As jy lus is vir ’n aksiefliek wat aan die 80’s herinner, is The Expendables 3 (13GT) die fliek vir jou. Dis nie nodig om die vorige twee aflewerings te gesien het nie; die storie is nie belangrik nie. Al wat jy moet weet, is dat Sylvester Stallone weer al die aksiehelde wat hy in die hande kon kry, bymekaargebring het vir nog ’n sarsie ontploffings, gevegte en waagtoertjies. Hierdie keer sluit Wesley Snipes, Harrison Ford en Antonio Banderas aan by Arnold Schwarzenegger, Jason Statham, Jet Li en Dolph Lundgren om ’n gewetenlose wapenhandelaar (Mel Gibson) aan te vat.

Die meeste resensente dink die fliek is maar flou. Dit kry 32 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan films toeken en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “Soos sy voorgangers, bied The Expendables 3 ’n greintjie sterbelaaide opwinding vir aanhangers van outydse aksierillers, maar gegewe al die talent wat hier betrokke is, moes dit hope meer pret gewees het.”

Die Britse filmtydskrifte Empire en Total Film is positiewer en gee dit albei drie sterre. Simon Crook van eersgenoemde skryf: “The Expendables se taktiek was nog altyd uiters eenvoudig: Dit mik ’n vuurpyl na ’n 80’s-videowinkel en ons kyk hoe die clichés ontplof. Sonder daardie era se oordadige geweld en vindingryke vloekwoorde kry ons nou aksie met die veiligheidsknip aan: Alles ontplof, niemand sterf nie en dit voel of jy per ongeluk The A Team gebel het. Maar wat hierdie aflewering van die ander onderskei, is ’n teenstander wat sterk genoeg is om Stallone se span opdraande te gee. Gibson se venynige charisma gee die fliek lewe.”

Jamie Graham van Total Film voel “The Expendables 3 is ’n groot verbetering op die eerste twee. Die regisseur, Patrick Hughes, lewer groter en stylvoller aksietonele, die sêgoed is skerper en die akteurs spot lekker met hulself. Daar is grappies oor Snipes se belastingontduiking, Stallone se beroerte en die waaghalsigste van alles, Jason Statham se aksent.”

Die veteraanakteur en -regisseur Clint Eastwood takel die musiekspelgenre met Jersey Boys (16T), die fliekweergawe van die gewilde verhoogstuk. Dit speel af in die 60’s in New Jersey, Amerika, en handel oor vier jong mans uit ’n arm buurt wat die sanggroep The Four Seasons vorm en supersterre word. Christopher Walken (Hairspray) is die grootste naam in die rolverdeling; drie van die vier hoofkarakters word gespeel deur akteurs wat die rolle op Broadway vertolk het: John Lloyd Young, Michael Lomenda en Erich Bergen. Vincent Piazza van die TV-reeks Boardwalk Empire vertolk die vierde hoofrol.

Die fliek het gemengde reaksie ontlok. Op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, kry dit 54 uit 100, en laasgenoemde gee dit 53 persent. Die konsensus is: “Jersey Boys is nie so vindingryk of energiek soos wat dit kon wees nie, maar die musiek bly ’n groot plesier.” Ian Freer van Empire gee die fliek drie sterre. “Eastwood gee die film ’n indrukwekkende voorkoms. Aan die begin is die kleure pragtig gedemp en dit word ál helderder namate die groep suksesvoller raak,” skryf hy. “Maar wat Clint nie van die verhoog na die silwerdoek oordra nie, is die gevoel van uitbundigheid. Dis goed om ’n ernstiger aanslag te neem, maar dan moet dit meer verfynd wees en ook meer om die lyf hê.” James Berardinelli van reelviews.net gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Die teleurstellendste aspek van Jersey Boys is hoe ondramaties en dooierig die vertelling is. Die intrige volg ’n eenvoudige, onmerkwaardige spoortjie wat net ’n verskoning is om The Four Seasons se liedjies te gebruik.”

