In die laaste paar jaar het die komiese aktrise Melissa McCarthy (Bridesmaids, The Heat) omtrent opgang gemaak en selfs ’n Oscar-benoeming losgeslaan. In die aksiekomedie Spy (16TG) speel sy die beskeie CIA-analis Susan Cooper wat aan haar lessenaar vasgeketting is terwyl sy deur middel van ’n oorstuk die spioen Bradley Fine (Jude Law) tydens sendings help. Maar dan raak hy vermis en word Susan genoop om vir die eerste keer op ’n sending te gaan om die skurk vas te trek.

'Spy se humor is platvloers sowel as progressief.'

’n Hele paar keer was Melissa die beste ding in ’n flouerige fliek, maar dié keer lyk dit asof sy ’n wenner het. Die meeste kritici dink Spy is uitstekend. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 94 persent. Hulle bevind: “Dis nog ’n bewys dat Melissa en die skrywer-regisseur Paul Feig (Bridesmaids, The Heat) die beste in mekaar na vore bring. Spy lewer ook hope lekkerlagoomblikke.” Die Britse filmtydskrif Empire se Olly Richards gee dit vier sterre. “Ná ’n rits flieks waar van haar verwag is om meer grappe te verskaf as die draaiboekskrywer, is Spy eindelik die rolprent wat Melissa verdien,” skryf hy.

'Nie net is dit haar snaaksste fliek sedert 2011 se Bridesmaids nie.'

“Nie net is dit haar snaaksste fliek sedert 2011 se Bridesmaids en bevat dit boonop ’n behoorlik intrige met ’n slot nie; dit raak ook ontslae van die ou, afgesaagde reëls vir flieks met volronde akteurs wat voorskryf dat lywiger karakters lomp en minstens ’n bietjie pateties moet wees. In Spy is Melissa ’n behoorlike alieskop-aksieheldin. Sy is nie ’n Johnny English-tipe sukkelaar wat per ongeluk die skurke oorwin nie; sy’s soos Jason Bourne wie se sluimerende vaardighede geleidelik aangewakker word. Daarvoor alleen verdien die fliek applous.

“Die byspelers se rolverdeling is net so uitstekend. Law geniet dit terdëe om die draak te steek met James Bond. Allison Janney (The West Wing) staan haar skoene vol as die kwaai baas van die agentskap, en die aksieheld Jason Statham (The Transporter) behoort net hierdie rol vir die res van sy lewe te vertolk. Hy is eenvoudig skreeusnaaks as ’n geheime agent wat die reputasie van ’n briljante rakker het, maar wat eintlik die subtiliteit en slinksheid van ’n peuter het.”

Nadat Dan Stevens die gewilde Britse dramareeks Downton Abbey vaarwel toegeroep het, lyk dit asof hy doelbewus probeer bewys hy is nie net die goedhartige, ordentlike Matthew Crawley nie. In die aksieriller The Guest (16DTG) is hy lenig en bruingebrand en speel hy die Amerikaanse soldaat David wat by die Petersen-gesin se huis opdaag en beweer hy’s ’n vriend van hul seun wat in Afganistan gesterf het. Die ma, Laura (Sheila Kelley van die TV-reeks LA Law), nooi die gawe jong man om by hulle te bly, maar pa Spencer (Leland Orser van die TV-reeks ER) is nie so seker nie, hul tienerdogter, Anna (Maika Monroe), is nie beïndruk nie en klein Luke (Brendan Meyer) sien David as ’n held. Gou-gou kom hulle egter agter als is nie pluis nie.

'The Guest se intelligensie maak dit meer as net nog ’n donker, gewelddadige riller.'

Resensente dink dis ’n baie goeie fliek. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde manier as Rotten Tomatoes werk, kry dit 76 uit 100. Laasgenoemde gee dit 90 persent en bevind: “The Guest se intelligensie maak dit meer as net nog ’n donker, gewelddadige riller.”

Die Britse filmtydskrif Total Film se Matt Glasby gee dit vier sterre. “Daar’s hope om te geniet: sensitiewe toneelspel, vlymskerp dialoog, galgehumor en ’n klankbaan wat die bloed laat bruis. Tonele waarin die beleefde David skielik gewelddadig reageer om die gesin te help ten spyte van hul teenkanting skep spanning (hulle het hom nodig, maar terselfdertyd is hulle ook bang vir hom) en is die beste deel van die fliek.”

As jy nie lus is vir skop, skiet en boomklim nie is daar die musiekdrama Song One (10-12OS). Anne Hathaway (Les Misérables) speel Franny wat antropologie in Marokko studeer. Sy’s van haar familie vervreem, maar keer terug huis toe na New York toe haar broer, Henry (Ben Rosenfield), ’n straatmusikant, deur ’n taxi getref word en in ’n koma beland. Om hom te help besoek sy verskeie nagklubs waar sy musiek en klanke opneem wat sy vir hom wil speel in die hoop dat dit hom sal laat bykom. Sy knoop ook ’n verhouding aan met Henry se gunstelingmusikant, James Forrester (Johnny Flynn), en oorreed hom om vir Henry te kom speel.

Die kritici het nie veel ooghare vir die fliek nie. Rotten Tomatoes gee dit 36 persent en die konsensus is: “Song One het hope opregte sjarme, maar dis nie genoeg om die dun, oorbekende storie die kyk werd te maak nie.”

Peter Travers van Rolling Stone gee dit een en ’n half uit vier sterre. “Ondanks die delikate nuanse van Hathaway se spel, beweeg Song One meedoënloos van somber tot vermoeiend. Franny se verhouding met James is ook effens grillerig en geforseerd.” Nog ’n drama gegrond op ’n geykte idee is Very Good Girls (13TS), wat handel oor twee tienervriendinne, Elizabeth Olsen (Avengers: Age of Ultron) en Dakota Fanning (I Am Sam), wat ooreenkom om hul maagdelikheid te verloor voor hulle universiteit toe gaan. Maar hul vriendskap word bedreig deur albei se verliefdheid op dieselfde kunstenaar (Boyd Holbrook) en hul ouers (Richard Dreyfuss van Jaws, Demi Moore van Ghost, Ellen Barkin van Drop Dead Gorgeous en Clark Gregg van die TV-reeks Agents of Shield) se dramas.

'Dis ’n drama wat voel soos ’n ouer mens se idee van hoe jong mense is.'

Min kritici hou van die fliek. Dit kry 35 uit 100 by Metacritic en slegs 19 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “Very Good Girls steun op ’n liefdesdriehoek tussen oppervlakkige karakters. Al wat die fliek regkry, is om jou te laat wens vir ’n beter projek vir die talentvolle Dakota en Elizabeth.”

Kyle Smith van die New York Post gee dit een uit vier sterre. “Very Good Girls is ’n drama wat voel soos ’n ouer mens se idee van hoe jong mense is,” skryf hy. “Die 68-jarige skrywer-regisseur Naomi Foner slaag nooit daarin om die gebeure in ’n samehangende verhaal te omskep nie. Die fliek voel soos ’n lukrake, selfbewuste versameling tienerherinneringe.”

- Sandra Visser