Die nuwe fliekweergawe van die gewilde TV-reeks Ballade vir ’n Enkeling (16TG) handel weer oor die joernalis Carina Human (Donnalee Roberts van Pad na Jou Hart) wat op die spoor is van die enigmatiese skrywer Jacques Reynard (Armand Aucamp van die TV-reeks Sterlopers) nadat hy nie opdaag om ’n letterkundeprys in ontvangs te neem nie. Tussendeur word vertel van Jacques se kinderjare, sy vriendskap met Jan-Paul Otto (Jacques Bessenger van Erfsondes) en liefde vir Lena Aucamp (Rolanda Marais van Wolwedans in die Skemer).

Die Burger se Rochélle Human gee dit vier sterre. Die regisseur “Quentin Krog se fliek Ballade vir ’n Enkeling, deur vars oë gesien, kan in eie reg ’n treffer wees,” skryf sy. “Dit het die mooi gesigte, die koel klankbaan, die byderwetse ligging, die vuurwarm romanse en hunkerings waarby ’n nuwe generasie aanklank sal vind.”

Nog ’n week, nog ’n fliek gegrond op ’n distopiese tienerroman. The Divergent Series: Insurgent (13G) is die opvolg op Divergent (2014) en speel in ’n toekomswêreld af waar die mensdom in vyf faksies gegrond op deugde verdeel is. Op 16-jarige ouderdom word kinders sielkundig getoets om te kyk waar hulle inpas. Tris (Shailene Woodley) vind egter uit sy is Divergent, wat beteken sy kan by verskeie faksies inpas en moet dit wegsteek vir die regering, wat sulke mense wil elimineer omdat hulle onbeheerbaar is. Aan die einde van Divergent het Tris die leier van Erudite, Janine (Kate Winslet van Titanic), se plan om die regering omver te werp oopgevlek en nou is sy en haar geliefde, Four (Theo James), vlugtelinge.

Soos met die eerste fliek is die kritici oor die algemeen nie juis beïndruk nie. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 36 persent. Hulle bevind: “Shailene sit alles in, maar Insurgent is steeds ’n groot tree agteruit vir ’n reeks wat sukkel om homself van die menigte ander distopiese tienerflieks te onderskei.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Helen O’Hara is ietwat positiewer en gee dit drie sterre. “Daar’s werklik net een probleem met die Divergent-reeks en dis dat die vertrekpunt net glad nie sin maak nie,”skryf sy. “Hoe meer jy daaraan dink hoe minder maak dit sin dat die mensdom in faksies gegrond op deugde ingedeel sou kon word, en hoe meer sukkel die fliek om sy storie agtermekaar te hou. Dat dit werk, is omtrent uit en uit te danke aan Shailene, wat kompleksiteit en diepte aan die gefolterde Tris verleen.”

Maak nie saak hoeveel ander flieks hy maak nie, Kevin Costner gaan keer op keer terug na die sportgenre soos ’n menslike posduif, skryf Empire. Daar was al Bull Durham (1988), Field of Dreams (1989), Tin Cup (1996), For the Love of the Game (1999) en Draft Day (2014). Nou is hy te sien in McFarland, USA (7-9O), wat op ware gebeure gegrond is. Kevin speel ’n hoërskool se Amerikaanse voetbalafrigter, Jim White, wat in 1987 ná ’n onderonsie met ’n speler gedwing word om te bedank. Hy kry werk as LO-onderwyser by die hoërskool in die arm dorp McFarland, waar die meeste inwoners van Latyns-Amerikaanse afkoms is. Geleidelik omskep hy ’n uiteenlopende groep tienerseuns in ’n gedugte groep landloopatlete.

Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. By Rotten Tomatoes kry dit 79 persent en die konsensus is:

“Die resep van Disney se inspirerende sportdrama is dalk afgesaag, maar McFarland, USA bewys dit werk steeds – veral onder leiding van ’n talentvolle regisseur (Niki Caro van Whale Rider) en ’n uiters innemende ster.”

David Ehrlich van Time Out New York gee dit drie sterre, maar sy resensie klink asof hy eerder twee moes gegee het. “McFarland, USA is nog ’n neerhalende inspirerende sportdrama wat uitbeeld hoe ’n wit mens leer dat mense van ander rassegroepe ook ordentlik kan wees, maar dis seker die eerste een wat nie ’n enkele oefenmontage bevat nie,” skryf hy. “Niki laat die storie ontvou met meer geduld en styl as wat die genre gewoonlik vereis, maar sy sukkel om die soetsappige Disney-fiksasie van die storie teen te werk.”

As jy lus is vir ’n lawwe romantiese komedie kan jy Lovesick (13T) beproef. Matt LeBlanc (Joey van die TV-reeks Friends) speel ’n laerskoolhoof wat elke keer dat hy verlief raak alle perspektief verloor en ’n groenoogmonster vol jaloesie word. Dan ontmoet hy die danser Molly (Ali Larter van die TV-reeks Heroes) wat dalk net Die Een kan wees en het hy die hulp van sy vriend Jason (Adam Rodriguez van die TV-reeks CSI: Miami) en raad van sy buurman Lester (die komediant Chevy Chase) nodig om dinge nie weer op te mors nie.

Die meeste resensente dink die fliek is flou. Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie, maar sover kry dit 40 persent gegrond op 10 resensies. By die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk, kry dit 28 uit 100.

Elizabeth Weitzman van die New York Daily News gee dit ’n skamele een ster. “Matt is so goed in die TV-reeks Episodes, so dis verbysterend en neerdrukkend dat hierdie siellose romkom die enigste silwerskermprojek is wat tot sy beskikking is. Hy en Ali seil deur die sintetiese vertrekpunt soos ou hande, maar hulle het geen verbinding nie, want hul karakters toon omtrent geen ooreenkoms met regte mense nie. Jy weet dis tyd om moed op te gee as jy uitsien na Chevy se kort verskynings as die maltrapbuurman wat behep is met pornografie.”

Sandra Visser