Dis nog ’n prent wie se hoofakteur pas ’n Oscar-benoeming losgeslaan het. In The Imitation Game (10-12OV) speel Benedict Cumberbatch (van die TV-reeks Sherlock) die Britse wiskundige Alan Turing wat tydens die Tweede Wêreldoorlog saam met ’n topspan die kodes van die Duitsers se Enigma-masjien ontsyfer het. Die fliek bekyk oor Turing se tienerjare op kosskool toe hy afgeknou is en sy latere jare toe die polisie hom ondersoek het oor sy homoseksualiteit, wat in die 50’s nog onwettig was in Brittanje.

Die meeste resensente is mal oor die fliek. Dit kry 90 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Met ’n uitstekende vertolking deur Benedict Cumberbatch wat hierdie ware verhaal verlig, is The Imitation Game as ’n voortreflike toevoeging tot die prestige-genre van biografiese drama.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Dan Jolin gee dit vier sterre. “Dis ’n skitterende riller en ’n waardige biografie van ’n ware held,” skryf hy. “Dis tergelykertyd ’n bemoedigende opvolg vir Headhunters (2011) van die regisseur Morten Tyldum, ’n indrukwekkende debuut vir die draaiboekskrywer Graham Moore, en ’n hoogtepunt in Benedict se loopbaan op die grootskerm.”

Ná Eastern Promises (2007) en A Dangerous Method (2011), gee die omstrede maar gerespekteerde Kanadese regisseur David Cronenberg met Maps to the Stars (16 TGSND)nog ’n tree weg van die gruwelflieks soos Videodrome (1983) en The Fly (1986), waarmee hy naam gemaak het. Dié blik op die afskuwelike vergrype en selfbeheptheid van mense in Hollywood is egter nie minder weersinwekkend nie.

Die fokus van die fliek is die disfunksionele Weiss-gesin. Pa Stafford (John Cusack van 2012) is ’n leefstylghoeroe, ma Christina (Olivia Willams van The Sixth Sense) is pal op breekpunt en seun Benjie (Evan Bird) is ’n bedorwe brokkie wat as kinderster naam gemaak het. Dan is daar ook die oor die muur aktrise Havana Segrand (Julianne Moore van Crazy, Stupid, Love), wat probeer om ’n rol los te slaan in ’n nuwe weergawe van ’n fliek waarin haar superster-ma die hoofrol vertolk, en limobestuurder Jerome (Twilight se Robert Pattinson), wat droom van sukses as akteur of draaiboekskrywer. As buitestaander bekyk die skaam Agatha (Alice in Wonderland se Mia Wasikowska) die spulletjie met verwondering. Sy het pas in Los Angeles aangekom en word aangestel as Havana se assistent.

Verreweg die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 72 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 68 persent. “Die vertelling is lomp en die stemming verwarrend, maar Maps to the Stars het steeds genoeg byt om David se aanhangers te bevredig wat op soek is na nog ’n dosis van sy kil en wrang styl.”

James Mottram van die Britse tydskrif Total Film is egter heeltemal oorstelp en gee dit vyf sterre. “Maps to the Stars is heel waarskynlik David se beste werk sedert 2005 se A History of Violence. Dis ’n skurwe, satiriese hap na die hand wat hom voer,” skryf hy. “Die draaiboek is giftig, Cronenberg vol selfvertroue en die akteurs tops. Dis een van die beste flieks oor die duistere kant van Hollywood.”

Die komediedrama The Humbling (13 TS) is gegrond op die gelyknamige roman deur die Amerikaanse skrywer Philip Roth en handel oor Simon Axler (Al Pacino), ’n oor die muur verhoogakteur wat sukkel om sy passie vir die lewe terug te kry. Hy vind egter weer sy woema toe hy ’n verhouding aanknoop met die jong lesbiër Pegeen (Greta Gerwig), maar mettertyd sukkel hy toenemend om by te hou.

Die meeste kritici dink dis ’n gemiddelde fliek. Dit kry 59 uit 100 op die webtuiste Metacritic en 56 persent by Rotten Tomatoes. Die konsensus is: “The Humbling is beslis ’n hoogtepunt in die latere deel van Al se loopbaan, maar dit sê nie veel nie aangesien die meeste van sy pogings so power is.”

Time Out New York se Cath Clarke gee dit twee sterre. “The Humbling is gegrond op Roth se grillerige oumanfantasie-roman waarin ’n veel jonger lesbiër so opgesweep raak in haar ontsag vir ’n afgetakelde 67-jarige akteur dat sy onmiddellik bekeer word tot die plesiere van heteroseksualiteit. En raai wat? Die filmmakers het die vrou nog jonger gemaak as in die boek. Dit sou ondraaglik wees as dit nie was vir Al nie,” skryf sy. “Sy karakter is simpatiek soos hy ontwikkel van Pageen se mentor-minnaar tot haar skoothondjie, en Greta is uitstekend. Sy omskep ’n karakter wat basies ’n feeks is in ’n regte mens. Die res is ’n onredbare gemors.”

Nog ’n week, nog ’n goedkoop gruwel fliek. The Pyramid (16 G) speel af in – ja, jy’t reg geraai – ’n piramiede. Een is pas in die Egiptiese woestyn ontdek en ’n span argeoloë klim in om te kyk wat hulle kan kry. Dis nie lank nie of hulle verdwaal in die kronkelende tonnels en kom agter iets maak jag op hulle.

Dat Rotten Tomatoes dit ’n skamele ses present gee, behoort als te sê. Hulle beskryf dit as “swak belig en vrot geskryf. The Pyramid bevat bitter min behalwe lomp dialoog, amateuragtige toneelspel en stowwerige bangmaak-oomblikke in die afgesaagde tuisvideo-styl (“found footage”).”

Empire se gruwelkenner, Kim Newman, gee dit een ster. “Al is dit hopeloos te lank vandat iemand ’n ernstige, angswekkende mummie-fliek probeer maak het, misluk die regisseur Gregory Lavasseur se fliek om omtrent elke vlak,” skryf hy. “Dis erger as om lewendig in ’n piramiede begrawe te word, al is dit genadiglik minder tydrowend.”

’n Fliek vir die jongspan wat ook begin draai, is Barbie in Princess Power (O). Dis die 29ste aflewering in die animasiereeks gegrond op die gewilde pop en dié keer word Barbie ’n superheld. In ’n meer dogtertjie-vriendelike weergawe van Spider-Man word Barbie deur ’n skoenlapper gesoen (in plaas van deur ’n spinnekop gebyt) en kry sy superkragte.

Die fliek is nog nie geresenseer nie, maar dis verblydend dat die vervaardigers voel die teikenmark, jong meisies, soveel in superhelde belangstel dat hulle ’n fliek daaroor maak. Barbie hoef nie net tradisioneel vroulike goed te doen nie; sy kan ook ’n sterk heldin wees wat mense red en die voortou neem.

Sandra Visser