As jy ’n aanhanger van dansflieks is, kan jy Step Up All In (7-9O) op die proef stel. Die vyfde fliek in die Step Up-reeks herenig van die karakters uit die vorige flieks in Las Vegas, waar hulle alles uithaal om te kyk wie in ’n danskompetisie gaan koning kraai.

Die film is nog nie wyd geresenseer nie, maar dié wat dit gesien het, dink dis gemiddeld. Dansflieks gaan deesdae meer oor die opwindende choreografie as die dikwels flou storie wat die danstonele met mekaar verbind. Dis hoe Peter Debruge van die Amerikaanse tydskrif Variety ook die fliek beskryf. “Die draaiboekskrywer John Swetnam sal nie enige pryse wen vir die lomp tonele wat hy tussen die regisseur Trish Sie (in haar debuut) se asemrowende dansnommers indruk nie,” skryf hy. “Maar die maklik oplosbare dramatiese konflikte word gelukkig tot ’n minimum gehou. Gretige jong kykers sal deur vervelige storielyne sit solank die fliek vars danspassies verskaf, en wat dit betref, is Sie en haar span van drie choreograwe in die kol.”

Die plaaslike misdaadriller Cold Harbour (13TG) handel oor ’n polisieman van Khayelitsha, Sizwe (Tony Kgoroge van Invictus), wat ondersoek instel nadat die geskende lyk van ’n Chinese man op ’n Kaapse strand uitspoel. Hy is gretig om homself te bewys en vermoed die saak het te doen met perlemoensmokkelary, maar dan raak dinge ingewikkeld toe hy agterkom sy baas is betrokke by die misdaad.

Karen Rutter van die Cape Times gee dit vier sterre. “Daar is ’n mate van ’n oplossing, maar wat Cold Harbour eindelik boeiend maak, is die spannende reis om daarby uit te kom. Die akteurs lewer almal gekonsentreerde, betrokke toneelspel. Dis een van die beste Suid-Afrikaanse flieks in ’n lang tyd, en as ’n voorbeeld van ’n misdaaddrama steek dit nie af teen sy internasionale eweknieë nie.” Maar Amanda de Lange van Die Burger is nie so beïndruk nie en gee dit slegs twee sterre. “Daar is genoeg skop, skiet en knoei om aksieliefhebbers te vermaak,” skryf sy. “Maar hoewel dit nie ’n swak fliek is nie, is dit ook nie een wat jou lank gaan bybly nie.”

Die romantiese komedie Think like a Man Too (13T) is die opvolg op 2012 se Think like a Man, wat gebaseer is op die gewilde selfhelpboek Think like a Man, Act like a Lady deur die komediant Steve Harvey. Al die paartjies van die eerste fliek is terug en kom in Las Vegas aan vir ’n troue. Dan volg wat Jeff Labrecque van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly beskryf as ’n kombinasie van The Hangover se streke vir die mans en Bridesmaids se manewales vir die vroue. Michael Ealy (van die TV-reeks Almost Human), die komediant Kevin Hart en Wendi McLendon-Covey (Bridesmaids) is onder die rolverdeling.

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry slegs 25 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks gee, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Think like a Man Too herenig sy voorganger se talentvolle sterre, maar misluk daarin om die karakters in nuwe of interessante rigtings te stuur.” Jeff gee dit ’n C-. “Behalwe dat dit elke verhouding toets met alledaagse konflikte wat verband hou met ouerskap, mededingende loopbane en getrouheid, is daar ’n gebrek aan ’n storie,” skryf hy. “Om daarvoor te vergoed fokus die fliek op Hart, ’n warrelwind wat amper enigiets snaaks kan maak. Hy is soveel beter as enigiets anders in die fliek dat sy kollegas net kan rondstaan en hom dophou; daarom word daar van hom verwag om in elkeen van sy tonele die gehoor te laat skaterlag. Ongelukkig loop hy ’n paar bloutjies.”

Kofi Outlaw van screenrant.com gee dit twee en ’n half sterre. “Think like a Man was ’n aangename verrassing,” skryf hy. “Die regisseur Tim Story en sy ensemble akteurs het Steve se selfhelpboek in ’n unieke romkom omskep wat eendimensionele stereotipes gevat en verander het in ’n verfrissende ondersoek na die liefde. Think like a Man Too behou die energie tussen die akteurs, maar die uniekheid en pret van die eerste fliek het ongelukkig verdwyn en laat ons met ’n konvensioneler romkom-opvolg vol clichés in sy plek.”

Vir ’n ander blik op die liefde kan jy naderskuif vir Le Week-End (13T). Dit handel oor die ouer Britse paartjie Meg (Lindsay Duncan van Under the Tuscan Sun) en Nick (Jim Broadbent, Professor Slughorn in die Harry Potter-flieks) wat Parys die eerste keer sedert hul wittebrood besoek in ’n poging om hul huwelik weer woema te gee. Maar die verloop van tyd het ’n groot impak gehad op Parys, asook hul liefde vir mekaar.

Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. Dit kry 73 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 89 persent en die konsensus is: “Le Week-End het hope bittersoet humor, maar ook verbasende netelige dieptes. Dit bevat goeie toneelspel en bied ’n gesofistikeerde uitbeelding van die kwessies waarmee ’n mens in jou herfsjare en in ’n langtermynhuwelik worstel.” Die Britse tydskrif Empire se Dan Jolin gee dit drie sterre en sê dit bied “ ’n insiggewende blik op lewenslange verhoudings. Of dit doelbewus is of nie, voel die fliek soos ’n poging om ’n jeugdige, modieuse styl vas te vang, iets wat die bejaarde paartjie ook begeer. Dit gee die fliek ’n lomp, selfbewuste gevoel.” James Mottram van die Britse tydskrif Total Film gee dit vier sterre en beskryf dit as “ ’n bekwame, bittersoet drama wat meet bitter as soet is”.

In die Belgiese drama The Broken Circle Breakdown (16TSN) vind die getroude musikante (Veerle Baetens en Johan Heldenbergh) uit hul jong dogter het kanker, wat enorme druk op hul verhouding en musiekgroep plaas.

Die meeste resensente dink dis ’n uitstekende fliek. Dit kry 81 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind: “The Broken Circle Breakdown probeer soms te hard, maar in die algemeen is dit ’n meevoerende, delikate romanse met ’n uitstekende klankbaan”. Empire se Angie Errigo gee dit drie sterre. “Van die gebeure voel geforseer en onoortuigend, maar die manier waarop die verhouding deur die paartjie se konsertduette uitgebeeld word, is aangrypend,” skryf sy. Liam Lacey van die Kanadese koerant The Globe and Mail gee dit twee en ’n half uit vier. “Die hoofakteurs bied ’n roerende portret van ’n paartjie wat in ’n krisis gedompel is, maar die draaiboek se tweede helfte verval van naturalisme tot melodrama soos die filmmakers sukkel om ’n ontknoping vir hierdie uiters neerdrukkende storie te vind.”

- Sandra Visser