In The Wolf of Wall Street (16 TSND) werk die bekroonde regisseur Martin Scorsese en talentvolle akteur Leonardo DiCaprio die vyfde keer saam. Dis gegrond op die memoires van Jordan Belfort, ’n korrupte New Yorkse aandelemakelaar wat in die 90’s grootskaalse bedrog gepleeg het.

Sommige resensente het die rolprent gekritiseer omdat dit oënskynlik dwelmmisbruik en gierigheid ophemel. Tog sê Martin in ’n onderhoud met Deadline ter verdediging van sy rolprent: Die karakters se swak moraliteit weerspieël die huidige sakekultuur in die VSA. “Die waardes handel nou net oor wat geldmaak,” sê hy. Hy beeld nie Jordan en sy makkers se straf of die lesse wat hulle geleer het uit nie, want “ek wou nie hê die gehoor moet dink die probleem is opgelos, en daarvan vergeet nie”.

Die meeste resensente het positief op die rolprent gereageer: Op die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes het dit 76 persent gekry. Christopher Orr van die tydskrif The Atlantic noem dit ’n “manjifieke swart komedie – vinnig, snaaks en vuil”. Die tydskrif Empire se Damon Wise het dit vier sterre gegee en beskryf dit as “Martin Scorsese se snaaksste rolprent met die meeste fokus in ’n lang tyd, ’n pikswart komedie wat geweek is in seks en dwelms, met ’n bravura vertoning van DiCaprio”.

Die akteur Joseph Gordon-Levitt (The Dark Knight Rises) maak sy debuut as ’n regisseur met Don Jon (16 TNS). Hy vertolk daarin die rol van ’n man van New Jersey wat homself beskou as ’n moderne weergawe van die legendariese minnaar Don Juan. Hoewel hy seks kan hê met enige meisie wat hy wil, kyk Jon liewer pornografie. Geen seksuele ervaring kan vergelyk met die fantasie wat hy op die skerm sien nie. Toe hy die pragtige Barbara (Scarlett Johansson) ontmoet, probeer Jon aan haar getrou bly. Tog kan hy nie sy verslawing beheer nie. Hy kan ook nie voldoen aan Barbara se onrealistiese verwagting van verhoudings weens haar beheptheid met romantiese komedies nie.

Die rolprent het meestal goeie resensies gekry, met 66 uit 100 op die resensiewebtuiste Metacritic. Baie resensente, onder wie Empire se Dan Jolin, was beïndruk met Joseph se “indrukwekkende selfvertroue as ’n regisseur”. Matt Glasby van Total Film het dit vier sterre gegee en noem dit “slim, gevat en meer as net effens melankolies”.

– Sandra Visser