Die romantiese komedie Mooirivier (O) speel af langs dié rivier in Potchefstroom. Verskeie liefdesverhale word vervleg op ’n manier wat herinner aan Love Actually (2013). Daar is onder andere twee studentevriende wat nie besef hulle is eintlik vir mekaar bedoel nie, ’n bekende sanger en die skoonmaker by die hotel waar hy bly, ’n dominee wat ook eiendomme verkoop en sy mooi kliënt. Die rolverdeling sluit in Leandie du Randt, Tim Theron, Anel Alexander, Bouwer Bosch, Diaan Lawrenson, Milan Murray en Hykie Berg.

Laetitia Pople van Die Burger gee dit twee sterre. “Mooirivier is ’n stroom-fliek soos Love Actually,” skryf sy. “Die stories vloei aaneen en kruis hier en daar. Die kyker sien net gedeeltelik, soos ’n blik deur ’n venster jou niks vertel van die mense in die huis nie. Wat Love Actually briljant maak, is dat jy jou dadelik die voor- en nageskiedenis van die karakters kon indink danksy sterk vertolkings en draaiboek. ’n Stroom-fliek verg uiters knap akteurs wat met baie min wêrelde moet skets. In Mooirivier raak van die vertolkings net nie die hart nie; daarom val van die verhaallyne plat.”

Die regisseur-sibbe Lana en Andy Wachowski van The Matrix-faam is terug met nog ’n wetenskapsfiksieavontuur wat net soos Cloud Atlas (2012) gehore gaan verdeel. In Jupiter Ascending (10-12OTG) speel Mila Kunis (Black Swan) Jupiter Jones, ’n skoonmaker wat uitvind sy is die erfgenaam tot ’n interplanetêre ryk wat regeer word deur ’n magtige dinastie. Die dinastie se matriarg het gesterf en haar drie kinders ding mee om die nuwe heerser van die heelal te word. Die oudste, Balem (Eddie Redmayne van Les Misérables), is egter ongenaakbaar en wil alle teenstanders, waaronder Jupiter, uit die pad vee, en die kryger Caine (Channing Tatum van Magic Mike) daag op om haar te beskerm.

Die meeste resensente dink die fliek is flou. Dit kry slegs 36 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan films toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle beskryf dit as “ ’n fees vir die oog, maar narratief beneweld. Jupiter Ascending is nog ’n visueel treffende mislukking van die Wachowski’s”.

Daarteenoor gee die Britse filmtydskrif Total Film se Richard Edwards dit vier sterre. “Die fliek is als wat jy van die sibbe se eerste reis na die buitenste ruimte verwag,” skryf hy. “Dis groot pret, vernuftig en visueel asemrowend. Die Wachowski’s is vrye teuels en ’n reuse begroting gegee en het idees uit ’n wye verskeidenheid bronne geplunder en vermeng om iets te skep wat voel soos niks wat ons al gesien het nie. Ten spyte van die intrige se gebreke is dit een van die skouspelagtigste ruimteavonture wat al die grootskerm getref het.”

As wetenskapsfiksie nie jou ding is nie, is daar die komedie The Wedding Ringer (16DTSG) wat baie aan I Love You, Man (2009) herinner. Twee weke voor Doug (Josh Gad van Wish I Was Here) se troue met die meisie van sy drome (Kaley Cuoco-Sweeting van The Big Bang Theory) soek hy steeds ’n geskikte strooijonker. Hy word verwys na Jimmy Callahan (Kevin Hart van Think Like a Man Too), ’n professionele strooijonker wat homself uithuur aan sosiaal wanaangepaste bruidegomme. Doug wil egter hê Jimmy moet hom nog sewe strooijonkers help kry wat by sy verloofde se strooimeisies sal pas en dinge verloop natuurlik allesbehalwe seepglad.

Dié fliek het ook onder die resensente deurgeloop. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 35 uit 100, en by laasgenoemde kry dit 33 persent. Hulle bevind: “Kevin en Josh is moontlik twee goeie komediante wat ’n gepaste kombinasie sal wees, maar daar is min bewyse hiervoor in The Wedding Ringer.”

Eric D. Snider van complex.com gee dit twee sterre. “Hart en Gad is gewillig om saam te speel en laat jou bloot danksy hul geesdrif en toewyding ’n paar keer giggel,” skryf hy. “Maar die meeste grappies val plat. Dis die soort lui, kinderagtige humor wat jou van kanaal sou laat verander as dit ’n sitkom was wat jy kyk.”

