Vandat hy ’n Oscar-benoeming gekry het vir sy rol in Les Misérables (2012), het Hugh Jackman nog net aanhou wys dat hy veel meer kan wees as die strokiesprent-antiheld Wolverine. Nou durf hy nog ’n swaar tema aan met Prisoners (16TG). Jackman speel die rol van ’n voorstedelike pa, Keller Dover, wie se sesjarige dogter en haar beste maatjie ontvoer word. Die polisie, onder leiding van die speurder Loki (Jake Gyllenhaal), neem hul enigste verdagte in hegtenis, Alex Jones (Paul Dano van There Will Be Blood), die bestuurder van ’n motorwoonwa wat vroeër die dag van die ontvoering voor die Dover huis geparkeer was. Maar toe die polisie Alex moet vrylaat weens ’n tekort aan bewyse, neem Keller die reg in eie hande.

Die film het meestal goeie resensies gekry. Die filmresensiewebtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 81 en 74 gegee, en eersgenoemde het dit geprys vir die “emosionele ingewikkeldheid en ’n gevoel van vrees wat dit ’n meevoerende (en ontstellende) fliek maak”. Die Britse fliektydskrif Empire het dit drie sterre gegee, en die resensent Dan Jolin het dit “’n behoorlike, oortuigende, grys, atmosferiese riller met iets te sê oor die oorlog-teen-terrorisme-Amerika” genoem. Emma Dibdin van die Britse fliektydskrif Total Film was selfs meer ingenome. Sy het dit vier sterre gegee en beskryf as “’n pruttende drukkoker van ’n riller, ’n meedoënlose maar emosioneel lonende ervaring wat ondersteun word deur kragtige vertonings, skerp skryfwerk en Denis Villeneuve se seker regie”.

Musiek vir die Agtergrond (7-9OT) is ’n Afrikaanse drama oor die talentvolle, ambisieuse maar sukkelende jong musikant, Paul (John-Henry Opperman van Roepman). Paul besluit om ’n kontrak te teken met ’n grootkop-vervaardiger (Brümilda van Rensburg van Egoli) toe sy meisie (Lizelle de Klerk van Pretville) uitvind sy is swanger. Ongelukkig dwing die fyndruk in sy kontrak hom om die kommersiële popmusiek te maak wat hy beloof het hy nooit sou maak nie. Gaan Paul sy siel verkoop of sal hy getrou aan homself kan bly en nietemin oorleef?

Die gerespekteerde plaaslike resensent Leon van Nierop het die fliek drie sterre gegee. Hy het die regisseur, Sallas de Jager, geprys vir ’n “Afrikaanse fliek oor musiek wat wonderlik vry van clichés, stereotipes en sentimentele liedjies is. De Jager het ’n nuwe standaard geskep vir ’n baie menslike storie wat gesofistikeerd en aangrypend is.” Rochélle Human gee dit vier sterre en sê: “Dis slim, snaaks, mooi en eerlik. Dis ’n lékker fliek.”

As jy in die bui is om ’n bietjie te lag, probeer This Is the End (16TSG), ’n komedie waarin verskeie sterre oordrewe weergawes van hulself speel. Die Kanadese akteur Jay Baruchel (The Sorcerer’s Apprentice) en sy vriend Seth Rogen (Knocked up) woon ’n partytjie in James Franco se spoghuis in Los Angeles by toe die einde van die wêreld aanbreek. Hulle drie, sowel as Craig Robinson (Hot Tub Time Machine), Jonah Hill (Superbad) en Danny McBride (Your Highness), is al oorlewendes en probeer om in die huis weg te kruip terwyl hul voorraad ál minder word en die wêreld om hulle in ’n totale chaos ontaard.

Die fliek het meestal goeie resensies ontvang. Op Rotten Tomatoes het dit 84 persent gekry en die algemene gevoel was dat die “energieke, selfverloënende optredes en grappies maak op vir die losserige skryfwerk in die draaiboek.” Olly Richards van Empire het die fliek drie sterre gegee en dit beskryf as “’n bietjie van alles en soms te ingenome met homself, maar dikwels genoeg plesierig vir almal”. Matt Maytum van Total Film was geesdriftiger en het dit vier sterre gegee. “This Is the End lewer ’n groot bulderlag en ’n grootskaalse chaos met genoeg geesdrif om die foute te verbloem.”

Nes Hugh Jackman probeer die aksiester Jason Statham sy toneelspelvernuf ten toon stel met Redemption (16TG) – uitgereik as Hummingbird in Brittanje. Dié riller handel oor ’n hawelose Britse oorlogsveteraan, Joey (Statham), wat saam met sy vriendin, Isabel (Victoria Bewick), stoei met ’n dwelmverslawing. Toe hulle aangeval word, kry Joey dit reg om te ontsnap toe hy deur ’n ryk man se sondak val, binne-in die luukse, leë woonstel. Hy neem die ryk man se identiteit aan en probeer uitvind wat van Isabel geword het.

Ongelukkig vir Statham was die terugvoer op die fliek baie meer gemeng as dié op Jackman se probeerslag, en Redemption het meestal swak resensies gekry. Rotten Tomatoes het dit 41 persent gegee en die algemene gevoel was dat dit “jou beslis meer laat dink as die gemiddelde Statham-aksieriller, maar Redemption kapitaliseer nie juis op dié uitgangspunt nie en ook nie op sy ster se sterk, toegewyde rolspel nie.” Helen O’Hara van Empire het dit twee sterre gegee en gesê dit is “’n ongemaklike mengsel van realistiese sosiale drama en Statham-aksie, waarvan nie een juis oortuigend is nie.” Die resensent MaryAnn Johanson, wat haar eie webtuiste het, skryf: “Sommige dele is verskriklik histeries, ander is net eenvoudig verskriklik. Maar Statham se poging om ernstig opgeneem te word is ten minste eerlik.”

