Was District 9 net ’n vloekskoot, of is hy regtig talentvol en visioenêr?

Ná Elysium, wat oor die wêreld heen en in die ruimte afgespeel het, keer Neill weer terug na eie bodem. In die toekoms het misdaad in Johannesburg net toegeneem en robotte word ingespan om reg en orde te handhaaf. Die uitvinder Deon Wilson (Dev Patel van The Best Exotic Marigold Hotel) probeer bewys dat die robotte nog effektiewer sal wees as hulle vir hulself kan dink, maar die hoof van die maatskappy, Michelle Bradley (Sigourney Weaver van Alien), verbied hom om dit te doen. Deon steel ’n robot wat bestem is vir die ashoop en gee hom die verstand van ’n jong, onskuldige kind. Maar dan word hulle deur twee bendelede, Ninja en Yolandi (Ninja en Yolandi van die rapgroep Die Antwoord), ontvoer wat die robot Chappie doop en hom wil dwing om misdaad te pleeg.

Die meeste kritici is dit eens dat Chappie nie die mas opkom nie. Dit kry 30 persent by Rotten Tomatoes, ’n webtuiste wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Chappie bevat die groot idees en visuele panache waarvoor Neill bekend geword het – en ongelukkig ook die tekortkominge in sy vertelstyl.”

Chris Hewitt van die Britse fliektydskrif Empire gee dit drie sterre. “Die fliek voel by tye soos District 9,5,” skryf hy. “Blomkamp se derde poging bevat net genoeg skouspel en kinkels om ’n paar groot tekortkominge, soos veral die onaardige drie sentrale karakters, te oorkom.

“Die probleem is dat Die Antwoord, en Ninja spesifiek, afstootlik en uiters onnosel is. Natuurlik hoef jy nie van alle fliekkarakters te hou of jouself met hulle te kan vereenselwig nie, maar hulle moet minstens interessant wees, en Die Antwoord misluk hierin. Die toneelspel is ook nie op peil nie. Hulle is eenvoudig nie die antwoord nie.

“Tog is dit verfrissend om in hierdie era van konformiteit te sien hoe ’n regisseur die moed het om gewaagde besluite te neem en daar is meer as genoeg genotvolle oomblikke wanneer die Blomkamp van District 9 sy verskyning maak. Dis ook heerlik om Hugh Jackman in die rol van die skurk te sien. ”

Nog iemand wat sy naam in ere probeer herstel, is die akteur Will Smith. In ’n stadium was elkeen van sy flieks lokettreffers, maar ná die flop After Earth (2013) het hy blykbaar besef hy kan nie meer net op wetenskapsfiksieavonture staatmaak nie en toe ’n ander rigting ingeslaan.

In die misdaadkomedie Focus (16TSG) speel hy die deurwinterde swendelaar Nicky Spurgeon wat een aand in ’n nagklub deur ’n onervare jong bedrieër, Jess Barrett (Margot Robbie van The Wolf of Wall Street), en ’n medepligtige geteiken word. Nicky val nie daarvoor nie en raai hulle aan om nooit fokus te verloor wanneer hulle met onverwagte situasies gekonfronteer word nie. ’n Paar dae later nader Jess Nicky en vra hom om haar op te lei.

Die meeste resensente dink die fliek is skaflik. Dit kry 56 persent by Rotten Tomatoes en ook 56 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk. Rotten Tomatoes bevind: “Focus het effens te veel kinkels, maar dit slaag te danke aan die swierige milieu en die sjarme van die hoofakteurs.”

Andrew Lowry van die Britse fliektydskrif Total Film gee dit drie sterre. “Smith se spel is wisselvallig: hy maak gereeld gebruik van die sjarme wat hom in die 1990’s en 2000’s ’n groot ster gemaak het, maar dan keer hy terug na die knorrige karakter waarvan ons te veel in After Earth gesien het. Dis ietwat van ’n probleem as dit belangrik is dat jou held innemend genoeg moet wees sodat die gehoor sy misdaad en wangedrag sal kan verskoon,” skryf hy.

“Gelukkig kry Robbie net so baie tyd in die kollig as Smith en sy gebruik dit om te wys wat in haar steek. Sy werk goed saam met Smith en steel op die ou end die fliek onder sy neus uit. Moenie verwag dat hierdie fliek jou iets nuuts gaan bied nie; verwag eerder uitspattige glans, ’n paar skerp kinkels en ’n skitterende Robbie.”

Adam Sandler is terug met nog ’n fantasiekomedie soos Bedtime Stories (2008) en Click (2006). In The Cobbler (13TG) speel hy Max Simkin, ’n skoenmaker wat werk uit ’n winkel in New York waar sy pa en oupa ook skoenmakers was. Max is egter moeg vir sy eentonige bestaan. Dan vind hy ’n tower-familie-erfstuk wat hom toelaat om letterlik in sy klante te skoene te staan en die wêreld op ’n nuwe manier te aanskou.

Sover het Rotten Tomatoes nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie, maar hulle gee dit net nege persent. By Metacritic kry dit 22 uit 100.