Die biografiese drama Selma (13 TVG) handel oor die predikant Martin Luther King jr. (David Oyelowo van Jack Reacher), wat ook die leier van die Afro-Amerikaanse burgerregtebeweging was. In 1964 is wetgewing aanvaar om segregasie in die suide van Amerika te beëindig, maar daar was steeds diskriminasie in sekere gebiede wat dit vir swart mense moeilik gemaak het om te stem. In 1965 besluit King en sy volgelinge om in die deelstaat Alabama van die dorpie Selma tot die stad Montgomery te marsjeer om te betoog vir hul stemreg. Maar hulle moet die gewelddadige verset van plaaslike inwoners trotseer.

Die kritici is gaande oor die fliek. Dit kry 99 persent op Rotten Tomatoes en hulle bevind: “Selma word aangedryf deur David se aangrypende vertolking. Die fliek put inspirasie en dramatiese krag uit die lewe en dood van Martin Luther King jr., maar ignoreer nie hoe ver ons steeds moet kom om sy ideale te verwesenlik nie.”

Empire se Chris Hewitt gee dit vier sterre. “Dis nie ’n perfekte film nie – weens die klein begroting is tonele van duisende marsjerende mense wat veronderstel is om aangrypend te wees, geskend deur swak spesiale effekte, en die regie is dikwels slordig en stotterend – maar dis ook uiters kragtig en dikwels roerend, en word geanker deur Oyelowo se vertolking wat verskeie pryse verdien.”

Die koddige spulletjie van die onderwaterstad Bikini Bottom is terug in die maltrapfliek The SpongeBob Movie: Sponge Out of Water (OG). Nadat die nare seerower Burger Beard (Antonio Banderas van The Mask of Zorro) die geheime resep vir Krabby Patties steel, dreig die samelewing van Bikini Bottom om ineen te stort omdat hulle so verslaaf is aan dié heerlike happies. Die vrolike geel seespons SpongeBob Squarepants (Tom Kenny se stem) en sy maters moet met sy aartsvyand Plankton (Doug Lawrence) saamwerk om die resep te vind en hulle beland op die ou end aan wal in die regte wêreld.

Die resensente dink dis ’n oulike fliek. Dit kry 62 uit 100 by Metacritic en 72 persent op Rotten Tomatoes waar die konsensus is: “The SpongeBob Movie: Sponge Out of Water gaan nie juis nuwe kykers oorreed nie, maar vir aanhangers is dit nog ’n kleurryke sarsie maniese pret.”

Nell Minnow van beliefnet.com gee dit ’n B+ en beskryf dit as “nog ’n lawwe, maltrapstorie met so ’n sagte hart en soveel vrolikheid dat daar geen manier is om dit te weerstaan nie.”

Die komedie The Interview (16TG) is in omstredenheid gehul omdat dit met die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-un spot en dié land gedreig het om teen Amerika wraak te neem. In November 2014 is Sony, die maatskappy wat die fliek vervaardig het, deur kuberkrakers geteiken wat verskeie sensitiewe dokumente laat uitlek het. Noord-Korea het ontken dat hy betrokke was, maar die fliek se première is gekanselleer. Ná druk van groepe wat hulle vir vryheid van spraak beywer, is die fliek in slegs ’n paar Amerikaanse teaters vertoon.

David Skylark (James Franco van Spider-Man) is die aanbieder van die vermaaklikheidsprogram Skylark Tonight. Toe hy en sy vervaardiger, Aaron Rapoport (Seth Rogen van Pineapple Express), uitvind die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-un (Randall Park) is ’n groot aanhanger van die program kry hulle die kans om daarheen te reis en ’n onderhoud met hom te voer. Maar hul planne loop skeef toe die CIA hulle nader en beveel om ’n sluipmoord op Kim uit te voer.

Die meeste resensente dink die fliek is gemiddeld. Dit kry 51 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind: “Ongelukkig is The Interview oorskadu deur omstredenheid en daarom het min mense dit gesien. Die draaiboek bevat middelmatige humor wat deur die twee innemende hoofakteurs aangevuur word.”

Empire se William Goss gee dit drie sterre. “Maak nie saak hoe afgesaag of vuil die grappies is nie, Seth en James werk goed saam en laat jou lag. Maar Park en Diana Bang, wat Kim se skakelbeampte speel, steel die fliek onder die sterre uit. Hulle laat jou skaterlag, maar wat ook indrukwekkend is, is hul vermoë om simpatie te ontlok vir wat essensieel twee karikature is.”

Sandra Visser