Vandeesweek se fliek wat moontlik by die meeste kykers sal byval vind, is Bad Neighbours (16DTS), ’n komedie met Seth Rogen (Knocked Up) en Rose Byrne (Bridesmaids) as ’n jong voorstedelike paartjie, Mac en Kelly Radner, met ’n pasgebore baba. Hulle vind uit hulle gaan nuwe bure kry en sien daarna uit om met hulle bevriend te raak, maar tot hulle skok trek ’n groep mansstudente langsaan in. Tog probeer hulle steeds ordentlik wees en stel hulself voor aan die primarius, Teddy (Zac Efron van High School Musical), en adjunk, Pete (Dave Franco van 21 Jump Street). Maar aand ná aand is dit ’n rumoer langsaan en Mac gaan vra Teddy-hulle om rustig te raak. Teddy stem in, maar verbreek sy belofte en Mac bel die polisie. Die studente besluit om wraak te neem en gou-gou is dit oorlog.

Die meeste kritici hou van die fliek. Dit kry 73 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat kritici aan flieks gee, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “As gevolg van hope stoute humor wat eweredig verdeel word tussen hoofspelers wat mekaar goed aanvul, verdien dié fliek sy hoë ouderdomsbeperking en kykers se gelag.” Die Britse fliektydskrif Empire se Olly Richards gee dit drie sterre. “Daar is baie om te geniet en te prys in hierdie fliek,” skryf hy. “Byrne is byvoorbeeld ’n gelyke lid van die groep, eerder as om tweede viool te speel as die stereotipiese kwaai vrou wat heeltyd om haar man se ore neul. En daar is dele wat uiters snaaks is. Wat dit nie het nie, is progressie. Dit is eintlik net ’n rits komiese sketse en die vorige toneel het min uitwerking op die een wat volg. Dit beteken jy leer ken nie juis die karakters nie, wat veroorsaak dat die ontknoping onbevredigend is.” Matt Glasby van die Britse fliektydskrif Total Film het dit nog meer geniet. Hy gee dit vier sterre en voel dis so snaaks dat jy dit enigiets kan vergewe.

Vir dié wat van gruwelflieks hou, is daar weer ’n slag iets om te kyk. Anders as die meeste films in hierdie genre het Deliver Us from Evil (16TG) twee redelik hoogaangeskrewe akteurs in die hoofrolle wat in ander genres naam gemaak het. Eric Bana (Hulk) speel ’n New Yorkse polisiespeurder wat ’n reeks wrede, onverklaarbare misdade ondersoek. Hy ontmoet ’n onkonvensionele priester (Édgar Ramírez van Wrath of the Titans) wat as ’n geestebesweerder opgelei is, en saam probeer hulle die bose oorwin.

Die meeste resensente dink die fliek is flou. Dit kry 40 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde gee dit 30 persent en die konsensus is: “Die regisseur Scott Derrickson (Sinister, The Exorcism of Emily Rose) is steeds ’n staatmaker betreffende die skep van ’n grillerige atmosfeer, maar Deliver Us from Evil se gebrek aan oorspronklike bangmaak-oomblikke word weerspieël in die geykte titel.” Jason Buchanan van tvguide.com gee dit twee en ’n half uit vier. “Derrickson en die draaiboekskrywer Paul Harris Boardman skep reeds van die begin af ’n gevoel van onrustigheid, en bou stadig maar seker daarop met ’n reeks onheilspellende tonele wat geleidelik die skrikwekkende legkaart inmekaarsit,” skryf hy. Moira Macdonald is negatiewer en gee dit een en ’n half sterre. “Eric sit alles in, maar dié fliek is ’n bra gewone en soms lawwe fliek. Al wat dit van ander flieks onderskei, is dat ons so lank vir die duiweluitdrywing moet wag.”

As jy nog nie moeg is vir Shia LaBeouf (Transformers) se gesig nie, kan jy The Necessary Death of Charlie Countryman (16DTNSG) ’n kans gee. Ná sy ma se dood besluit die Amerikaner Charlie (LaBeouf) om na Boekarest, Roemenië, te reis en daar sy pyn te verdoof deur hom oor te gee aan dwelms, drank en seks. Dan raak hy verlief op ’n beeldskone tjellis, Gabi (Evan Rachel Wood van Across the Universe), maar sy is die meisie van ’n wrede bendeleier (Mads Mikkelsen van Hannibal).

Die meeste resensente dink die fliek is swak. Dit kry net 27 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is: “Shia geniet duidelik sy rol, maar sy harde werk kan nie die fliek red van die oppervlakkige draaiboek en besige regie nie.” Empire se Damon Wise is bietjie positiewer en gee dit drie sterre. “Die fliek se wispelturigheid kan ’n bietjie oorweldigend wees, maar daar is genoeg energie in die jaagtonele en ’n kwesbare sy van LaBeouf, wat so dikwels onder die kritici deurloop, wat ons nie genoeg sien nie.” James Mottram van list.co.uk gee dit twee sterre. “Die fliek voel soos ’n aanval op jou sintuie. Dis oorstileer, die storie spring rond en die musiek is oordonderend. Daar is ’n paar amusante oomblikke, maar die meerderheid van die fliek voel swak uitgedink en gewoon lelik.”

As jy van ’n inspirerende ware lewensdrama hou, sal jy dalk Life of a King (10-12O) geniet. Cuba Gooding jr. (Jerry Maguire) speel Eugene Brown, wat 18 jaar in die tronk was omdat hy ’n bank probeer beroof het. Agter tralies ontdek hy skaak en die lewenslesse wat dit kan bied, en nadat hy vrygelaat word, besluit hy om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Hy kry werk as ’n opsigter by ’n arm hoërskool. Op ’n dag besluit hy om die leerders wat in detensie sit skaak te leer om te sien of dit hul lewe kan verander.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar Metacritic gee dit 52 uit 100 gebaseer op sewe resensies. Christy Lemire van rogerebert.com gee dit twee sterre. “Vir ’n fliek oor skaak – ’n spel waarin strategie, intelligensie en ’n voorsprong bo jou opponent van kardinale belang is – is Life of a King uiters voorspelbaar,” skryf sy. “Die regisseur Jake Goldberger se drama is vreeslik opreg en bevat al die inspirerende oomblikke wat jy verwag. Tog is Brown se storie ’n goeie een en die bekwame toneelspel, veral deur Cuba, verhef die film bo die oorbekende elemente van die genre.”

Sandra Visser