David Nusair van reelfilm.com gee dit twee uit vier sterre. “Die fliek het ’n treffende intrige met groot komiese potensiaal en in die eerste helfte ontgin die regisseur, Thomas McCarthy (The Station Agent), dit behoorlik. Daar is ook aangrypende elemente, soos toe Max besluit om die gedaante van sy oorlede pa (Dustin Hoffman) aan te neem om sy ma op te beur. Ongelukkig is daar vinnige agteruitgang in die tweede helfte toe ’n bose eiendomsagent (Ellen Barkin) op die toneel verskyn en dit raak net ál verveliger soos die storie aangaan.”

Mark Wahlberg (Ted) probeer iets anders met The Gambler (16TG), ’n misdaaddrama waarin hy ’n letterkundeprofessor speel wat in sy vrye tyd ’n dobbelaar is sonder brieke. Hy dink hy is slimmer as almal rondom hom, maar toe hy geld leen by ’n bendeleier en sy eie lewe as aanvullende sekuriteit aanbied, vat hy dinge een stap te ver.

Rotten Tomatoes gee dit 46 persent en bevind die fliek handhaaf “ ’n goeie pas en is vermaaklik genoeg in eie reg. Maar The Gambler kom sleg tweede wanneer dit vergelyk word met James Caan se klassieke 1974-fliek wat dit geïnspireer het.”

Die gesiene Britse resensent Mark Kermode draai soos gewoonlik nie doekies om nie en gee dit twee sterre. “Mark is heeltemal verkeerd vir die rol,” skryf hy. “Ondanks Rupert Wyatt (Rise of the Planet of the Apes) se stylvolle regie kry hy dit nie reg om sin te maak uit William Monahan (The Departed) se dikwels belaglike, oorryp draaiboek nie. Die akteurs word aan hul eie genade oorgelaat en moet worstel met pynlik amateuragtige toesprake oor die lewe, liefde en opvoeding.”

Vir die jongspan is daar Strange Magic (OG), ’n fantasietekenprent geïnspireer deur Shakespeare se komedie A Midsummer Night’s Dream. Die feeprinses Marianne (Evan Rachel Wood se stem) is verloof aan Roland (Sam Palladio), maar dan betrap sy hom waar hy ’n ander fee soen en kanselleer die troue. Roland oorreed ’n liggelowige elf, Sunny (Elijah Kelley), om vir hom ’n verbode towerdrankie in die Verbode Woud te gaan haal. Sunny is verlief op Dawn (Meredith Anne Bull), Marianne se suster, maar dink sy sal hom nooit liefhê nie; daarom besluit hy en Roland om die drankie te deel. Sunny kry dit reg om Dawn die drankie in te gee, maar dan ontvoer die bose Bog King (Alan Cumming) haar uit weerwraak vir Sunny se oortreding en raak sy per ongeluk op hom verlief.

Die meeste kritici is nie juis beïndruk nie. Metacritic gee dit 24 uit 100. By Rotten Tomatoes kry dit 19 persent en die konsensus is: “Soos die meeste moderne tekenprente is Strange Magic mooi om na te kyk. Ongelukkig gaan daar nie veel onder die oppervlak aan nie.”

Julian Roman van movieweb.com gee dit twee en ’n half uit vyf sterre. “Deesdae se feëverhale gaan nie meer oor die aantreklike prins wat die hulpelose prinses moet red nie,” skryf sy. “In die 21ste eeu steel vrouebemagtiging die kalklig. Wat dit betref, is dié tekenprent nie naastenby op dieselfde vlak as Frozen (2013) of Maleficent (2014) nie, maar dit bied tog ’n les oor wat ware liefde werklik beteken.

“Strange Magic is ’n musiekspel en die hele verhaal word gedryf deur een liedjie ná die ander ná die ander, waaraan gehore dalk moeilik sal sluk. Die begin is effens lomp en afgejaag, maar dinge verbeter namate die storie vorder. Kinders behoort die musiek vermaaklik te vind, maar volwassenes sal dalk oorweldig voel deur hierdie musikale aanslag.”

As jy iets meer kunssinnigs soek, kan jy The Disappearance of Eleanor Rigby (13T) beproef. Conor (James McAvoy van X-Men: First Class) en Eleanor (Jessica Chastain van The Help) is gelukkig getroud, maar ná ’n tragiese gebeurtenis word hulle van mekaar vervreem. Dan verdwyn Eleanor spoorloos en terwyl Conor haar probeer opspoor, sien ons in terugflitse wat gelei het tot die huidige stand van sake.

Die kritici dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 63 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “Hierdie oorspronklike bepeinsing oor liefde en verlies sal jou lank bybly. Jessica en James lewer sterk spel.”

Rafer Guzmán van newsday.com gee dit drie uit vier sterre. “Die regisseur, Ned Benson, se debuut probeer die ontmoontlik doen: om ons te laat omgee oor ’n paartjie wat in ’n pynlike en statiese punt in hulle lewe vassit. En hy kry dit reg. Krediet moet deels gaan aan die rou vertolkings gelewer deur Jessica en James, asook Ned se vaardigheid en sensitiwiteit as regisseur.”

Sandra Visser