Ná die suksesvolle eerste fliek is Spud Milton en sy troepe terug in Spud 2: The Madness Continues (10-12O DSG), wat op John van de Ruit se gelyknamige boek gegrond is. Dis 1991 en Spud (Troye Sivan) is nou in sy tweede jaar by die privaat kosskool in Natal. Puberteit ontduik hom steeds en sy lewe word op sy kop gekeer toe sy ma (Julie Summers) besluit hulle moet na Engeland emigreer. Boonop is die Crazy 8, soos Spud en die ouens in sy koshuiskamer bekendstaan, gewikkel in ’n stryd met hul huisvader: Mnr. Wilson, ook bekend as Sparerib (Jason Cope), wil sorg dat hulle geskors word. Al die oorspronklike akteurs is terug, onder wie John Cleese as The Guv, asook die regisseur van die eerste fliek, Donovan Marsh. Rozanne Els van Die Burger het die fliek drie sterre gegee en gesê dis net so vermaaklik soos die eerste een, hoewel dit effe meer gewaagd is. Sy het ook die akteurs, veral Sivan, geloof en gesê sy kan nie wag vir die derde fliek nie.

Monsters University (O) is ’n voorvolg op een van die animasiemaatskappy Pixar se geliefdste flieks, Monsters, Inc. (2001). Hoewel hulle nou beste pelle is, was die monsters Mike (stemwerk deur Billy Crystal) en Sulley (John Goodman) nie altyd sulke goeie vriende nie. Die fliek gaan oor hul universiteitsdae, toe hulle meegeding het vir die titel as die vreesaanjaendste monster en mekaar nie kon verdra nie. Die fliek het 77 persent op die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes gekry en daar is geskryf dit “bereik nie heeltemal die hoogtes van Pixar se beste pogings nie, maar Monsters University is steeds snaakse en slim gesinsvermaak vir enige ouderdom”.

Die hoogs aangeskrewe, enigmatiese Amerikaanse regisseur Terrence Malick, wat van 1973 tot 2005 slegs vier flieks gemaak het, was die afgelope ruk ’n bietjie bedrywiger. Ná The New World (2005) het hy ook The Tree of Life (2011) en To the Wonder (13SN) gemaak, maar dis sy eerste fliek wat heeltemal in die hedendaagse samelewing afspeel.

’n Amerikaanse man, Neil (Ben Affleck), en Franse vrou, Marina (Olga Kurylenko van Quantum of Solace), raak verlief in Parys, trou en trek na Oklahoma in Amerika. Toe hul verhouding begin verbrokkel, vind Neil troos in die arms van ’n ou vriendin (Rachel McAdams van The Notebook) en Marina bevriend ’n priester (Javier Bardem van Skyfall) wat worstel met sy roeping.

Die fliek het gemengde reaksie ontlok. Rotten Tomatoes het dit net 42 persent gegee en gesê dit “demonstreer Malick se gawe vir mooi tonele, maar die storielyn is te swartgallig en emosioneel onbevredigend”. Ian Freer van die tydskrif Empire het dit weer vier sterre gegee en geskryf hoewel dit “minder ambisieus is as The Tree Of Life, bly To the Wonder 100 persent pure Malick. ’n Boeiende en roerende blik op die dinge wat saak maak.”

Raanjhanaa (ouderdomsbeperking nog nie beskikbaar) is ’n Hindi-romanse oor onbeantwoorde liefde. Dis die Tamil-akteur Dhanush se eerste Bollywood-fliek en die Oscar-bekroonde A.R. Rahman (Slumdog Millionaire) sorg vir die musiek. Die fliek het grootliks positiewe reaksie ontlok. Meena Iyer van The Times of India gee dit 3,5 sterre en beskryf dit as “ ’n liefdesverhaal met ’n tikkie Shakespeare wat op ’n epiese skaal afspeel”, maar waarsku “jy gaan dalk nie hiervan hou as jy nie peinsende liefdesverhale kan verduur nie”. Subhash K. Jha van Worldsnap.com gee die fliek 4,5 sterre en sê dis “merkwaardig, voortreflik en lewendig”.

- Sandra Visser