Naas Disney is Pixar die beste animasie-ateljee in die bedryf en dit lyk asof Inside Out (O) hul beste fliek nog is.

Die 11-jarige Riley (Kaitlyn Dias se stem) se lewe gaan deur ’n groot omwenteling toe haar gesin van ’n klein dorpie na die groot stad San Francisco trek. Haar emosies – Vreugde (Amy Poehler), Hartseer (Phyllis Smith), Woede (Lewis Black), Vrees (Bill Hader) en Weersin (Mindy Kaling) – probeer haar help, maar gou-gou is daar konflik tussen hulle. Dié tekenprent het een van die hoogste tellings op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Dit kry ’n verstommende 99 persent en word beskryf as “vindingryk en uiters ontroerend met pragtige animasie. Inside Out is nog ’n uitmuntende toevoeging tot Pixar se lys moderne klassieke tekenprente”.

'Pixar se 15de rolprent is nog ’n mylpaal.'

Peter Travers van Rolling Stone gee dit vier uit vier sterre. “Dié fliek klink dalk soos ’n sessie by ’n terapeut, maar Pixar se 15de rolprent is nog ’n mylpaal, ’n onmisbare sege wat die standaarde verhoog van wat animasie kan doen en bewys dat lewendehandeling-flieks nie die eerste aanspraak op rolprentkuns kan maak nie.”

Ná sy uitstekende komiese vertolking in Spy keer Jason Statham terug na sy veilige aksiehawe met Wild Card (16TG). Dis ’n nuwe weergawe van die 1986-rolprent Heat met Burt Reynolds in die hoofrol. Die Stath speel Nick Wild, ’n lyfwag in Las Vegas met ’n dobbelprobleem. Toe ’n vriendin deur ’n nare skelm, Danny DeMarco (Milo Ventimiglia van die TV-reeks Heroes), aangerand word, besluit Nick om wraak te neem, maar dan vind hy uit Danny is ’n invloedryke mafiabaas se seun en die stryd tussen hulle ontwikkel in ’n vete wat ál ernstiger afmetings aanneem. Die meeste kritici dink die fliek is maar flou. Dit kry 40 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, maar by laasgenoemde kry dit slegs 27 persent. Hulle bevind: “Getroue Jason Statham aanhangers kan dalk dele van Wild Card geniet, maar ander aksievrate hoef hulle nie te steur nie.”

'Statham se gesigsuitdrukking en stemtoon bly deurgaans dieselfde.'

Die gesiene Britse resensent Mark Kermode is egter meer geneë en gee dit drie sterre.

“Statham se gesigsuitdrukking en stemtoon bly deurgaans dieselfde, ’n ikoniese monotoon omring deur ’n verskeidenheid slimgekose akteurs (van Anne Heche tot Stanley Tucci) wat die toneelspel vir hom doen,” skryf hy.

“Die skaflike regisseur Simon West (Con Air, The Expendables 2), saam met wie Statham the Mechanic (2011) gemaak het, hou dinge eenvoudig. Jason kan dalk nooit ’n uitstekende (of selfs goeie) akteur word nie, maar die kamera is mal oor hom en hy baklei soos ’n danser, ’n eienskap wat skaars is onder Engelssprekende aksiehelde.”

5 Flights Up (7-9OT) het ’n ander aanslag as die deursnee romantiese drama; die hoofkarakters is ’n ouer, gemengde paartjie. Diane Keaton (Annie Hall) en Morgan Freeman (Driving Miss Daisy) speel ’n egpaar wat hul hele lewe lank in een woonstel in New York gebly het. Nou wil hulle egter verkoop, maar die drama van moontlike kopers wat hul spasie betree en die feit dat hulle hul bejaarde hond moet laat opereer, begin hulle oorweldig.

'Dis heerlik om Diane en Morgan saam op die silwerdoek te sien.'

Die meeste resensente dink die rolprent is taamlik goed. Rotten Tomatoes gee dit 55 persent en die konsensus is: “5 Flights Up se intrige kort dalk ’n bietjie aandag, maar dis heerlik om Diane en Morgan saam op die silwerdoek te sien.”

Entertainment Weekly se Isabella Biedenharn gee dit ’n B-. “Die fliek is op sy beste wanneer die verhaal by die alledaagse hou,” skryf sy. “’n Ekstra storielyn oor ’n vermiste Moslem-taxibestuurder wat in massahisterie oor terrorisme ontaard, voel onnodig. Die deurwinterde romanse tussen die hoofkarakters is genoeg om jou aandag te hou.”

Jonah Hill (22 Jump Street) en James Franco (This Is the End) stoot vir eers komedies opsy vir True Story (10-12T), ’n ware lewensdrama oor ’n joernalis, Michael Finkel (Jonah), wat in onguns verval nadat sy redakteur hom daarvan beskuldig dat hy deel van ’n storie gefabriseer het. Dan ontvang hy ’n oproep van die FBI wat hom vertel dat Christian Longo (James), ’n man wat sy eie vrou en kinders vermoor het, in hegtenis geneem is en Michael se identiteit gesteel het. Hy besoek Christian, wat beweer hy volg al jare Michael se werk, en dié stem in om Christian se ware verhaal te vertel in ruil vir skryflesse. Michael raak ál meer ingetrek in Christian se wêreld en sukkel om te onderskei tussen Christian se leuens en die waarheid.

'James en Jonah is ’n kykbare duo.'

Kritici dink die fliek is okei. Metacritic gee dit 50 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 48 persent. Hulle bevind: “James en Jonah is ’n kykbare duo, maar True Story verloor hul vertolkings – en die kyker se belangstelling – in ’n deurmekaar fliek wat lelik droogmaak.”

David Nusair van reelfilm.com gee dit twee uit vier sterre en beskryf dit as “ ’n totaal en al vergeetbare en ondeurdagte werk. Die belowende premis ontaard in ’n niksseggende drama en ly onder ’n algehele gebrek aan passie.

Daar’s ’n tasbare gevoel van ambivalensie wat onmoontlik is om te ignoreer en die regisseur en draaiboekskrywer Rupert Goold (die minireeks The Hollow Crown) handhaaf ’n frustrerend rustige pas wat die kyker deurgaans op ’n afstand hou”. Die gruwelprent Insidious: Chapter 3 (13) is, soos die naam aandui, die derde prent in die Insidious-reeks. Dit speel egter af voor die gebeure in die eerste twee aflewerings en handel oor ’n ander saak waarby die spiritistiese medium Elise Raiser (Lin Shaye) betrokke geraak het voor sy die Lambert-gesin probeer help het om van ’n demoon ontslae te raak. ’n Tienermeisie (Stefanie Scott) probeer uitreik na haar oorlede ma, maar word deur ’n bose gees geteiken.

'Die fliek kombineer weer ’n onheilspellende gevoel met skerp humor.'

Die kritici dink die fliek is heel goed. By Rotten Tomatoes kry dit 58 persent en die konsensus is: “Insidious: Chapter 3 is nie so vreesaanjaend soos die eerste een nie, maar bevat verbasende diepte en word opgehelder deur nog ’n goeie vertolking deur Lin.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Owen Williams gee dit drie sterre. “Die fliek is een van die min opvolgprente wat werk as jy dit voor no. 1 en 2 kyk. Die fliek kombineer weer ’n onheilspellende gevoel met skerp humor.”

- Sandra Visser