Ná The Wedding Singer (1998) en 50 First Dates (2004) herenig Adam Sandler en Drew Barrymore vir die derde keer in Blended (10-12O), nog ’n romantiese komedie. Hierdie keer speel hulle enkelouers wat mekaar die eerste keer op ’n afspraak ontmoet wat so rampspoedig verloop dat hulle mekaar nooit weer wil sien nie. Ná ’n hoogs onwaarskynlike sameloop van omstandighede word hul gesinne gedwing om in Afrika saam vakansie te hou (dit sê nie waar spesifiek nie, want vir Amerikaners is die hele kontinent mos een land), en dis natuurlik nie te lank voor hulle mekaar in ’n ander lig sien nie.

Ongelukkig lyk dit nie of Adam en Drew vir ’n derde keer die betowering van hul twee vorige flieks saam kon vasvang nie. Die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word, gee dit slegs 14 persent. Hulle bevind: “Blended slinger rond tussen klugtigheid en soetsappigheid sonder toewyding aan een van die twee. Dis een van die min Adam Sandler-flieks wat die sonde pleeg om nie veel meer as verveling uit te lok nie.”

Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei twee sterre. Eersgenoemde se Anna Smith skryf: “Daar is geen verrassings nie en ook nie veel om oor te lag nie, al is die romanse tog oulik op ’n eenvoudige, sentimentele manier. Sandler se aanhangers sal iets vind om te geniet in die fliek. Hulle kry dit gewoonlik reg.” Total Film se Neil Smith beskryf dit as “ ’n growwe romkom wat nie eens gered kan word deur die vermaaklike kombinasie van Drew en Adam nie”.

Aan die ander kant van die spektrum is The Invisible Woman (13S), die akteur Ralph Fiennes (Voldemort in die Harry Potter-reeks) se tweede poging as regisseur ná Coriolanus (2011). Dis ’n biografiese drama wat handel oor die Victoriaanse skrywer Charles Dickens (vertolk deur Fiennes) wat in 1857 op die 18-jarige aktrise Nelly Ternan (Felicity Jones van Chalet Girl) verlief raak en sy vrou van 20 jaar vir haar los. Nelly is ’n opgevoede vrou en sy daag die 45-jarige Dickens uit, wat hom weer lus vir die lewe en vir skryf gee. Maar hulle kan nooit openlik ’n verhouding hê nie en Nelly moet altyd die onsigbare muse in Dickens se lewe bly.

Die meeste resensente is beïndruk met dié fliek. Dit kry 76 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is: “Die film se besadigde pas sal party kykers frustreer, maar dit sal aanhangers van knap historiese dramas visueel sowel as emosioneel voed”. Angie Errigo van Empire gee dit vier sterre. “Die aandag wat aan visuele detail gegee word, is verbysterend,” skryf sy. “Voortreflike lang, still oomblikke vibreer met hunkering, eensaamheid en erotiek. Dit is ’n fliek vir kykers wat soek na ’n produksie uit die boonste rakke.” Dave Calhoun van Time Out gee dit ook vier sterre en skryf: “Die titel laat dit klink soos ’n superheld-fliek. Maar die enigste superkragte in hierdie aangrypende blik op die openbare en privaat lewe van Charles Dickens is ’n uiters delikate benadering tot toneelspel, en die uitbeelding van ’n historiese verhaal op ’n wyse wat alles behalwe vervelig en eng is.”

Vir aanhangers van intieme, subtiele dramas is daar Hateship Loveship (13DTS) waarin Kristen Wiig (Bridesmaids) die rol vertolk van Johanna, ’n skaam, teruggetrokke huishulp en versorger van ’n bejaarde vrou. Ná die vrou se afsterwe begin werk sy vir ’n bejaarde man, Mnr. McCauley (Nick Nolte van Warrior), wie se tienerkleindogter, Sabitha (Hailee Steinfeld van True Grit), by hom woon. Sabitha se pa, Ken (Guy Pearce van Iron Man 3), is ’n sjarmante gewese dwelmslaaf wat sy vrou se dood veroorsaak het deur in ’n boom vas te jaag, maar ná sy vrylating uit die tronk probeer hy met Sabitha versoen raak. Sy besluit om ’n wrede speletjie te begin: Sy stuur ’n brief aan Johanna waarin sy voorgee dat Ken sy gevoelens aan haar openbaar. Die naïewe Johanna het nooit gedink dat die liefde vir haar beskore is nie en raak tot haar ore toe verlief op Ken.

Die meeste kritici dink die fliek is skaflik. Dit kry 51 persent op Rotten Tomatoes en 59 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk. Rotten Tomatoes bevind: “Kristen se sterk vertolking maak die fliek amper die kyk werk, maar die res van die storie is maar saai.” Dennis Schwartz van Ozus’ World Movie Reviews stem saam en gee dit ’n C+. “My probleem is ek het nooit geglo die gebeure op die skerm is liefde, of selfs moontlik nie,” skryf hy. “Dit voel net alles speel-speel, of soos ’n fantasie waarin iemand se droom bewaarheid word. Die regisseur se benadering is tentatief en enige teken van lewe word doodgedruk om ’n onopregte blik op die werklikheid te skep”.

Sheila O’Malley van rogerebert.com stem glad nie saam nie en gee dit vier sterre. “Die beste is dat jy nie weet wat volgende gaan gebeur nie,” skryf sy. “So ’n verhaal vereis ’n delikate benadering. Om die gehoor te druk vir ’n emosionele reaksie of om sekere oomblikke met musiek of nabyskote te onderstreep, sou die fliek in ’n melodramatiese sepie omskep. Maar (die regisseur Liza) Johnson hou terug en dit gee die karakters ruimte om asem te haal, wat hul gedrag onvoorspelbaar maak.”

As jou kroos reeds al die kindervriendelike flieks op die kringloop gesien het, kan jy hulle neem om The House of Magic (O) te kyk. Hierdie Belgiese tekenprent handel oor ’n kat genaamd Thunder (met die stem van Murray Blue), wat tydens ’n storm in ’n vervalle huis skuiling soek en dan aangeneem word deur die eienaar, ’n eksentrieke towenaar genaamd Lawrence (Doug Stone). Maar sy troetelhaas, Jack (George Babbit), en -muis, Maggie (Shanelle Gray), is nie so verwelkomend nie. Ná ’n ongeluk beland Lawrence in die hospitaal en sy eiendomsagent-neef sien sy kans om die huis te verkoop. Dit dwing Jack, Maggie en Thunder om saam te werk om hom te keer.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar dié wat dit wel gesien het, dink dis goed. Dit kry drie sterre by Empire en Steve Kilgallon van stuff.co.nz gee dit vier sterre en beskryf dit as “ ’n onverwagse plesier. The House of Magic is ’n merkwaardig outydse en subtiele tekenprent wat ouers terug na hul kinderdae sal neem, toe sulke flieks volop was voor die opmars van luidrugtige lokettreffers. Die finale is dalk voor die hand liggend, maar dit doen nie afbreuk aan die plesier wat jy kry uit die wilde jaagtogte, die hope oulike karakters wat lewe kry te danke aan Lawrence se towerstof en die eenvoud wat ’n storie wat goed vertel word nie. ’n Goeie keuse vir die onder-10’s dié vakansie.”

- Sandra Visser