Marvel Studios se grootste waagstuk tot op hede, Guardians of the Galaxy (10-12OT G), begin hierdie week. Anders as vorige flieks wat gegrond is op Marvel Comics-karakters soos Iron Man en Thor, is die Guardians of the Galaxy-helde meestal onbekend aan die deursnee-kyker.

Die fliek speel ook nie op die aarde af nie, maar in die ruimte tussen verskeie wesens van ander planete. Die Amerikaanse loods Peter Quill (Chris Pratt van Wanted) is in die nood nadat hy ’n artefak steel en geteiken word deur die bose wese Ronan (Lee Pace van die TV-reeks Pushing Daisies).

Dan beland hy in die tronk saam met ’n aardige groep misdadigers – die sluipmoordenaar Gamora (Zoe Saldana van Star Trek), pratende wasbeer Rocket Raccoon (met die stem van Bradley Cooper), die gespierde Drax (voormalige rofstoeier Dave Bautista) wat wraak gesweer het en die wandelende boom Groot (met die stem van Vin Diesel). Saam word hulle die Guardians of the Galaxy.

Dit lyk of Marvel se waagstuk vrugte afwerp, want die meeste resensente is mal oor die fliek. Dit kry 90 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken, en ’n gemiddelde uitwerk.

Hulle bevind: “Guardians of the Galaxy is net so oneerbiedig en ligsinnig as wat aanhangers van die dikwels aweregse strokiesboeke sou verwag. Dis ook snaaks, opwindend, roerend en visueel indrukwekkend.”

Die Britse filmtydskrifte Empire en Total Film gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Dan Jolin skryf: “Dis kleurryk, tong in die kies pret, so reg in die kraal van volwasse liefhebbers van kitsch wetenskapsfiksie uit die 80’s. Maar die Marvel-formule, veral met betrekking tot die fliek se laaste groot aksietoneel, begin voel te veel na, wel, ’n formule.”

Total Film se Matt Risley beskryf dit as “mal, manjifiek en magies. Guardians of the Galaxy is Marvel se waaghalsigste maar verrassendste sukses tot op hede”.

As jy nie lus het vir ruimtewesens nie, is daar die drama Mr. Pip (13G) gegrond op die roman Mister Pip deur die Nieu-Seelandse skrywer Lloyd Jones. Die verhaal speel af in die 90’s tydens die burgeroorlog op die eiland Bougainville in Papoea-Nieu-Guinee.

Al wit man wat nog daar woon, mnr. Watts (Hugh Laurie van die TV-reeks House), besluit om die plaaslike skool te heropen en begin lees vir die kinders uit Charles Dickens se Great Expectations.

Die verhaal van die Victoriaanse weeskind Pip spreek tot ’n jong meisie, Matilda (Xzannjah Matsi), en een dag skryf sy die naam in die sand. Dié onskuldige daad hou nare gevolge in toe die weermag die woord in die sand sien en dink dis die naam van ’n rebelleleier.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar dié wat dit gesien het, dink dis goed. Leon van Nierop gee dit vier sterre en beskryf dit as meesleurend en voortreflik. “Die regisseur, Andrew Adamson, se ritme is rustig en tydsaam,” skryf hy. “Hy vertel die tragiese verhaal sonder woede, sensasie of opsigtelike tegnieke. En dit is die rolprent se sterk punt: ’n regisseur wat die verhaal vertrou en nie die waarheid optert nie.”

Wish I Was Here (16TS) is die Scrubs-akteur Zach Braff se tweede fliek as regisseur ná Garden State (2004). Toe die groot ateljees nie wou betaal nie, het hy skarefinansiering ingespan.

Zach speel Aidan Bloom, ’n 35-jarige eggenoot, pa en sukkelende akteur wat steeds op soek is na sy lewensdoel.

Sy vrou (Kate Hudson van How To Lose a Guy in 10 Days) onderhou die gesin deur haar af te sloof in ’n sieldodende werk. Nadat Aidan se pa (Mandy Patinkin van die TV-reeks Homeland) hulle vertel hy het kanker en kan nie meer bekostig om vir ’n privaat skool te betaal nie en die naaste openbare skool hopeloos te swak is, word Aidan genoop om sy kinders, Tucker (Pierce Gagnon van die TV-reeks Extant) en Grace (Joey King van Ramona and Beezus), tuisonderrig te gee. Deur op sy manier sy kinders van die lewe te leer, begin sien Aidan die wêreld met nuwe oë.

Ongelukkig vir Zach en die mense wat vir sy fliek betaal het, is dit blykbaar maar bra flou. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 43 uit 100.

By laasgenoemde kry dit ook net 40 persent en die konsensus is: “Wish I Was Here is beslis opreg, maar die onderwerp is reeds te veel keer gedek, veral deur Zach Braff se vorige werk.”

Die gesiene Amerikaanse resensent Leonard Maltin voel die fliek is “’n mengelmoes wat rondslinger tussen kras, sitkom-humor en egte emosie. Dié twee aspekte werk nie saam nie, maar Braff speel sy troefkaart –’n sterwende ouer – vir al wat dit werd is, en dié tonele is die fliek se beste dele.” Hy dink ook die karakters het nie veel om die lyf nie en dat hul persoonlikheid en gedrag teenstrydig is.

Steven Whitty van die Newark Star-Ledger aanlyn koerant is bietjie positiewer en gee dit drie sterre. Volgens Steven is die hoofkarakters in Zach se flieks mans wat al volwasse behoort te wees, maar hul steeds soos kinders (Garden State) en tieners (Wish I Was Here) gedra.

“Maar wat dit die moeite werd maak om Braff se flieks te kyk is dat hy eerlik kyk na die swakpunte van sy kinderagtige helde (wat altyd ’n bietjie ontsag het vir hulle bekwame pa’s),” skryf hy.

“En hy het ’n aangename styl wat gekenmerk word deur koel kleure, die gebruik van ietwat visooglense, byderwetse klankbane en wye skote (met sy buitestaander karakters wat poseer teen ’n wrede en lelike agtergrond). Dis ’n welkome tweede hoofstuk in dié rolprentvervaardiger se loopbaan.”

Sandra Visser