naloop van die Hollywood-resep.”

Daar was lank laas ’n rampfliek, en as jy van 2012 (2009) en The Day after Tomorrow (2004) gehou het, behoort jy San Andreas (10-12OG) te geniet. Dwayne Johnson (The Fast and the Furious-flieks) speel Ray, ’n helikoptervlieënier wat vir die Los Angeles-polisie werk. Toe ’n reuse aardbewing Noord-Amerika se weskus tref, probeer Ray sy vervreemde vrou (Carla Gugino van Sin City) en dogter (Alexandra Daddario van die Percy Jackson-flieks) red.

'San Andreas het ’n goeie rolverdeling en uitstekende spesiale effekte.'

Die kritici dink die fliek is skaflik. Dit kry 50 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk.

Hulle bevind: “San Andreas het ’n goeie rolverdeling en uitstekende spesiale effekte, maar tussen al die oordadige verwoesting deur verskyn daar krake in die karakters en intrige.”

Dan Jolin van die Britse fliektydskrif Empire gee dit net twee sterre. “In seismologie word ’n aardbewing se intensiteit gemeet volgens die Richter-skaal. In San Andreas word dit gemeet aan OMG’s. Toe Dwayne se karakter oplet hoe die aarde se kors golwe soos ’n kombers maak, sê hy: “Oh my ***!” Minder as twee minute later sien Carla hoe ’n wolkekrabber instort en skree: “Oh my ***!”

Die feit dat die draaiboek ongeag die indrukwekkendheid van die verwoesting nooit die akteurs enigiets verbeeldingrykers gee om te sê nie, sê baie,” skryf hy.

“Ten minste het die filmmakers die rampfliekgenre se neiging gevolg om akteurs te kry wie se gemaklike charisma baie van die draaiboek se hoogdrawendheid versag. Dis egter ’n skande dat die vroue in hierdie storie net daar is sodat die dapper maar sensitiewe mans hulle kan red.”

Ted 2 (16DT) is die opvolg op die uiters suksesvolle fantasiekomedie oor ’n man (Mark Wahlberg van The Fighter) wat as kind gewens het sy teddie, Ted (die regisseur Seth McFarlane se stem), word lewend. Dit het gebeur en nou is Ted steeds aan sy sy. Ted is nou getroud met Tami-Lyn (Jessica Barth) en hulle wil graag ’n kind aanneem, maar as Ted ’n pa wil wees, moet hy in die hof bewys dat hy as ’n mens kwalifiseer en nie net ’n besitting is nie. Die meeste kritici dink die fliek is maar flou. Dit kry 49 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en kry 44 persent by laasgenoemde, wat bevind: “Ted 2 herenig Mark en Seth vir nog ’n ronde kinderagtige toilethumor – en soos voorheen, sal die genot wat jy uit die fliek put, afhang van hoeveel van hierdie soort humor jy kan verdra.”

'Komedie-opvolgprente is geneig om onnodig te wees.'

Kyle Smith van die New York Post gee dit twee en ’n half uit vier sterre.

“Komedie-opvolgprente is geneig om onnodig te wees en Ted 2 is ’n groot deurmekaarspul. Tog bevat dit soveel mal en briljante oomblikke dat ek hard maar ongereeld gelag het,” skryf hy.

“Maar die innemendheid van die eerste fliek is vervang met arrogansie. Daar is vier sangnommers, ’n lang reis en oortollige grappies wat maar eerder kon gebly het. As MacFarlane 30 minute gesny het, kon Ted 2 dalk fantasties gewees het.”

Die Franse romantiese drama 3 Hearts (13S) fokus op Marc (Benoît Poelvoorde), ’n belastinginspekteur wat na ’n plattelandse dorpie gereis het en die laaste trein terug Parys toe verpas. Hy gaan sit by ’n nabygeleë restaurant, waar hy Sylvie (Charlotte Gainsbourg van Nymphomaniac) ontmoet. Heel nag loop en gesels hulle deur die dorp en stem in om mekaar ’n week later in Parys te ontmoet. Maar hulle loop mekaar mis. Sylvie herenig met haar eks en trek Amerika toe en Marc raak verlief op ’n ander vrou (Chiara Mastroianni) en trou met haar. Maar wat nie een van hulle weet nie, is dat Marc se vrou Sylvie se suster is. Dit lyk of die meeste kritici heel beïndruk is met die fliek. Rotten Tomatoes het nog nie konsensus bereik nie, maar sover gee hulle die fliek 73 persent gegrond op 26 resensies.

'3 Hearts is ’n smaakvolle, vaagweg boeiende romantiese drama.'

Ann Hornaday van The Washington Post gee dit twee uit vier sterre.

“3 Hearts is ’n smaakvolle, vaagweg boeiende romantiese drama met ’n spannende, onheilspellende stemming wat ’n reeds somber fabel die gevoel van ’n riller gee. Die storie word goed vertel, maar op die ou end is dit eintlik niks meer as vergeetbare afleiding nie,” skryf sy.

- Sandra Visser