Die mees besproke is die langverwagte biografiese rolprent Mandela: Long Walk to Freedom (10 TVSN). Die Britse akteur Idris Elba vertolk die rol van oudpres. Nelson Mandela in dié kykie na die ikoon se lewe, van sy kinderjare op ’n plattelandse dorpie tot sy inhuldiging as Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president. Die Brit Naomie Harris speel Winnie Madikizela-Mandela. Die res van die rolverdeling bestaan uit plaaslike akteurs, onder wie Riaad Moosa as Ahmed Kathrada, Fana Mokoena as Govan Mbeki en Gys de Villiers as FW de Klerk.

Die rolprent is meesal goed ontvang. Hoewel daar nog nie uitsluitsel op die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes is nie, het dit gemiddeld 70 persent gekry. Baie resensente het Idris se spel geloof. Scott Foundas van Variety skryf: “Ongeag die flieks se tekortkominge, moet ’n mens erken: Elba lewer ’n kragtoer; ’n Mandela vir alle tye.”

As jy lus het vir ’n diepsinnige, realistiese romantiese drama, gaan kyk Before Midnight (16 TN). Dis die derde rolprent in ’n trilogie oor Celine (Julie Delpy) en Jesse (Ethan Hawke). In Before Sunrise (1995) ontmoet hulle mekaar op ’n trein en bring ’n aand saam deur in Wene. In Before Sunset (2004) is dit nege jaar later en hulle loop mekaar raak in Parys. Nou is hulle eindelik bymekaar, en die rolprent wys hulle nege jaar later op die laaste dag van hul vakansie in Griekeland saam met hul kinders. Is hulle nog so stralend gelukkig soos ons hulle in Before Sunset gesien het?

Dié prent is byna strykdeur geloof, en 94 uit 100 op die resensiewebtuiste Metacritic gekry. Empire se Guy Lodge het dit vier sterre gegee. Hy skryf: “Dis effens skerper as sy voorgangers, maar het nie ’n tekort aan hul lighoofdige, informele sjarme nie. Hierdie perfek vertolkte, sagkens indringende rolprent is ’n welkome nuwe hoofstuk in een van die rolprentwese se bekoorlikste voortdurende romanses. Gaan kyk dit saam met iemand wat jy al lank liefhet.”

Leon Schuster se gewilde komiese rolprente is bestand teen kritiek. Sy jongste en glo laaste poetsbakprent is Schuks! Your Country Needs You (7-9 TVG). Schuster en sy makker Alfred Ntombela haal weer hul ou streke uit, maar nou betrek hulle die komediant Rob van Vuuren, en bak selfs die gewese Bok-afrigter Peter de Villiers ’n poets.