Dis tyd vir nog ’n zombie-apokalips met World War Z (13G), maar danksy sy groot begroting is die aksie nie beperk tot ’n klein dorpie met ’n paar oorlewendes nie. Die rolprent poog om te wys hoe ’n wêreldwye aanval deur die ondooies kan lyk. Brad Pitt vertolk die rol van ’n VN-werker wat sy gesin ná die uitbreek van ’n zombieplaag probeer beskerm terwyl hy ook na ’n kuur daarvoor soek.

Die rolprent het meestal positiewe resensies gekry. Die resensie-webtuiste Rotten Tomatoes het dit 67 persent gegee en die konsensus was “hoewel dit onegalig is en afwyk van die boek waarop dit gegrond is, bring World War Z nogtans slim, vinnige aksie en ’n soliede vertoning deur Pitt na die zombiegenre”. Die kritikus Eric D. Snider, wat sy eie blad het, het dit opgesom met: “As jy ’n dors het na zombieflieks, sal hierdie een dit les, maar dis nie enigiets wat jy nog nie tevore gesien het nie.’’

Aanhangers van Wedding Crashers (2005) kan uitsien na Owen Wilson en Vince Vaughn wat weer in The Internship (13L) saamspan. Hulle is twee middeljarige horlosieverkoopsmanne wat verlore is toe hulle hul werk verloor. Hul gladde monde kry vir hulle ’n gesogte internskap by Google en hulle moet meeding met ’n groep tegnologieboffins wat die helfte so oud soos hulle is om te wys hulle is nog nie oor die muur nie.

Die fliek het meestal negatiewe reaksie gekry en Rotten Tomatoes het dit 36 persent gegee, met die konsensus: “The Internship kniehalter Vaughn en Wilson se komiese charisma met ’n geykte draaiboek en opgestopte looptyd, wat swaar steun op die sterre se gemaklike samespel.’’ Die tydskrif Total Film se Ken McIntyre was meer positief en het dit drie sterre gegee en geskryf dat, “ten spyte van die oordrewe onbeholpenheid van sy hoofrolspelers, die rolprent ook ’n nugter ondertoon het van egtheid onder die snaaksigheid’’.

Ná Lions for Lambs (2007) is Robert Redford weer die regisseur en ster in nog ’n politieke riller, The Company You Keep (13T). Die veteraan-akteur speel ’n voormalige lid van ’n revolusionêre militante groep wat, nadat hy jare lank weggekruip het, moet vlug nadat ’n joernalis (Shia LaBeouf van Transformers) sy identiteit onthul het.

Hierdie rolprent het gemengde reaksie ontlok: Dit het 57 persent by die resensieblad Metacritic en 56 persent op Rotten Tomatoes gekry, waar dit “ ’n frustrerend stadige riller’’ genoem is. Total Film se Kate Stables het dit drie sterre gegee en beskryf as “goed gemaak, met goeie intensies, maar ook nogal goed vervelig’’.

Daar’s uiteindelik ’n nuwe romkom vir kanniedood-aanhangers van hierdie genre. I Give It a Year (16TNS) het Rafe Spall (Life of Pi) en Rose Byrne (Bridesmaids) as Josh en Nat, ’n Britse paartjie wat trou nadat hulle mekaar net ’n paar maande ken en gou besef dis nie so ’n goeie idee om mekaar ná die troue te leer ken nie. Toe Josh se vorige meisie (Anna Faris van The House Bunny) terugkom in sy lewe en Nat vir ’n gladde Amerikaanse kliënt (Simon Baker van The Mentalist) begin werk, wonder hulle: Is dit waar dat dit makliker raak as jy eers deur die eerste jaar is?

Die rolprent het gemengde resensies gekry. Metacritic het dit 56 persent gegee, terwyl die tydskrifte Total Film en Empire albei drie sterre daaraan toegeken het. Empire se Olly Richards het dit opgesom met: “Die grappies is goed en word gelewer deur ’n baie talentvolle rolverdeling, maar die hart is nie daarin nie. Dis maklik om te lag, maar moeilik om om te gee.’’

Vanjaar se Oscar-wenner vir beste buitelandse rolprent het uiteindelik SA skerms bereik. Amour (13), wie se regisseur die vermaarde Oostenrykse rolprentmaker Michael Haneke, bekend vir sy treffende, verontrustende werke soos The White Ribbon (2009) en Funny Games (1997), is, vertel die verhaal van die getroude Franse musiekonderwysers Georges (Jean-Louis Trintignant) en Anne (Emmanuelle Riva, wat op 85 die oudste Oscar-benoemde vir beste aktrise is) in hul 80’s wat hul grootste uitdaging nog moet trotseer toe Anne simptome van demensie toon.

Die rolprent het omtrént universele lof ingeoes: Dit het 94 persent op Rotten Tomatoes en Metacritic gekry en Total Film en Empire het dit albei vyf sterre gegee. Rotten Tomatoes het die “uitmuntende spel en ’n onverskrokke draaiboek” geloof en dit “ ’n eerlike, hartverskeurende uitbeelding van diep liefde en verantwoordelikheid’’ genoem. Empire se David Hughes het geskryf: “Haneke se Palme D’Or-wenner (by die Cannes-rolprentfees) is ongemaklik, ongenaakbaar, onwrikbaar . . . en heeltemal onmisbaar. Die ouderdom is dalk nie ’n werklikheid waardeur jy in die gesig gestaar wil word nie, maar jy moet hierdie rolprent sien.’’

D-Day (ouderdomsperk nog nie beskikbaar nie) is ’n Hindi-misdaadriller oor ’n offisier in die Indiese gewapende magte (Arjun Rampal), ’n plofstofdeskundige (Huma Qureshi) en ’n dief (Akash Dhaiya) van die strate van Moembai wat gewerf word om Pakistan te infiltreer, ’n agent (Irfan Khan) te vind wat nege jaar tevore soontoe gestuur is en hom te help om sy missie, om die mees gesoekte man in Indië terug te bring, uit te voer.

Taran Ardash van Bollywoodhungama.com het die rolprent vier sterre gegee en dit ’n “goed gemaakte, hoë-oktaan-riller met ’n verstommende einde’’ genoem.

Sandra Visser