Die riller The Purge (16G) speel af in Amerika in 2022. Ten einde ’n voortvarende, vreedsame gemeenskap te handhaaf, is enige misdaad een aand per jaar onder die son wettig. Terwyl die ryk voorstedelike paartjie James (Ethan Hawke van Gattaca) en Mary Sandin (Lena Headey van Game of Thrones) hul fortagtige huis beveilig vir die nag, laat hul seun (Max Burkholder) ’n beseerde weermagveteraan (Edwin Hodge) toe om in hul huis te skuil. Gou is daar ’n gemaskerde groep buite die huis wat eis dat die gesin die veteraan uitstuur sodat hulle hom kan doodmaak.

Die fliek het meestal swak resensies gekry. Metacritic en Rotten Tomatoes het dit onderskeidelik 41 en 38 persent gegee. Op laasgenoemde is die fliek beskryf as “half sosiale allegorie, half huis-oorneem-riller wat rillermetodes probeer gebruik om ’n intelligente punt te maak, maar eindelik sink in gevoellose geweld en vervelige clichés.” Empire en Total Film was meer positief en het albei drie sterre gegee. Die voormalige gruwelprentkenner Kim Newman het dit ’n “doeltreffende, huis-beleg-riller, waarin al die truuks van macho aksie uitgeruk word in diens van ’n storie wat sy brood aan albei kante gebotter het, baie opwindende geweld, en dan die uitbeelding van die kernboodskap, dat geweld sleg is.”

Kykers wat lus het vir ’n ernstige drama, sal A Late Quartet (16TS) geniet. Die akteur Christopher Walken, bekend vir sy voorkeur vir unieke karakters in ’n verskeidenheid flieks soos Seven Psychopaths (2012) en Hairspray (2007), speel ’n tjellis wat al 25 jaar lid is van ’n strykkwartet toe Parkinsonsiekte by hom gediagnoseer word. Dit dompel die groep in ’n krisis. Philip Seymour Hoffman (Capote) en Catherine Keener (Being John Malkovich) is ook te sien in dié fliek.

Die film het meestal goeie resensies gekry. Rotten Tomatoes het dit 78 persent gegee en die fliek geprys vir ’n “uitsonderlike rolverdeling wat gewig en diepte aan die melodramatiese draaiboek verleen. Die gevolg is insiggewend en emosioneel bevredigend.” Neil Smith van Total Film het dit vier sterre gegee en geskryf: “Die hoofrolle maak soete musiek in ’n hartroerende vierstuks wat, selfs al is dit nie altyd nootvas nie, elkeen se sterkste punte beklemtoon.”

Rust and Bone (16GS) is ’n Franse, romantiese drama oor ’n swerwer, Alain (Matthias Schoenaerts). Toe Alain in beheer geplaas word van sy jong seun, verlaat hy België om by sy vervreemde suster in die Côte d’Azur in Frankryk in te trek. Hy kry werk as ’n nagklub-uitsmyter waar hy ’n vinnige ontmoeting het met ’n moordwalvis-afrigter, Stephanie (Marion Cotillard van The Dark Knight Rises). Ná ’n gru-ongeluk by Stephanie se werk maak haar familie kontak met Alain en hulle vorm ’n band wat albei verander.

Die fliek het meestal goeie resensies gekry. By Metacritic het dit 73 persent gekry en Empire en Total Film het dit albei vier sterre gegee. Eersgenoemde se Phil de Semlyen het dit beskryf as ’n “kneusende, teer melodrama” en geskryf: “’n Hollywood-weergawe van die storie – Free Willy Meets Nicholas Sparks – is te laf om te oorweeg, maar die regisseur, Jacques Audiard, se onsentimentele benadering verhef die storie.”

Rogue Saints (O) is ’n inspirerende Christelike drama oor twee vriende, Nick (John Wu) en Dylan (Jason Pead), wat dringend geld nodig het. Toe hulle die storie hoor van ’n reuse diamant wat onder ’n kerkgebou is, bied hulle aan om as vrywilligers by die kerk te werk. Hulle beplan om die diamant in die geheim uit te grawe, maar die goedhartigheid van die gemeentelede raak hulle.

Die fliek is nie baie wyd geresenseer deur sekulêre media nie, maar Christelike publikasies het goeie terugvoer gegee. Christian St. John van die Christian Film Guide skryf: “Rogue Saints is iets seldsaams, ’n Christelike komedie wat bulderlag-snaaks is. Met ’n goeie draaiboek en toneelspel het die regisseur, Adam Lubanski, uitstekende werk gedoen om dit alles bymekaar te bring en hy sit ’n produksie van hoë gehalte voor. Dit word hoogs aanbeveel.”

Vanakkam Chennai (O) (“wees gegroet, Chennai”) is ’n romantiese komedie in Tamil. Dit handel oor twee mense van verskillende agtergronde, Ajay (Shiva), van Theni, Suid Indië, en Ajali, (Priya Anand) van Londen, wat verlief raak en die probleme tussen hul families probeer uitstryk. Die fliek word vandag wêreldwyd bekendgestel en is nog nie geresenseer nie.

Sandra Visser