Die groot nuus is dat die langverwagte opvolg The Hunger Games: Catching Fire (10-12OT) nou vertoon word. ’n Toekomstige Amerika is verdeel in 12 distrikte, regeer deur die Capitol se ystervuis. Elke jaar moet elke distrik ’n tienermeisie en -seun na die Capitol stuur wat deelneem aan ’n veg tot die dood, wat op TV uitgesaai word.

In die eerste prent het Katniss (Jennifer Lawrence) haar en haar medeafgevaardigde van die 12de distrik, Peeta (Josh Hutcherson), gered. Dit het gelei tot ’n opstand onder die distrikte. Om die opstand te onderdruk en Katniss en Peeta se dood te verseker bepaal pres. Snow (Donald Sutherland) dat die vorige wenners van die Hunger Games aan die volgende een moet deelneem. Katniss en Peeta is terug in die arena.

Die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes het dit 90 persent gegee en sê die fliek is slim, goed geredigeer en verryk met ’n dieper ondersoek van die franchise se temas wat jou laat nadink. Empire se Ian Nathan gee dit vier sterre en sê “Hierdie tweede, donkerder ronde is meer selfversekerd en is so opwindend dat jy net sal oorgee en meegevoer word.” Baie resensente het Jennifer Lawrence geloof, soos David Kaplan van Kaplanvskaplan.com, wat skryf: “Lawrence straal ’n kombinasie van lewendigheid, selfvertroue en skoonheid uit. Geen huidige jong aktrise sal haar dit kan nadoen nie.”

Die regisseur van The Kids Are All Right, Nicole Holofcener, behartig ook die regie van die komiese drama Enough Said (10GSD). Dit handel oor Eva (Julia Louis-Dreyfus) wat ’n verhouding aanknoop met Albert (James Gandolfini). Sy maak ook ’n nuwe vriendin, Marianne (Catherine Keener), wat gedurig haar eks slegsê. Als vlot, tot Eva besef Albert is Marianne se eks.

Baie resensente reken dis Nicole se beste rolprent. Dit het 95 persent op Rotten Tomatoes gekry, wat dit beskryf as ’n “sjarmante, bittersoet rolprent met goeie spel”. Empire se Ian Freer gee dit vier sterre en noem dit “skerp, snaaks, warm en volwasse”.

In Detachment (16T) is Adrien Brody ’n gekwelde aflosonderwyser wat aangestel word om Engels in ’n binnestedelike skool te gee. Hy het voorheen vertrek voor hy ’n emosionele band kon vorm, maar hierdie keer kan hy nie help om emosioneel betrokke te raak by sommige van die leerders en personeel nie.

Die meeste resensente het die rolprent beskryf as neerdrukkend en troosteloos. Dit het 65 persent op Rotten Tomatoes gekry, wat skryf: “Detachment se hart sit op die regte plek, maar op die ou eind bied dit geen oplossings vir sy hartstogtelike gejammer nie.” Die Britse rolprenttydskrif Total Film se Neil Smith gee dit twee sterre en noem dit “neerdrukkend en onverbiddelik bedruk”.

Die ster van Bridesmaid Kristen Wiig vertolk die titelrol in Imogene (10-12OT T), ook bekend as Girl Most Likely. Dis ’n komiese drama oor ’n sukkelende New Yorkse dramaturg wat maak asof sy haar lewe neem sodat haar eks haar sal jammer kry nadat hy haar gelos het. Pleks hiervan beland sy in die sorg van haar dobbelverslaafde ma (Annette Bening) en moet terugkeer na haar tuisdorp in New Jersey.

Dis meestal swak ontvang. Rotten Tomatoes gee dit net 20 persent en sê dis oorheersend onnosel en teleurstellend vervelig. Empire se Olly Richards gee dit twee sterre en beskryf dit as “’n dun sop van flou grappies en aangeplakte drama”.

’n Baie jong gehoor sal dalk hou van Justin and the Knights of Valour (OT G), ’n tekenprent gemaak deur Spanje se Kandor Graphics oor die avonture van ’n seuntjie, Justin (Freddie Highmore se stem), wat in ’n land woon waar ridders verbode is. Maar Justin wil in die voetspore volg van sy oupa, sir Roland, en ’n ridder word. Hy onderneem ’n soektog na sir Roland se verlore swaard.

Die rolprent is nog nie wyd geresenseer nie, maar tot dusver hou resensente nie daarvan nie. Empire en Total Film gee dit net een ster. Empire se Andrew Osmond beskryf dit as oor die algemeen aaklig en onder standaard, en Total Film se Neil Smith sê dis ontstellend vervelig wat animasie, stemwerk en storie betref.

-   Sandra Visser