Between Friends (13S) is ’n Suid-Afrikaanse poging om ’n romantiese drama oor ’n groep swart vriende te skep soos dié van die Amerikaner Tyler Perry. Volgens Steyn du Toit van die Cape Times het Durbanse nieregeringsorganisasie Impucuzeko die film help finansier met die oogmerk om ’n “hoëgehalte-glansfilm te maak in dieselfde trant as die ‘swart flieks’ wat ons in die laaste paar jaar vanuit die VSA gesien het”.

Nadat hulle mekaar sewe jaar laas gesien het, herenig ’n groep universiteitsvriende by die luukse wildsplaas waar een van hulle, Njabulo (die komediant Siyabonga Radebe), die bestuurder is omdat sy pa die plek besit. Sy jonger broer (Thapelo Mokoena van Nothing for Mahala) is ’n suksesvolle sakeman met ’n poppie (Amanda Du-Pont van die sepie Muvhango) aan sy arm. Die res van die vriendekring bestaan uit die dominerende Portia (Mandisa Nduna), wat op haar gedweë man (Dumisani Mbebe van die sepie Generations) se kop sit en die sukkelende skrywer Linda (Lihle Dhlomo), wat nou in Kanada woon en haar verloofde (Morné du Toit van Ek Joke Net) saambring. Van die begin af is dit egter duidelik dat elkeen geheime het wat gaan uitkom.

Rozanne Els van Die Burger gee dit net een ster. Sy voel die fliek “besit nie ’n greintjie oorspronklikheid nie. Dit is inderwaarheid ’n kombinasie van die Amerikaanse prente The Best Man (1999) en sy vervolg, The Best Man Holiday (2013) – net oorgedoen in ’n lawwe Afrika-konteks wat met ’n patetiese draaiboek en wisselvallige toneelspel deur 100 minute strompel totdat dit genadiglik verby is.” Steyn gee dit twee sterre en sê hoewel hy waardeer wat die filmmakers probeer doen, is hy teleurgesteld oor die seksisme, veral van die karakter Njabulo, wat byvoorbeeld onder ’n skoonmaker op ’n leer se rok opkyk en haar op die boud klap. “Between Friends het positiewe eienskappe, maar sukkel om meer te wees as net ’n lang episode van ’n sepie,” skryf hy.

Die omstrede regisseur Roman Polanski (Rosemary’s Baby, Macbeth) se nuutste film, Venus in Fur (16TN), is soos sy vorige poging, Carnage (2011), gegrond op ’n toneelstuk. In Parys sukkel teaterregisseur Thomas (Mathieu Amalric van Quantum of Solace) om die perfekte aktrise te kry om die hoofrol te vertolk in sy verwerking van die berugte erotiese roman Venus in Fur. Daarin stem die heldin in dat haar minnaar haar soos ’n slaaf behandel. Dan stap Vanda (Emmanuelle Seigner van The Diving Bell and the Butterfly) by die teater in en begin ’n spel tussen hulle oor wie nou eintlik die dominante figuur is.

Die meeste resensente is vreeslik beïndruk met die fliek. Dit kry 91 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “uitlokkend, snaaks en met briljante toneelspel. Venus in Fur bewys Roman Polanski is steeds op sy stukke”. Jamie Graham van Total Film gee dit vier sterre en sê dis “teatraal dog fassinerend”. Steven Rea van die Philadelphia Inquirer gee dit vier uit vier sterre en beskryf dit as “ondeund slim en ondeund speels. Roman Polanski se verwerking van David Ives se verhoogstuk werk op soveel vlakke dat dit jou amper dronkslaan.”

Die plaaslike Christelike drama Born to Win (10-12OT) is gegrond op die ware verhaal van Leon Terblanche (Greg Kriek). Hy het moeilike kinderjare gehad en vra homself af waar God is. Die regisseur is Frans Cronjé, wat ook Faith like Potatoes (2006) en Hansie (2008) vervaardig het. Daar was geen voorskou vir die media nie, so geen resensies of verdere inligting is beskikbaar nie.

- Sandra Visser