Sandra Bullock keer terug na wat sy die beste doen in The Heat (16DTG), ’n makker-aksiekomedie met ’n kinkel: Die makkers is vroue. Daarin span die Oscar-bekroonde aktrise saam met die komediester van die oomblik, Melissa McCarthy (Bridesmaids). Sandra speel die gespanne FBI-agent Sarah Ashburn en Melissa die vuilbek Bostonse polisievrou Shannon Mullins. Die twee moet saamwerk om ’n dwelmbaas vas te trek. Eers kom hulle glad nie oor die weg nie, maar namate die ondersoek vorder, vorm hulle ’n band. Twee seksistiese manlike agente is ook op die dwelmbaas se spoor. Kan Ashburn en Mullins hom eerste vang?

Die rolprent het meestal gunstige resensies gekry. Op die webtuiste Rotten Tomatoes het dit 65 persent gekry en word gesê dis “voorspelbaar, maar McCarthy is betroubaar snaaks en Bullock ’n bekwame teëhanger”. Anna Smith van die tydskrif Empire het dit drie sterre gegee en gesê dis soos “Miss Congeniality wat met Bridesmaids se Megan saamspan. Die growwer grappe sal nie in almal se smaak val nie, maar McCarthy en Bullock se vonk help die krake toestop, en daar is genoeg situasiekomedie om te vermaak.”

Die regisseur Michael Bay, die meester van groot, luidrugtige lokettreffers soos Transformers (2007) en Bad Boys (1995),skaal af met Pain & Gain (16DTSG), ’n donker komedie wat op ’n ware verhaal gegrond is. Dwayne “The Rock” Johnson en Mark Wahlberg vertolk die hoofrolle as twee platsak, onnosel liggaamsbouers wat bitter graag die Amerikaanse droom wil leef. Hulle bedink ’n plan om ’n smerige miljoenêr van Miami (Tony Shalhoub van Monk-faam) te ontvoer en natuurlik begin dinge kort voor lank skeefloop.

Die rolprent kry grootliks gemengde resensies: Op Rotten Tomatoes het dit maar 46 persent gekry en op die webtuiste Metacritic 44 persent. Op Rotten Tomatoes is die konsensus “dit is dalk sy diepsinnigste rolprent nog, maar Bay se Pain & Gain verloor op die ou end sy satiriese kant in ’n gestileerde maalkolk van gewelddadige skouspel”.

Die tydskrifte Empire en Total Film was meer positief: Albei het dit drie sterre gegee. Mark Dinning van Empire het die rolverdeling geloof en geskryf hulle “omarm die groteskery met bultende spiere” en speel die “stommerike met vreugdevolle vernuf”. James Mottram van Total Film het opgemerk: “Soos al Bay se werk is dit oordadig, luidrugtig en uitputtend om te kyk. Maar soos die lewenstyl waarna sy karakters strewe, is daar ook ’n aanloklikheid.”

The Reluctant Fundamentalist (13TVGS) is op Mohsin Hamid se blitsverkoperroman van 2007 gegrond en handel oor rassisme in Amerika ná 9/11. Changez Khan (Riz Ahmed), ’n jong gegradueerde van Princeton wat in Pakistan gebore is, begin met ’n belowende loopbaan op Wall Street toe 9/11 sy lewe omverwerp. Hy keer as ’n lektor na sy geboorteland terug en sy beweerde bande met ’n terreurorganisasie plaas ’n Amerikaanse joernalis (Liev Schreiber van Ray Donovan-faam) op sy spoor.

Die rolprent het gemengde resensies ontlok. Op Rotten Tomatoes het dit 54 persent gekry en was die algemene mening hoewel dit “tegnies gevorderd is met knap toneelspel en rolprentkuns, is die boodskap so ambisieus en lomp dat van die trefkrag verlore gaan”. Total Film en Empire is weer positiewer en al twee gee dit drie sterre. Eric D. Snider van About.com het geskryf die rolprent is “redelik diepsinnige, taamlik boeiende materiaal wat netelige kwessies aanroer. Dit is dalk ’n dryfveer vir intelligente gesprek, wat meer is as wat jy van die meeste flieks kan sê.”

Madras Cafe (die ouderdomsperk moet nog bekendgemaak word) is ’n Indiese politieke riller wat in die laat 80s en vroeë 90s afspeel, in die tyd van die burgeroorlog in Sri Lanka. Kort nadat die Indiese vredesmag verplig is om uit Sri Lanka te onttrek, word ’n spesiale offisier van die Indiese weermag (John Abraham) aangestel om geheime sendings in die land uit te voer. Terwyl hy na Sri Lanka reis met die doel om ’n rebellegroep te ontwrig, ontmoet hy ’n Britse joernalis (Nargis Fakhri). Dié wil die waarheid oor die burgeroorlog ontbloot en saam vlek hulle ’n sameswering oop.

Die rolprent het omstredenheid veroorsaak, want party kritici het gemeen dit beeld die Sri Lankaanse rebelle as terroriste uit; daarom is dit is nie in sekere dele van Indië vertoon nie. Srijana Mitra Das van The Times of India het dit vier sterre gegee en die fliek se vervaardigers geprys dat hulle “dapper ’n terrein betree het waaraan Bollywood nog nie geraak het nie”. Hy het ook gewaarsku: “As jy van tipiese Hindi masala [Bollywood]-rolprente met onrealistiese aksie of melodrama hou, is die fliek nie vir jou nie.” Divya Solgama van www.MoviezADDA.com het dit vier sterre gegee en beskryf as ’n goeie politieke riller wat rolprentmakers sal aanspoor om taboe onderwerpe te verken.

Sandra Visser