Die fliek om te sien hierdie week is Gravity (7-9OT). Dit is deur die regisseur, Alfonso Cuarón (Children of Men), gemaak. Die Oscar-wenners Sandra Bullock en George Clooney speel ruimtevaarders wat op ’n roetine-ruimte-inspeksie is toe die ondenkbare gebeur: Hul ruimtetuig word vernietig en hulle word in die ruimte agtergelaat terwyl hul suurstofvlakke aan die daal is.

Die fliek het uit omtrent elke oord goeie resensies ontvang: Die fliekresensiewebtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het dit 98 en 96 persent onderskeidelik gegee, en eersgenoemde het dit beskryf as “’n vreemde, spanningvolle wetenskapsfiksieriller waarvan die regie meesterlik is en die beelde ongelooflik mooi”. Todd McCarthy van The Hollywood Reporter het die film geprys: “Dit is terselfdertyd die mees realistiese film met die mooiste choreografie nog wat in die ruimte afspeel. Gravity is ’n opwindende oorlewingstorie wat gerealiseer word met tonele van asemrowende spanning en verrassende skok.” Ian Nathan van die Britse filmtydskrif Empire het dit vyf sterre gegee en dit die film van die jaar genoem.

Twee biografiese flieks begin ook dié week, maar nie een het juis goeie resensies ontvang nie. Oliver Hirschbiegel, die regisseur van die bekroonde Hitler-fliek Downfall (2004), is weer agter die kamera vir Diana (10-12OT), waarin Naomi Watts (The Impossible) die rol van die prinses van Wallis speel. Die fliek vertel die storie van die laaste twee jaar van haar lewe en die klem val op haar geheime verhouding met die Pakistanse hartchirurg dr. Hasnat Khan (Naveen Andrews van die TV-reeks Lost).

Gegewe die talent betrokke by hierdie fliek, is dit skokkend hoe sleg dit blykbaar is. Byna almal het dit slegte resensies gegee – dit het 23 persent op Metacritic en ’n gemiddeld van 3 uit 10 op Rotten Tomatoes gekry. Die Britse tydskrifte Empire en Britse Total Film het dit albei een ster gegee, en laasgenoemde se Kate Stables het geskryf: “Geskiedenis kry die volle Mills & Boon-behandeling in hierdie ontsettende lomp fiksieweergawe.” Angie Errigo van Empire het saamgestem: “Erger en goedkoper as wat ’n mens jou kon voorstel. Dit sal gou vergeet word en waarskynlik net op die True Movies-kanaal verskyn.”

Ashton Kutcher kry ’n geleentheid om sy akteursvernuf te wys in Jobs (10-12OT), waarin hy die rol van die baanbreker-Apple-stigter Steve Jobs speel. Eerder as om te fokus op ’n spesifieke tyd, soos in die Diana-fliek, gee hierdie fliek ’n oorsig van Jobs se lewe vandat hy besluit om op te hou studeer tot hy opslae maak as ’n tegno-held.

Die fliek het darem beter terugvoer gekry as Diana, maar opinies was steeds gemeng. Metacritic het dit 44 persent gegee en Rotten Tomatoes het dit 26 persent gegee. Laasgenoemde beskryf dit as “’n ambisieuse maar oppervlakkige weergawe van ’n invloedryke, komplekse figuur wat dikwels die gevoel van ’n oorsentimentele gemaak-vir-TV-fliek het.” Justin Lowe van The Hollywood Reporter het geskryf: “Die filmmakers het in die lokval van sentiment verval deur ’n openbare figuur wat ’n groot kulturele betekenis inhou, soetsappig te maak. Terselfdertyd hou hulle die fliek innemend.”

’n Hele paar resensente was darem beïndruk met Kutcher se spel. Michael A. Smith van Mediamikes.com het geskryf: “Kutcher lyk opmerklik baie soos Jobs en kry dit reg om ’n geloofwaardige weergawe van hom uit te beeld.” Louise Keller van Urbancinefile.com.au vind “Kutcher is verbasend goed – soms ’n bietjie te gemaniëreerd – maar hy lewer die kern van die man.”

Om een hoekie van The Hunger Games se liefdesdriehoek (en Miley Cyrus se eks-verloofde) te wees het die Australiese akteur Liam Hemsworth bekend gemaak, maar hy moet hom nog bewys buite dié lokkettreffer. Hy speel die hoofrol in Paranoia (10-12OTG), ’n korporatiewe riller oor die intreevlak-werknemer Adam Cassidy, wat ná hy ’n duur fout maak deur sy maatskappy se uitvoerende hoof, Nicholas Wyatt (Gary Oldman van The Dark Knight Rises), gedwing word om op Wyatt se voormalige mentor, Jock Goddard (Harrison Ford), te spioeneer. Adam infiltreer Goddard se maatskappy, beïndruk hom met nuwe sagteware en beweeg vinnig op in rang, maar hy word vasgevang as ’n pion in Wyatt en Goddard se speletjie. Hy besef hy sal moet uitkom, want sy lewe is op die spel.

Ongelukkig vir almal betrokke by die film het dit meestal negatiewe resensies ontvang, met 32 persent en vier persent onderskeidelik by Metacritic en Rotten Tomatoes. By laasgenoemde was die algemene gevoel dat Paranoia “vol clichés en onoorspronklik is, ’n gemiddelde techno-riller met onverskillige rolspel en ’n tekort aan opwinding”. Andrea Gronvall van Chicagoreader.com het nie van Hemsworth se spel gehou nie en skryf “in ’n fliek oor ’n generasie wat honger is om die ouer garde omver te werp, word Hemsworth heeltemal oordonder deur sy medesterre, veterane in die bedryf wat meer regkry deur hul tande te wys as wat hy doen deur sy spiere te bult”. Arizona Republic se resensent Barbara VanDenburgh se opinie was dat “Paranoia ’n riller is, maar daar is niks wat enigsins ’n gril veroorsaak nie. Dis ’n gladde, uitgerekte en vervelige fliek wat omtrent so opwindend is soos om te kyk hoe iemand sit en boodskappe tik.”

Sandra Visser