Khumba (OG) is die tweede fliek van die Suid-Afrikaanse animasie-ateljee Triggerfish en gaan oor ’n jong sebra, Khumba (stemwerk deur Jake T Austin van Hotel for Dogs), wie se bygelowige trop hom verwerp en blameer vir ’n droogte omdat hy met net die helfte van sy strepe gebore is. Hy raak vriende met ’n wildebees (Loretta Devine van Jumping the Broom) en ’n flambojante volstruis (Richard E Grant van Withnail and I) en hulle reis deur die Karoo op soek na die watergat waar die eeste sebras hul strepe gekry het.

Laetitia Pople van Die Burger het die fliek vier sterre gegee en gesê dit pols met lewe en elke karakter is werklik ’n karakter sonder om te oulikies te wees. Sy het geskryf: “Dis ’n unieke, gehalteproduk wat so gewortel is in Suid-Afrika en die groter vasteland, jy ervaar nie eens ’n sweempie van die Hollywood-siening van Afrika nie.” Terri Dunbar-Curran van die Cape Times het dit drie sterre gegee en gesê hoewel dit “spesifiek op kinders gemik is, sal  Khumba sorg vir ’n paar lagbuie onder volwassenes”. Albei resensente het die pragtige uitbeelding van die Karoo geloof.

Sy Fast & Furious-fliekreeks gaan van krag tot krag en Vin Diesel probeer nou nuwe lewe  in sy ander fliekreeks blaas. Riddick (16TNG) is die derde opvolg op Pitch Black (2000), die aangrypende wetenskapfiksieriller wat hom beroemd gemaak het. Ongelukkig het pogings om die opvolg,  The Chronicles of Riddick (2004), in ’n ruimteverhaal te omskep misluk en Diesel en die regisseur David Twohy keer terug na die basies met die derde probeerslag. Die berugte huursoldaat Riddick (Diesel) is weereens gestrand op ’n onherbergsame planeet waar hy teen monsters moet baklei. Om weg te kom, aktiveer hy ’n noodbaken wat twee spanne jagters na die planeet bring en ’n dodelike kat-en-muis-speletjie volg.

Die fliek het gemengde reaksie ontlok. Die resensie-webtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 60 en 49 persent gegee. Op eersgenoemde was die algemene mening dat “dit nou wel nie die fliekreeks baie nuwe aanhangers gaan wen nie, maar dat die terugkeer na die basiese vir Riddick-aanhangers meer van die wetenskapfiksie-aksie bied wat hulle verwag”. Die Britse fliektydskrif Empire se Chris Hewitt het dit drie sterre gegee en Diesel se vermoë gerpys om die kyker se aandag te behou en dit beskryf as “te langdradig”, maar nietemin ’n goeie terugkeer vir die akteur”. Nog ’n Britse fliektydskrif, Total Film, se Kevin Harley was minder beïndruk. Hy het dit twee sterre gegee en geskryf dit is “te flou vir B-fliek spanning, te laf om te skok en te seksisties om te verduur.”

Die Britse skrywer/regisseur Richard Curtis, bekend vir sy slim en oulike romkoms soos Four Weddings and a Funeral (1994) en Notting Hill (1999), is weer in die regisseurstoel vir ’n romantiese verhaal, dié keer met ’n wetenskapfiksie kinkel. About Time (13T) gaan oor Tim (Domhnall Gleeson, Bill Weasley in Harry Potter), wat op 21 uitvind hy het die mag om deur tyd reis by sy pa (Bill Nighy van Love Actually) geërf. Tim kan nie die verlede verander nie, maar hy kan terugkeer in tyd en sy eie lewe verander en wanneer hy die oulike Mary (The Notebook se Rachel McAdams) ontmoet, gebruik hy sy mag om hul lewe perfek te maak. Maar Tim vind later uit nie eens tydreis kan jou teen hartseer beskerm nie.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar Empire se Mark Dinning het dit vier sterre gegee en dit beskryf as “meer as net ’n romkom oor tydreise. Dis ’n fliek wat jou laat dink en nie so baie van die antwoorde word met ’n suikerlagie bedek as wat jy sou verwag nie. Slim en oulik, snaaks en opreg hartroerend. Hou maar die snesies byderhand.” Total Film se Matt Maytum het dit drie sterre gegee en gesê dit het “meer siel en bied meer stof tot nadenke” as Curtis se vorige werk. Hy het bygevoeg: “Moenie iets verwag wat jou lewe gaan verander nie, maar dis ’n welkome verandering.”

Die Ballade van Robbie de Wee (13 DTG) is ’n Afrikaanse riller wat gegrond is op ’n kortverhaal deur die Suid-Afrikaanse misdaadskrywer Deon Meyer. Die regisseur is Darrell Roodt (Yesterday, Cry, the Beloved Country) en Neil Sandilands (Bart in 7de Laan) speel die musiekvervaardiger Len van Jaarsveld, wat ’n laagtepunt bereik en dan ’n talentvolle musikant Robbie de Wee (Marno van der Merwe van Pretville) ontmoet. Len beskou Robbie as sy kans om weer naam te maak en maak van hom ’n ster. Maar wanneer ’n jong vrou dood in die sanger se hotelkamer aangetref word, haal Len alles uit om sy ster teen die media en owerhede te beskerm.

Die fliek het uiteenlopende reaksie ontlok. Laetitia Pople het dit net twee sterre gegee en geskryf die kyker besef te vroeg wat die ontknoping is en dat Van der Merwe se oordrewe spel die laaste oomblikke bederf. Die Cape Times se Steyn du Toit het dit op sy beurt vier sterre gegee en geskryf dis ’n “Afrikaanse fliek met hope spanning en drama. Die veelvlakkige storielyn sal tot ’n wye gehoor te spreek en sorg vir ’n opwindende kykervaring en die kyker oor ons kontemporêre samelewing laat dink”.

Battle of the Year (7-9O TG) met Josh Holloway van Lost-faam en die sanger Chris Brown in die hoofrolle is nog ’n dansfliek oor ’n groep dansers wat ’n danskompetisie wil wen. Die storielyn is nie eintlik van belang nie, alles draai om die danspassies.

Die fliek het meestal swak gewaar onder kritici en 29 en slegs vyf persent op Metacritic en Rotten Tomatoes behaal. Laasgenoemde het dit gekritiseer oor die “stroperige storielyn en onopsetlike skreeusnaakse dialoog” en dit beskryf as “oppervlakkig, selfs gemeet aan die standaarde van dansflieks”. Louis Black van die Austin Chronicle het bevind die “danstonele is ’n deurmekaarspul wat die doodskoot vir ’n fliek in dié genre is”.

Sandra Visser